Boer kry ‘n vrou

Belangrik: As jy jonger as 18 is of maklik aanstoot neem teen kras woordgebruik of onder die belt verwysings moet jy dalk liefs nie hier lees nie, my opinie en taalgebruik mag dalk aanstoot gee.

My goeie vy… Kyk né, ek glo dat as jy ‘n opinie oor ‘n boek of ‘n rolprent wil hê moet jy die hele boek gelees het of die hele rolprent gekyk het. Kennis is mag en the proof is in the pudding, of hoe?

Practice what you preach. Ek het die laaste drie dae deur ‘n boek geworstel en my tande is deur gekners. Tot op die senuwee deur. NB uitgewers het my verlei en met ‘n, uhm, stywe riem gevang met ‘n slim voorskou in hul nuusbrief, om Jan van Staden se Boer kry ‘n vrou te lees, want “Nog nooit was Afrikaanse fiksie só warm nie. Nog nooit is daar so lekker op papier gevry nie.” Nou kyk, gevry is daar, en gesteek, gestamp en gespyker is daar ook maar ek kan my nie indink hoe ‘n gerekende, gerespekteerde uitgewer soos Tafelberg Uitgewers ‘n boek van so ‘n swak gehalte kan uitgee nie?!

‘n Gevryery, lakendanse, naaktheid, stywe menere en gewillige lywe in ‘n storieboek kan ek hanteer, ek soek dit, ek hou daarvan. Laat ons eerlik wees, dis hoekom ek die boek gekoop het: vir die beloofde sekskepades daarin. Geskrewe liefdestonele of sekstonele (laat ons tog nie die twee verwar nie) was nog altyd vir my ‘n groter turn on as die visuele weergawes daarvan. Wat ek egter nie kan hanteer nie is die swak letterkundige gehalte van die boek. Die boek voel vir my soos ‘n moerse versameling wetdreams wat aanmekaar ge-, uhm, steek is met stukkies storielyn. Spelfoute, lomp sinskonstruksies… Om nie eens te praat van die dialoog nie! Die karakters klink almal dieselfde, hulle praat sulke lang sinne en hulle praat geensins soos mense van hul ouderdom nie (as jy nie geweet het die jongmense is tussen 20 en 30 nie, sou jy wraggies gedink het dis ‘n spul middeljariges en afgetredenes…)

In kort handel die storie oor ‘n jong boer wat ryk geërf het, geseën is met ‘n formidabele meneer wat bykans nooit níe op aandag staan nie en ‘n reputasie wat ‘n paar keer die lengte is van dit wat in sy broek bult. Die liefde ontwyk hom miskien maar nie die dorp en omgewing se ontroue, getroude en ongetroude vroue nie. Almal wil vir Juan toetsbestuur, almal is dan binne sekondes na die eerste orgasme lief vir hom (nie verlief nie, lief) en al die wat nog nie ‘die daad’ gedoen het nie, wil hê dat hy hul eerste moet wees. Dan besluit die perd hy gaan vir Boer soek ‘n vrou inskryf om sy lewe en liefdeslewe in orde te kry terwyl hy steeds al wat gewillig is met graagte vir ‘n joyride vat op sy pienk, uhm, geelslang. Die boek neem die leser op reis saam met Juan in sy soeke na ware liefde.

Ek weet nie veel van die skrywer nie (behalwe vir die inligting op Tafelberg Uitgewers se webtuiste en dat hy al verhale op Litnet gepubliseer het) maar ek weet wel dat om ‘n blog, of stories vir ‘n webtuiste, te skryf en om ‘n boek te skryf twee heeltemal verskillende koppies tee is. Kon die uitgewers hom nie bietjie meer leiding gegee het en ons ‘n bietjie lyding gespaar het nie? Genade griet. Daar is bietjie potensiaal in die storielyn maar ai, die karakters, die arme karakters. Ek het lanklaas so ‘n groot klomp ongeloofwaardige vrouekarakters in een boek teëgekom. Hulle is so behoeftig vir sy aandag en so tevrede om hom te deel. Ek is jammer maar meeste vrouens waarmee ek al te doene gehad het sou nie net met leepoë deur die gordyne loer, met sy reuk nog aan haar lyf, wetend dat hy alweer besig is met die volgende een en maar net okay wees daarmee nie… Aikôna.

Maak geen fout nie, seks kan en is al op die verleidelikste wyse in Afrikaans geskryf. Die bestes maak egter meer staat op suggestie, amper asof die toneel skaam knipoog maar uitlokkend been wys. As seks op papier begin klink soos die regiseursnotas van n bloumovie dan werk dit nie meer vir my nie.

Boer kry ‘n vrou kon met minder soveel meer gewees het.

Groetnis