‘n Poeding in die pekel

Vir weke lank is ek nou al lus vir sagopoeding. Met die konfyt wat bo-op gestip word en die torings eierwit wat goudbruin gerooster word in die oond.

Bestandele word gekoop en resepte vergelyk en ons start die besigheid op. Die sago word bietjie geweek terwyl die melk en ‘n kaneelstokkie solank in die kastrol warm raak. In die volgende stappe word sout bygevoeg, so ook suiker en eiers en botter. ‘n Kastrol vol wit padda-eiers word stelselmatig omgetoor in ‘n geel massa van verleiding en troos.

Die sagopap word in ‘n mooi oondbak gegiet en pof te mooi in die oond terwyl die konfyt reggesit word en die eierwit geklits word tot sagtepiekwolkies. En dit ruik hemels en ons monde water. Die konfyt word opgestip en mooi versprei en daarna volg die eierwit. ‘n Ligte deps met die lepel maak mooi punte bo-op wat binnekort goudbruin sal raak in die oond.

Na wat voel soos ‘n ewigheid is die poeding gereed om die oond te verlaat. Elke poedingbakkie kry ‘n ruim porsie en die lepels word gelaai en effe koud geblaas vir die eerste proeslag. Maar iets is nie reg nie. Iewers het daar ‘n foutjie ingesluip. ‘n Groot foutjie.

Die poeding proe pure pekel.

Daai poeding is so gesout dat die bak sal vergaan voordat daai poeding eendag sal sleg word.

Daai poeding is so gesout dat die stainless steel lepels wil begin roes.

Daai poeding is so gesout dat dit smeek vir ‘n stukkie gebuigde staaldraad sodat dit tussen die biltonge kan gaan hang.

Daar is geen hoop vir hierdie sagopoeding nie. Geen.

My kosmaak-ego is gekrenk. Manlief en my ma lag so vir my blaps dat hulle oë traan. Klaarblyklik lyk my soutpot en suikerpot te veel na mekaar (om nie eens te praat van ‘mamma, mamma!’ aan die een kant en ‘Dalena, Dalena!’ aan die anderkant, plus die ‘liefie!’ uit die tv-kamer nie… geen mens kan behoorlik konsentreer nie…)

Nodeloos om te sê, ek is nogsteeds lus vir sagopoeding, maar nie nou gou weer nie, sal eers my wonde nog bietjie lek voor ek dit weer benader.

 

Groete

Kerrieboontjies

Ek het Maandagaand ‘n inkopiesak vol vars groenboontjies persent gekry, wat toe terstond Dinsdagaand in ‘n kooksel kerrieboontjies verander het. Ek het sommer die Kook en Geniet se resep gebruik maar ek het ‘n bietjie Maizena en ‘n hoogvol lepel borrie bygesit, anders is die bottels mos so ‘n vaal groen…

 

Kerrieboontjies

1 kg groenboontjies, gekerf

500 g uie, gekerf

500 ml water

10 ml sout

250 ml asyn

15 ml koekmeelblom

15 ml maizena

10 ml matige kerriepoeier

hoogvol teelepel borrie

250 ml suiker

 

Kook die eerste 4 bestandele vir 10 minute saam. Meng dan die res van die bestandele en voeg dit by. Kook dan tot die bone so sag is soos jy dit verkies. Gebruik dit warm of bottel in gesteriliseerde flesse.

2015 - 2

2015 - 3.jpg

2015 - 5.jpg

2015 - 6.jpg

Groetnis

Soutbeesvleis

My ouma het altyd, na afloop van die jaarlikse vleiswerkery, ‘n stuk beesvleis gepekel en soutbeesvleis daarvan gemaak. Sommer volgens die resep in die Kook en Geniet. Wanneer dit afgekoel het in die kookvloeistof en verder verkoel is in ‘n tupperware-bakkie in die yskas, is dit, soos benodig, in fyn dun skywe gesny met die elektriese broodmes. Die skywe is dan op vars brood bedien met ‘n titseltjie blatjang, dun skywe tamatie en ‘n strooiseltjie sout en peper, klaar gemeng in ‘n ou Robertsons glas speserypotjie, daai oues met die deksels wat so maklik afbreek.

Hierdie jaar, na afloop van die jaarlikse vleiswerkery, het ek vir die eerste keer self ‘n stuk beesvleis gepekel en soutvleis gekook. Met die Kook en Geniet in die een oog en Ouma se tips in die ander oor. En na die afkoel en die verkoel het ek dit aan Manlief voorgesit saam met die tamatie, die blatjang en die sout en peper. Nou noem Manlief dit ‘Ouma broodjies’ en my hart is gelukkig.

15 - 3

Groetnis

Ken julle van sitroën-/siterkonfyt?

My Ouma aan vaderskant het my laasjaar hierdietyd leer sitroënkonfyt maak. Tot op daardie stadium was ek nie eens bewus van so ‘n vrug nie, wat nog te sê hoe om dit in te lê. Sommige mense verwys daarna as siterkonfyt, ek reken die naam is streekgebonde.

Die sitroën is ‘n sitrusvrug met ‘n dik skil waarvan die buitenste bietjie ‘n donker groen is. Die bietjie sitrusvlees aan die binnekant is om en by so groot soos ‘n gholfbal terwyl die hele vrug wissel tussen die grootte van ‘n mango en ‘n spanspek.

Die konfyt is eintlik ‘n marmalade met ‘n baie subtiele bitterheid. Dit is juis om daardie rede dat dit vir my so smaaklik is. Min mense ken dit en daarom raak my bottels maar stadig minder. My pa se suster vertel my toe van ‘n tertresep in ‘n ou resepteboekie van my ouma. Ek en Ouma sit toe ‘n soektog op tou vir die boek en hoef toe darem nie te ver te soek in haar laaie nie.

photo1

Die resep lees as volg:

photo2

Siter tert

2 koppies siter konfyt
6 eetlepels botter
6 eetlepels suiker
3 eiers saamgeklits
Smelt die botter en suiker saam en roer tot dit dik is (nie te lank kook nie). Haal van die vuur af en voeg by fyngesnyde siterkonfyt en eiers. Laat kook tot die mengsel dik is.
 Kors.
1/2 pond meelblom
1/4 pond botter
1 eiergeel
sap van ‘n 1/2 suurlemoen.
Vryf botter in die meelblom, meng met geklitste eier en suurlemoensap. Druk in ‘n tertbord en bak. Gooi vulsel in afgekoelde kors en versier met room en stukkies siterkonfyt.
 
Die resep sê egter nie hoe lank die kors moet bak en teen watter temperatuur nie so werk maar op gevoel. Moet ook nie so simpel soos ek wees en  die botter effens smelt nie, dit werk dan nie so goed nie. 
 
En viola!
 DSC_2613 DSC_2626 DSC_2630

Somersonskyn ligte vrugtekoek

Ouma Magdalena, my ouma aan moederskant, se skoonsuster het altyd die heerlikste ligte vrugtekoek gebak. Ek was te klein om die details van die resep en die voorkoms daarvan te onthou maar wat wel vasgesteek het in my geheue, was dat die heerlikste ligte somersmaak gehad het en dat dit gebak is met ‘n volstruiseier en nie hoendereiers nie. So is ek nou al lankal opsoek na die resep en ek reken dat hierdie ene (vanaf die Spatula Magazine http://static.yuppiechef.com/wp-content/uploads/2012/05/IrresistibleFamilyFruitCake.pdf) deksels naby kom aan die lieflike smaak wat ek kan onthou van vakansies in Hartenbos…

 

Ligte vrugtekoek

 

250g Margerien

375ml Suiker

5 groot eiers (die resep vra eintlik vir 4 maar die ekstra een werk vir my beter)

125ml Melk

750ml Koekmeel

15ml Bakpoeier

5m Vanielje-essens

500ml Vrugtekoekmengsel

100g elk Rooi- en Groenglanskersies

 

Voorverhit die oond tot 180*C en smeer jou koekpan goed. Ek het ‘n ringpan gebruik maar ek is seker ‘n broodpan, rondepan of vierkantige pan sal net so goed werk.

Room die margerien en suiker. Voeg die eiers een vir een by. Sif die meel en bakpoeier en meng dit om die beurt met die melk by. Voeg nou die vanielje-essens en vrugtekoekmengsel by. Voeg nou die glanskersies by.

Plaas die deeg in die pan en bak by 180*C vir 70 minute. Laat die  koek vir 20 minute staan nadat dit uit die oond uit gekom het voordat jy dit op ‘n droograkkie uitkeer.

NOTA:  Die eerste keer wat ek die koek getoets het, het ek die kersies ingemeng en die kersies het tydens die bakproses afgesak na onder. Met die tweede probeerslag het ek die kersies na die tyd bo-op die beslag in die pan geplaas en toe net liggies ingedruk en dit het nogals gehelp dat die kersies nie so afsak nie.

 

GroetnisDSC_1499 DSC_1481 DSC_1487 DSC_1489

Rooifluweelkoek – ‘n Oulap se rooi maak mooi

Rooifluweelkoek

(Die resep het in ‘n Landbouweekblad verskyn – dankie Arina du Plessis)

625 ml (2½ k) koekmeel

375 ml (1½ k) suiker

5 ml (1 t) koeksoda

5 ml (1 t) kakao

5 ml (1 t) sout

250 ml (1 k) karringmelk

2 eiers, by kamertemperatuur

375 ml (1½ k) olie

5 ml (1 t) witasyn

25 ml (5 t) rooi voedselkleursel (as jy Robertson se rooi gebruik kan jy maar die hele botteljie ingooi)

5 ml (1 t) vanieljegeursel
Roomkaasversiersel

1 houer (250 g) ferm roomkaas

250 g sagte botter

500 ml (2 k) versiersuiker

5 ml (1 t) vanieljegeursel

Koek

1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Berei 3 koekpanne van 18 cm voor. Sif meel, suiker, koeksoda, kakao en sout saam in ’n groot mengbak.
2. Plaas karringmelk, eiers, olie, asyn, kleursel en geursel in ’n aparte mengbak.
3. Meng die meelmengsel by die karringmelkmengsel. Verdeel die beslag tussen die voorbereide panne en bak vir 35-40 minute. Versier met die roomkaasversiersel en organiese roosblare.

Versiersel

1. Plaas roomkaas en botter in die mengbak van ’n elektriese menger en klits tot lig en donsig.
2. Voeg die versiersuiker by en klits tot gemeng. Voeg die vanieljegeursel by en klits tot net gemeng. Verkoel vir 20 minute voor dit gebruik word.

 

Ek kry toe ‘n bevlieging vir modderkoekies ook. Kan egter nie onthou waar ek die resep afgeskryf het nie…

Modderkoekies

125g margarien

500ml suiker

125ml kakao

125ml melk

750ml oats

250ml klapper

2,5ml vaniielje

 

Metode

Meng die 1ste vier bestanddele en kook vir 5 minute.

Meng die res van die bestanddele goed in.

Skep lepelsvol op bakplaat (of in trufflepapiertjies) en laat afkoel.

Kombuistee vir my Sussie

My sussie trou volgende jaar Maartmaand, ‘n dag voor haar 24ste verjaardag. Hulle bly baie baie ver van ons af (Centurion) en het so vir week kom kuier. Hierdie week is die laaste keer wat ons haar sien voordat hulle Maart afkom vir hul troue hier in ons kontrei. Ons reel toe vir haar ‘n kombuistee vir gister, haar verloofde se verjaardag (‘n uitstekende dekmantel om die koek-en-tee te verdoesel).

Ons het familie en vriende genooi en lekker saam teepartyjie gehou – geen snaakse speletjies en goeters nie, net lekker gesels en opvang en ooo en aaa.

  

Vir elk van die gaste is gevra om eerder ‘n geldjie of ‘n koopbewys te gee as geskenk (hul reis per vliegtuig, spasie is min) en daarmee saam ‘n resep vir haar te bring, asook ‘n notatjie wat ons in ‘n boksie gaan verseël en wat sy die oggend van haar troudag moet oopmaak en lees. Ons het vir haar ‘n pragtige-prettige joernaal gekoop en elkeen van die gaste het daarin ook ‘n boodskappie of ‘n wenk geskryf en dan kan sy sommer ook die reseppies daarin plak.

Ek het spesiaal vir haar ‘n rooifluweelkoek gebak, sal hom nou nou post. Die resep kom uit die landbouweekblad uit en is ‘n plesier om te bak.

Groetnis

Die rondomtaliehasie-wildspastei se aanwysings (kan dit nie eintlik ‘n resep noem nie…)

Eish, ek maak nie eintlik kos volgens ‘n resep nie, gooi maar so in op gevoel…

 

Leiding kan ek jou wel gee:

Kook fynvleis van die snitte wat oorgebly het nadat die biltonge en fillets uitgehaal is. Gebruik sout en peper, naeltjies, pimento, knippie sterk kerrie, koljander, heelkorrel mosterd, rooiwyn en asyn om die fynvleis te geur. Die fynvleis vries baie goed, so jy kan baie maak, wegsit en stuk-stuk gebruik.

 

Wanneer jy die fynvleis wil gebruik vir ‘n pastei, kerf ‘n groot ui of ‘n paar preie fyn en soteer tot sag in bietjie olyfolie en botter. Voeg ‘n blikkie tamatiepuree by en braai tot die geur lekker losgekom het. Plaas nou die gaar fynvleis in die kastrol, voeg ‘n blikkie gekapte tamaties in, roer goed en laat toe om deurwarm te raak. As die spulletjie lekker begin prut, kan jy sampioene byvoeg as jy daarvan hou. Maak ‘n bietjie bisto en maizena aan met water, voeg by en laat deurkook. Pasop nou vir vasbrand.

 

Al wat nou oorbly is om die vulsel op die pasteideeg te kry (groot of klein pasteie, ewe lekker) en ‘n degie bo-oor te sit. Skilferkors en broskors werk ewe goed. Verf die deeg mildelik met geklitste eier en bak dan by 180*C vir 30-40 minute (vir ‘n groot pastei) of tot goudbruin.

 

Ek maak gewoonlik sommer ‘n lekker sampioensous-gravy saam met die pastei, die tweetjies komplimenteer mekaar goed.

 

Groetnis

Rondomtalie-hasie wildspastei

Goeiedag almal!

Ek wil eintlik net gou ‘brag’ oor my rondomtalie-hasie wildspastei, ook bekend as ‘n koedoe en rooibok pastei, wat ek Vrydagaand vir my mense opgedis het. Die skilferkors het ek nie self gemaak nie, daarvoor is Today daar! Saam met die pastei was daar patat, botterskorsie, kapokaartappels en ‘n krakerige groenslaai op die spyskaart, mmm….

 

Indien jy bekommerd was oor die hasie se rol in die pastei:

 

 

Biefstuk, avokado en sampioenslaai

Manlief bel gisteroggend met die nuus dat die besigheidsbraai waarheen ons genooi is, uitgedraai het as ‘n braai vir die manne. Ai, smag ek nou nie al lankal vir ‘n stil aandjie by die huis nie:

“Is okay Lovey, geniet dit! Wat moet jy saamvat?”

So deur die loop van die dag begin ek aandete beplan (soos ek maar elke dag maak, behalwe dat ek gister toe nou net my eie smake hoef te bevredig!) Die volgende dis maak toe sy debuut in my kombuis:

Biefstuk, avokado en sampioenslaai

[Een of twee porsies, afhangende van of jy brood ook gaan bedien]

Vir die biefstuk:

250g biefstuk

Sout en peper na smaak

‘n Skeutjie olyfolie

‘n Skeutjie suurlemoensap

Vir die sampioene:

‘n halwe bakkie (‘punnet’) sampioene van jou keuse, opgekerf

Een prei, in dun ringe gesny

Klontjie botter of margerien

Titseltjie sout en ‘n paar draaie growwe swartpeper

Vir die avokado:

een ryp avokado

sout en peper na smaak

‘n Skeutjie suurlemoensap

Blaarslaai of slaaiblare

‘n opgehoopte lepel creme fraiche

Opsioneel:

Komkommer, in blokkies gesny

Kersietamaties, gehalveer

Fetakaas

Hoe maak mens? So maak mens!

Rangskik die blare en die opsionele bestandele op ‘n bord.

Vryf die biefstuk met die sout, peper, suurlemoensap en olyfolie in en laat staan totdat jy die sampioene, preie en botter in ‘n ander pan aan die gang het.

Braai die biefstuk in ‘n swaarboompan of ‘n riffelpan soos jy van hom (ek het die 2.5cm dik biefstuk wat ek gehad het, vir 7 minute aan ‘n kant gebraai en hy was nog sappig en ligpienk). Roer tussendeur die sampioene en preie en voeg hul sout en peper by. Die sampioene en preie moet sag word maar nie brand nie – die preie sal bitter word. Wanneer jou biefstuk reg is, verwyder dit van die pan en laat rus eenkant.

Nou trek jy daai lieflike avokado nader, verwyder die pit, verwyder die skil en sny in skuifies. Bedruip mildelik met suurlemoensap en bestrooi dan met sout en peper.

Die spulletjie moet nou bymekaarkom: skep die sampioenmengsel bo-op die blare. Sny die biefstuk in dun skywe en plaas dit dan bo-oor die sampioene en preie. Die avokado skywe word dan bo-op die biefstuk geplaas en die hompie creme fraiche bo-op dit. Viola!

Bedien met ‘n lekker morsige brood (‘n brood wat lekker mors) of sommer netso. ‘n Lekker bottel rooiwyn daarmeesaam sal ook goed afgaan. Haai, lus ek nou vir nog!

Groetnis

Kom ons hou nabetragting: Valentynsdag 2012

“Dankie tog, dis verby..” het deur baie mense se gedagtes gegaan toe hulle vanoggend wakker skrik met ‘n ongeskikte wekker se geraas in die ore. Dis die 15de Februarie en oor ‘n dag of twee sal al die oortollige valentyns-geïnspireerde verbruikersartikels van die rakke begin verdwyn of op ‘n tafel erêns in die winkel gestapel word met ‘n groot helder bord wat sê “Priced to go” of “Sale!” of iets in der voege. Ek is dankbaar dis verby, maar ek moet bieg, ek het ‘n lekker Valentynsdag gehad. Oor die details gaan ek nou nie aangaan en aangaan nie maar ek wil julle eintlik vertel van die ete wat ons gehad het – ek dink ek het myself so ‘n bietjie oortref…

Gister was die 5de Valentynsdag wat ek en Manlief saam gehad het, ons 3de as getroudes. Hierdie jaar, het ek vir myself gesê, gaan ons nie gekoopte kos eet of in ‘n fênsie restaurant met beursie-breek pryse gaan eet nie, ek gaan self ‘n spyskaart opstel en alles met liefde voorberei. Ek skraap toe bietjie koskennis, ‘n koskennis en ‘n paar boekerasies bymekaar, krap bietjie kop, kry hongerpyne en kom toe met die volgende vorendag:

Voorgereg

Guitige Geroosterde Pampoensop

Hoofgereg

Smeulende Springbokfillet met salieroomsous

Op

Koketterige kapokaartappels met preie

Nagereg

Gulhartige Gebakte sjokoladepoeding

Koffie

Mense, as lekker eet ‘n kwaal was dan moes ek en Manlief liefs vanoggend in die bed gebly het…

Na aanleiding van die onlangse debat oor resepte bedank ek leners en delers van die resepte:

  • Antie Ina Paarman vir die pampoensop (ek het hom effentjies aangepas)
  • Landbouweekblad vir die -fillet met salieroomsous (die resep is eintlik vir volstruisfillet bedoel maar dis te duur – R150 ‘n kilo, aikôna!)
  • My niggie, Riana, vir die kapokaartappels met preie (kan nie wag vir nog tips nie Nig…)
  • Onse ou staatmaker, die “Kook en Geniet” vir die sjokoladepoeding (het gisteraand uitgevind dat die beslag genoeg is vir 4 groot ramekins, bak net vir so 15-20min, anders raak die sous weg!)

Groetnis