31 weke en dinge verander nou vinnig

Iewers tussen Vadersdag en nou het die klein rakker vreeslik woelig geraak, skop nou al selfs sy pappa raak as ons saans styf teen mekaar lê, mits ek al teen daai tyd my  lê gekry het… Ek het hom vir die eerste keer op week 24 voel beweeg (wat ‘n verligting!) en op week 25 kon ek hom die eerste keer voel skop. Manlief was ongelukkig elke keer te laat of die karnallie was te skaam om weer te beweeg as Pappa ook wou voel. Ek dink nie ek sal ooit Manlief se verbaasde uitdrukking en asemsnak vergeet toe hy sy seunskind vir die eerste keer onder sy hand in my buik voel beweeg het nie – dit was so ‘n kosbare oomblik!

Van 400g op 21 weke, 800g op 25 weke tot 1.48kg op 29 weke, kan ek verstaan hoekom sy teenwoordigheid al meer en meer voelbaar en sigbaar is. Ons kon saterdag fisies my buik sien beweeg soos hy rondwoel daar binne.

Die babakamer is darem nou klaar geverf en al die meubels wat daar moet wees is darem daar. Hierdie amper-mamma moet nou net haar gat in rat kry en die beddegoedjies bymekaar kry en alles mooi op hulle plekke kry. Ja ja, almal vertel my dat hy in elkgeval nie die eerste ruk in sy kamer gaan slaap nie maar ek het ‘n behoefte om sy kamer reg te hê vir hom, al sal hy dit eers later benut.

En o ja, as een mens nog vir my gaan sê “ooo jy gaan nou geen meer tyd/geld/watookal vir jouself hê nie” gaan ek my swangerskaphormone blameer en ongeskik raak. Ons weet dat dinge gaan verander en ons aanvaar dat dit dinge gaan verander en ons is bereid om ons aan te pas daarby. As jy niks positiefs kan sê nie, los dit asb liewer…

Groetnis

Advertisements

Doodloopstrate, nekvoutjies en hoop

September bring nie net die lente nie, hierdie jaar bring dit ook vir my en Manlief ‘n klein lyfie, ‘n groot verantwoordelikheid en ‘n nuwe titel: Mamma en Pappa. Ons was vanmiddag vir ons 16 weke sonar, vol hoop om te sien of dit ‘n seuntjie of ‘n dogtertjie is. Klein boggertjie wou egter nie so lê dat ons kon sien nie en het daai naelstring mt mag en mening tussen die beentjies vasgeknyp!


Ek en Manlief is aanstaande maand al 7 jaar getroud. In Junie vier ons 9 jaar saam met mekaar. Van ‘n ge-orkestreerde ontmoeting by die kerkbasaar tot nou was ‘n ontdekkingsreis vol kronkelpaaie en reguitpaaie, ompaaie en afdraaie, kortpaaie en langpaaie. Maar dit was lekker en ons het saam gegroei en saamgegroei in ons saamwees.

Een ding wat ons wel geleer het is dat, al het jy al die padkaarte, wegwysers en koördinate waarop jy jou hande kan lê, dinge nie altyd uitwerk soos jy beplan nie. Ons reis na ouerskap het ongeveer 4 jaar terug afgeskop en tot onlangs het ons ons telkens in doodloopstrate vasgeloop. Eers was daar die ektopiese swangerskappe, toe die implikasies van polisistiese ovariums, die realiteit van herabsorpsie en vroeë miskrame. Maak inligting bymekaar, probeer sin maak van al die mediese terminologie, probeer dit vereenvoudig sodat ‘n gewone mens dit kan verstaan, begryp, inneem, hanteer. Maar hierdie keer was anders, hierdie keer het die pad bly kronkel daar waar die ander ons reeds met ‘n “jammer, dis die einde” begroet het.

Vroeg in Januarie het ek egter ‘n gevoel gekry en ons het toe op 3 weke uitgevind dat ek swanger is, sommer met ‘n Clearblue, die volgende dag met ‘n properse bloedtoets.

Ddes15

Manlief verwys altyd na daai tyd van die maand as “Die koms van Smaug” (Smaug is die draak in JRR Tolkien se “The Hobbit”)

 

Met die 8 weke sonar was die dingetjie so groot soos ‘n blueberry, ‘n troetelnaampie wat toe sommer vasgesteek het. Tydens die 8 weke besoek het die Gineakoloog ons ingelig oor die nuchal translucency scan, die meet van die nekvoutjie om te bepaal of daar ‘n risiko vir ‘n moontlike chromosoom-afwykings is. Hy het ons gevra om solank te dink en te gesels oor wat ons sou doen as die risiko wel daar sou wees.

En so breek die 12 weke afspraak aan en die Dokter meet en die Dokter meet en die nekvoutjie wil nie dunner raak nie. Ons het twee opsies: 1) Aanvaar die risiko en wag tot by geboorte om te bepaal of Blueberry ‘n afwyking het; of 2) Doen verdere toetse om meer sekerheid te kry. Ons kies die verdere toetse en ons het toe weer twee opsies: 1) Chorionic villus sampling en ‘n amniosintese (relatief goedkoop maar daar bestaan ‘n gevaar vir ‘n miskraam); of 2) Non-invasive pre-natal bloedtoets (ook bekend as die Harmony toets) waar die DNA van die fetus geïsoleer word van die DNA van die moeder en daar dan deur genetiese toetse bepaal word of daar ‘n chromosoom-afwyking is (tot 99.9% akkuraat maar moer duur – die bloed moet die VSA binne 7 dae bereik vir toetsing).

Ons kies die Harmony toets, laat trek die bloed en ons wag. En ons wag. En ons raak bietjie-bietjie van ons verstand af. En ons wag nog ‘n bietjie en presies 2 weke later kry ons die uitslae: Die toets dui met 99.7% akkuraatheid aan dat Blueberry okay is, ons hoef nie te worry nie, daar is geen afwykings nie. Ons is dankbaar, so ongelooflik dankbaar.

Hopelik sal Blueberry oor 4 weke mooi saamwerk sodat ons behoorlik kan begin regmaak vir sy of haar koms. Babakamer, kleertjies, noodsaaklike toerusting…

 

 

Vergeet om my te vergeet

 

Dit is ons manier van onthou. Daar is nie fotos om te herinner nie, net patologiese verslae iewers in ‘n laai of ‘n leêr. Selfs die letsels op my buik is al bykans onsigbaar.

Ja die seer in ons harte herinner ons ook maar ons glo dat die seer eendag sal weggaan en dan sal hierdie ons onthou wees. Al was die lewetjie elke keer van korte duur was dit genoeg tyd om drome te droom, om iets te begin voel. Genoeg tyd om jou hart te laat breek as hulle eers na die sonarskerm staar en dan jou hand ‘n simpatieke drukkie gee.

Groetnis

Vir 7 dae was alles skielik anders

Ek en Manlief was vir ‘n week swanger gewees. Ons het die maandag vir ‘n toets gegaan en die resultaat was positief. Die Dokter het gevra dat ek hom oor ‘n week weer kom sien sodat ons doodseker kan wees. Ons het besluit om niemand te vertel voordat ons nie die tweede groenlig by die Dokter gekry het nie. Ek het immers maar ‘n maand en ‘n half gelede die Pil gelos en nie vir ‘n oomblik gedink dat ek so vinnig sou vat nie.

 

Die volgende maandagoggend het ek erge krampe gekry en ek is inderhaas weer na die Dokter. Hy  het my vir ‘n sonar gestuur maar die het gewys dat daar niks is nie. Vir ingeval het hy weer ‘n bloedtoets gedoen en die het steeds positief swanger gewys. Die Dokter het ‘n buisswangerskap vermoed, die gineakoloog aan diens by die Kliniek geskakel en ‘n bed is inderhaas vir my geboek. Binne 20 minute nadat ek en Manlief by die deure van die Kliniek ingestap het, is ek in die teater ingestoot. Die Gineakoloog moes ‘n buisswangerskap in die regterbuis verwyder. Hy skat dit was so 5 0f 6 weke oud.

 

Dit voel so half onwerklik. Ons was aanvanklik te bang om opgewonde te raak en skielik, net toe ons begin planne maak oor hoe om die familie in te lig van ons goeie nuus, toe is daar skielik niks.

 

Ek sit saggies my hand op my maag en vir eers is daar weer niks nie.