O Moedertaal, soetste taal, kaalvoettaal, lekkerste taal

Herriemerrie het so ‘n tydjie terug geskryf oor die gebruik van ons mooie taal. Toe ek gister rondblaai op Netwerk24.com loop ek hierdie skrywe van Riaan Grobler raak en reken toe dat dit mooi by die gesprek inpas.

Die top-10 taalfoute wat Afrikaanssprekendes (onbewustelik) maak

Deur Riaan Grobler

Woensdag 30 September 2015

“Afrikaans is ’n kaalvoettaal,” het ek Koos Kombuis al hoor sê, en hy is reg – dit is ’n jong taal wat in sy verskillende dialekte en uitsprake ’n besondere bekoring het. Vir my, as ‘n teksredakteur en taalpraktisyn, is dit ’n aardigheid om veral op sosiale media te sien hoe mense die taal besig. Daar is verskeie taalgroepe op Facebook, byvoorbeeld, waar interessanthede soos argaïese uitdrukkings en idiome bespreek word.

Maar die ander ding wat ek ook gereeld opmerk is die ooglopende taalfoute wat Afrikaanssprekendes gereeld en konsekwent maak, amper asof almal iewers saam die verkeerde dinge geleer is en nog nooit afgeleer het nie.

Hier is ’n lys van 10 algemene taalfoute wat mense nie weet hulle maak nie. Toets jouself!

  1. Wie / Wat

Die neiging om te wil skryf: “Die man/vrou/persoon wie daar sit…” is verkeerd. Die woord wat word ten opsigte van mense, diere en dinge gebruik.

  1. Nogals

Nogals is nogals ’n oulike woord! Maar dit is verkeerd. Daar bestaan nie ’n woord soos nogals nie. Die AWS erken wel nogal, sonder die -s.

  1. Huistoe

Om huis toe, winkel toe, kerk toe of biblioteek toe te gaan, is altyd twee woorde. Die fout sluip veral om die een of ander rede in by “huistoe”, maar dit is verkeerd!

  1. Oppad

Dieselfde geld vir op pad, wat altyd twee woorde is.

  1. Vir seker / Verseker

Die neiging is om verseker te gebruik wanneer jy wil sê “Beslis!”, maar dit is nie reg nie. Jy verseker jou motor teen diefstal, of jou huis teen brand. Jy kan ook iemandverseker dat jy die waarheid praat (“Ek verseker jou dis wat gebeur het”). Maar vir iets wat beslis so is, is dit vir seker. Jy sal hierdie reël nou onthou – vir seker!

  1. Waardeur / Waardeer

Die gat in die grot waardeur hulle moes kruip, was baie nou. Ek waardeer jou vriendskap!

  1. Minlik / Nimlik

Hierdie twee word gereeld met mekaar verwar, maar dis eintlik maklik. Minlikbeteken “geliefd” terwyl nimlik “die einste een” beteken.

  1. Sin / s’n

’n Sin is die ding wat jy skryf, wat uit woorde bestaan, of betekenis (dit maak nousin, nè?), terwyl s’n gebruik word om aan te dui dat iets aan iemand behoort: “Daai duur kar is my baas s’n.”

  1. Saam met

Om die een of ander rede het “met” heeltemal verlore geraak en skryf mense goed soos “Ek het saam my liefie gaan swem” of “Kom gou saam my”. Saam gaan altyd saam met “met”, soos koffie saam MET beskuit.

  1. Huidiglik

Huidiglik is vir seker een van die gruwelikste woorde wat nie bestaan nie. Want ja, daar is nie ’n erkende woord of verbuiging soos huidiglik in enige gesaghebbende bron oor die Afrikaanse taal nie. So, wat gebruik ’n mens dan eerder? Die korter en gebruiksvriendelike “tans” sal jou vernedering spaar.

Bronne: Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, Skryf Afrikaans van A tot Z, Pharos- aanlyn woordeboek. 

http://www.netwerk24.com/stemme/menings/2015-09-30-die-top-10-taalfoute-wat-afrikaanssprekendes-onbewustelik-maak

Voeg nou hierby die verwarring tussen verveeld en vervelig, asook die konsternasie oor ‘warm,’ nie ‘warem’ nie, maar wel ‘darem’ en nie ‘darm’ nie… Om maar net twee voorbeelde te noem.

Sosiale media is eintlik ‘n ideale platform om ons taal en die korrekte gebruik daarvan te bevorder, maar dit voel soms of die omgekeerde waar is. Mense leer immers makliker slegte gewoontes as goeie gewoontes bymekaar aan. Ja, dit is ‘n mynveld van reëls, regulasies en gewoontes, riglyne wat werklik noodsaaklik is en waarmee ek saamstem, maar sommige van die puriste ruk soms die dam onder die eend uit. Ons taal ontwikkel konstant en ons moet waak daarteen om nie net blindelings vas te skop teen verandering en verbuiging van reëls nie want dan gaan ons groei en vernuwing verhinder en die risiko loop om ander liefhebbers van die Afrikaanse taal te vervreem. As almal net die basiese beginsels, soos Riaan se voorbeelde hierbo, kan toepas, sal dinge al baie beter lyk en klink.

Maar terwyl ons nou besig met die onderwerp van moets en moenies is: Ek gee nie om of vreeslik en verskriklik nou negatiewe woorde is nie. As iets vir my vreeslik of verskriklik lekker was, dan was dit vir my dônners lekker. En nee, ek weier ook om ‘lekker’ net te gebruik om kos te beskryf. “My stewels sit gemaklik” kan mos net so wel “my stewels sit lekker” wees. Of “hy vry aangenaam” kan mos veel eerder “hy vry lekker” wees. ‘n ‘Lekker’ vryer klink mos baie meer opwindend as ‘n ‘aangename’ vryer. Lekker is net ‘n vinger lank, ja, maar nie almal se hande is ewe groot nie…

Groetnis

NS: as ek enige spel- en taalfoute gemaak het, sê ek by voorbaat ekskuus! Mens lees mos later jou eie foute mis…

Wysiging: Vandag (8 Oktober 2015) het daar nog ‘n aflewering by Netwerk24.com verskyn deur Riaan Grobler oor taalfoute. Lees dit hier.

Nog ‘n wysiging: Lees Riaan se Netwerk24.com (15 Oktober 2015) artikel oor anglisismes hier.

En nog ‘n wysiging: Hier is nog ‘n paar foute wat ons onbewustelik maak volgens Riaan (22 Oktober 2015)

En nog enetjie: Riaan oor homofone (30 Oktober 2015)

Jippee, nog enetjie: Riaan se alternatiewe vir ‘n paar engelse woorde (6 November 2015)

En die #taalgeneraal slaan weer toe: Bevange sosiolekke (12 November 2015)

Lees hier wat die #taalgeneraal te sê het oor transliterasies: Poetin vs Putin… (20 November 2015)

Die #taalgeneraal en nog anglisismes (14 Januarie 2016)

Die #taalgeneraal en vas of los skryf (29 Januarie 2016)

sneespapiervliegtuigies

die noord-wes het vanoggend
met die verkeerde voet uit die bed uit opgestaan
en my hart se deur sonder seremonie oopgewaai

verwoed moes ek keer vir die omgee wat wou uitwarrel
keer vir die hopeloos wat met alle mag op sneespapiervliegtuigies wou in
maar my hande was vol woorde uit biggeltraan gedigte
en traanstreepwange stories

ek kon nie alles keer nie
ek kon nie alles red nie
ek kon nie alles
ek kon nie

want my skouers was nie so breed soos ek gesê het nie

dalenatjie

Ag koek, onthou jy daai boek?

Rondom dieselfde tyd wat ek vir Griet skryf ‘n sprokie gelees het, het ek ‘n ander Afrikaanse boek gelees wat, soos ek kan onthou, in die tyd van sprokies afgespeel het. Om een of ander rede het ek laasgenoemde altyd met Griet geassosieer maar na die herlees weet ek dat dit nie dieselfde boek is nie en begin wonder ek nou of daar wel so ‘n boek was en of my verbeelding nie op hol met my gegaan het nie. Ek kan ook nie veel onthou van Griet kom weer nie so ek kan nie sê of ek dalk daarna verwys nie. Ek besef ek klink nou effe kêns maar ek kan rerig nie onthou of hond haar-af maak van dit wat ek wel kan onthou nie. Plaas ek daai tyd gedink het daaraan om boek te hou van wat ek gelees het…

In ieder geval, ek kan nie veel van die boek onthou nie maar om een of ander rede het iets daarvan by my vasgesteek en sal ek dit ook graag weer wil lees. Ek verbeel my die boek het twee paralelle storielyne gehad (een in die hede en een in die tyd van sprokies). Die sprokiesdeel het afgespeel in of naby die Swartwoud en daar was Berke- en Beukebome. ‘n Vrou is in die woud aangeval en sy moes deur die trauma daarvan werk. Van die hede se storielyn kan ek nie veel onthou nie, weet net daar was ‘n grot betrokke en ‘n kondoom wat met ‘n speld stukkend gesteek is…

Genade, hierdie klink soos ‘n koorsdroom of ‘n papagaaislaai-geïnduseerde hallusinasie… Ek hoop een van julle kan my help! Of ten minste net vir my sê “Dalenatjie, hou op yl!”

Groetnis

Stuur my groete aan jou stoep

Netek, ek leen vandag jou blogstyl. Pakpoort draai al vir dae in my kop so kom ek deel hom met julle, dis een van my gunstelinge.

Pakpoort | Riku Latti

Was ek smoordronk op jou stoep
Het ek iemand iets hoor roep
Uit die stadslawaai

Ek sê ons maak toe nog ‘n skyf
Ek in die holte van jou lyf
Terwyl ons kyk hoe sak die son

Was daar iets wat jy wou sê
Ek voel die woorde in jou longe lê
Tussen asem en nikotien

Stuur my groete aan jou stoep
Aan die mense wat jy ontmoet
En sê ek’s jammer oor al die bloed

As ek aan jou dink
Verlang ek na jou
Dan wil ek jou pakpoort omvou

Selfs al sou ons aanhou praat
Oor die goed wat aan ons raak
Sou ons nooit dit als kon sê nie

En al sou ons kon vergeet
Meteens ophou meet
Sal die tyd dit nooit verdra nie

Ons was altyd amper klaar
Altyd amper daar
Ons vir ewig altyd mense

Ek weet ek moet jou verlaat
Ek weet dit maak jou moerse kwaad
Ek spy mos vir die FBI

Stuur my groete aan jou stoep
Aan die mense wat jy ontmoet
En sê ek’s jammer oor al die bloed