Die meisie in die spinnerak

David Lagercrantz is nie Stieg Larsson nie, maar hy is ook nie sleg nie.

Wie is David Lagercrantz en Stieg Larsson? Beide is Sweedse skrywers van misdaadfiksie en beide het bygedra tot die Millenium reeks. Die Millennium reeks het begin as die Millenium-trilogie (“The girl with the dragon tattoo,” “The girl who played with fire,” en “The girl who kicked the hornets’ nest”), geskryf deur Stieg Larsson. Larsson sterf egter aan ‘n hartaanval voor die trilogie gepubliseer kan word. Volgens sy lewensmaat het hy reeds ‘n raamwerk uiteengesit vir die vierde boek maar sy weier om dit met sy uitgewer te deel.

David Lagercrantz word toe genader om die reeks oor te vat en die vierde boek, naamlik “The girl in the spider’s web” word in 2015 gepubliseer. Dieselfde karakters, dieselfde agtergrond en dieselfde storiewêreld. Maar natuurlik met sy eie persoonlike stempel daarop.

In kort fokus die Millennium reeks op die avonture (nie heeltemal die regte woord nie, die Engelse ‘exploits‘ sou beter werk) van twee Swede, Lisbeth Salander en Mikael Blomkwist, asook ‘n verskeidenheid gure en ongure karakters wat hul paaie kruis. Lisbeth het ‘n moeilike kinderlewe gehad en sy werk stadig maar seker aan ‘n vergeldingsplan, gemik op die man wat die wortel van al haar kwaad is. Bygesê, sy verafsku alle mans wat vroue haat en mishandel en sy dink baie kreatiewe maniere uit om hulle te laat boet daarvoor. Mikael Blomkwist is ‘n gerekende joernalis wat nie sukkel om vrouens te verlei nie. Lisbeth en Mikael se paaie kruis wanneer hy haar vaardighede as kuberkraker inspan om ‘n vermiste persoon wat reeds dekades lank vermis word, op te spoor. Wanneer die twee hul uitsonderlike vermoëns om inligting uit te snuffel bymekaarsit, spat die vonke en ontdek hul baie meer as waarop hul gereken het. Deur die loop van die eerste drie boeke beweeg Lisbeth, met die hulp van Mikael en die handjie vol mense wat haar goedgesind is, al nader aan haar einddoel, onortodokse metodes en al.

Vir die grootste deel van die boek het hy hom uiters goed van sy taak gekwyt. Lisbeth was nogsteeds Lisbeth, bedonderd en moeilik, en Mikael was nogsteeds Mikael, ewig opsoek na die storie agter die storie. Maar Lagerkrantz was soms net ‘n bietjie te sag en romanties in vergeleke met die eerste 3 boeke uit Larsson se pen. Die slotparagrawe, waar Lisbeth vir Mikael gaan opsoek was ook heeltemal teen Lisbeth se manier van doen en praat. Ek hou van ‘n happy ending maar daai een val nou nie so lekker op die verbeelding nie. Ook sy gewoonte om hoofstukke af te sluit met ‘n sin of twee wat soos goedkoop ‘click-bait‘ lees het my nie aangestaan nie. (Click-bait is ‘n verskynsel wat deesdae orals op-pop, veral op sosiale media en nuuswebwerwe, waar die opskrif so geskryf word dat dit absoluut niks weggee van die artikel nie en jou dus dwing om op die skakel te kliek as jy meer wil weet. Meeste van die tyd is dit dan ‘n niksseggende artikel wat eintlik nie eens internetspasie werd is nie.)

Die storielyn was ‘n behoorlike wilde rit gewees, vol verrassings en eintlik heel bevredigend. Sommige goedjies was dalk net bietjie te gerieflik ter wille van die storie (byvoorbeeld die outistiese seun se wye verskeidenheid talente) maar ons sal nou nie hare kloof daaroor nie, enige iets is immers moontlik.

Sommige bronne beskryf die boek as “fan-fiction” (fiksie gegrond op die karakters maar geskryf deur ‘n aanhanger) en dalk moet ‘n mens dit in daardie lig sien. Dit kan ook wees dat sekere nuanses verander het met die vertaling van die oorspronklike Sweeds na Engels. Lagercrantz het my oortuig en ek is tevrede maar ek het so ‘n klein bietjie meer verwag wat die konstantheid van die karakters betref. Ja, daar was karakter-groei gewees en ek misken dit nie maar ‘n jakkals verander van haar maar nie van snaar nie.

All-in-all bly die Millennium-reeks misdaadfiksie wat die moeite werd is om te lees en jouself in te verloor. “The girl in the spider’s web” doen nie afbreek aan die reeks nie, kom ons hoop daar is ‘n vyfde boek oppad.

My liewe tyd

Ek is in my derde week terug by die werk. Vanaf ek hier ingestap het was dit nog net een malle rondhollery maar ek hanteer dit. Die Kleinman groei ‘n barshou, raak by die dag ouliker en floreer by die creche. Manlief het sy eerste oesseisoen by die nuwe werk oorleef en alhoewel daar maar baie uitdagings is lyk dit darem of die skuif ‘n goeie ding was.

Maar ek, ek kry nie veel tyd vir myself nie. (Ek kla nie, julle sal nou sien.) Tussen my mamma-dinge en my vroulief-dinge is daar saans nie tyd vir die dinge waarvoor ek so lief is nie: ‘n storieboek, ‘n stukkie hekelwerk, ‘n bietjie naaldwerk. Alles het agterwee gebly.

Maar alles is darem nie verlore nie (en dis nou hoekom ek sê ek kla nie): my teetye en middagetes by die werk span ek nou maar in vir my-tyd. ‘n Halfuur se boeklees deur die loop van die dag doen wondere en mens kan nogal ‘n hele paar steke hekel in ‘n halfuur se tyd. Ongelukkig is dit nou nie prakties om my naaldwerkmasjien saam te sleep werk toe nie…

‘n Week se middagetes en halfure was dus ‘n aanvaarbare prys om te betaal om die vierde boek in die Millennium reeks van Stieg Larsson te kon deurlees. Volgende aan die beurt is ‘n breipatroon vir ‘n pullover vir die Kleinman en ‘n hekelpatroon vir hom vir ‘n groter mussie (want die weer hier by ons hou nie altyd by die seisoene nie). Hulle sê mos ‘n boer (of in die geval ‘n boervrou) maak ‘n plan…

Groetnis

11 weke al?

Ek het skandalig lanklaas iets op my blog geskryf, ek weet, ek weet… 

Maar ek het darem n goeie verskoning: Vandag, 11 weke gelede, het ek geboorte geskenk aan die mooiste, dierbaarste seuntjie. ‘n Liefdevolle bondeltjie van 3.03kg, 51cm lank, wat binne oomblikke, sonder om te blik of bloos, my en Manlief se lewens gevul het met ‘n heel nuwe doel en betekenis.
Vandag is ons seuntjie al ‘n volle 11 weke oud en by verre die pragtigste dingetjie wat sy mamma al ooit gesien het. Die laaste week of twee glimlag hy so af en toe vir ons en maak die mooiste geluidjies as ons met hom gesels! Oo, ek kan liries raak oor die kind van my…

Ag, ek wou net bietjie brag…

Vanoggend lê hy langs my in die bed en slaap, op die naat van sy ruggie, arms uitgestrek, salig. Ek ht langs hom ingesluimer en toe ek wakkerskrik kyk ek vas in twee groot blou ogies wat staar na my. Toe hy besef ek is wakker gee hy my die mooiste grootste glimlag wat ek nog gesien het! Ag jinne moeder, wat ‘n seëning is hy nie…

Groetnis