Vergeet om my te vergeet

 

Dit is ons manier van onthou. Daar is nie fotos om te herinner nie, net patologiese verslae iewers in ‘n laai of ‘n leêr. Selfs die letsels op my buik is al bykans onsigbaar.

Ja die seer in ons harte herinner ons ook maar ons glo dat die seer eendag sal weggaan en dan sal hierdie ons onthou wees. Al was die lewetjie elke keer van korte duur was dit genoeg tyd om drome te droom, om iets te begin voel. Genoeg tyd om jou hart te laat breek as hulle eers na die sonarskerm staar en dan jou hand ‘n simpatieke drukkie gee.

Groetnis

Wat is ‘n buis-/ektopieseswangerskap?

Daar gaan nie ‘n week verby dat daar nie ten minste drie keer die woord buisswangerskap (of buis swangerskap) of ‘n frase wat die woord bevat, in my soekenjintermelysie beland nie.

Ek het in die verlede by twee geleenthede al daaroor geskryf (hier en hier) maar meer op my eie ondervinding gefokus en nie soseer oor die tegniese aspekte daarvan nie. Dus, met die hulp van ‘n paar webbladsye, ‘n kort opsomming van wat ‘n buisswangerskap behels.

Belangrik: ek het geen mediese agtergrond of kwalifikasie nie en het hierdie skrywe saamgestel uit twee internetbronne en my eie ondervinding. ‘n Buisswangerskap is ‘n vorm ‘n ektopiese swangerskap. ‘n ektopiese swangerskap verwys na ‘n bevrugte eiersel wat buite die baarmoeder vasheg en daar begin ontwikkel. In die geval van ‘n buisswangerskap heg die bevrugte eiersel in een van die twee fallopiusbuise aan. Die buisswangerskap word gewoonlik teen die 8ste week van swangerskap ontdek, waarna dit gewoonlik met n noodprosedure verwyder moet word. Die rede hiervoor is dat dit die buis kan laat bars, wat lei tot interne bloeding, wat lewensgevaarlik kan wees.

Die simptome van ‘n buisswangerskap is as volg:

– ligte vaginale bloeding (‘spotting’ of amper soos ‘n ligte maandstonde)

– naarheid

– pyn in die lae gedeelte van die buik

– skerp krampe in die buik

– pyn aan slegs een kant van die liggaam – lighoofdigheid en ‘n gevoel van swakheid

– pyn in die skouer, nek en/of rektum (‘n pyn in die skouer is gewoonlik n aanduiding van interne bloeding – die bloed in die buikholte irriteer die senuwees, wat dan die pyn veroorsaak)

Indien jy swanger is of vermoed dat jy swanger is en van hierdie simptome ervaar, gaan sien dadelik ‘n Dokter, moenie wag tot dit onuithoudbaar raak of hoop dat dit vanself sal weggaan nie..

Hoe word ‘n ektopiese swangerskap behandel?

– Indien die swangerskap nog nie baie ver gevorder het nie, kan dit met medikasie gestop word.

– Indien die swangerskap al bietjie verder gevorder het en die buis nog nie gebars het nie, kan die embrio met n laparoskopie uit die buis verwyder word. Die laparoskopie is minimaal indringend en die buis kan daarna weer normaal funksioneer.

– Indien die swangerskap al bietjie verder gevorder het en die buis het gebars, moet n noodoperasie uitgevoer word om die bloeding te stop. Die gebarste buis en die embrio sal ook dan verwyder word.

Die liggaam herstel wonderbaarlik vinnig na ‘n laparoskopie en die littekentjies is so klein dat jy dit later skaars raaksien. Maar soos met enige ander trauma is dit die emosionele letsels wat die langste vat om gesond te word of dowwer te raak.

Daar is verskeie moontlike oorsake van ektopiese swangerskappe maar ‘n gineakoloog sal meer lig daarop kan werp. Die hoofoorsake is ‘n beskadigde fallopiesebuis (as gevolg van ‘n vorige buisswangerskap dalk), pelviese-inflammatoriese siektes, sekere seksueel-oordraagbare siektes en ‘n abnormailteit aan die fallopiese buis. Maar soms is dit nie een van die bogenoemde nie en gebeur dit maar net.

‘n Buisswangerskap beteken egter nie dat jy nooit weer sal swanger raak nie, soms is dit bloot ‘n geïsoleerde geval. Die kans is wel daar dat dit weer kan gebeur, maar al verloor jy n buis kan jy steeds daarna weer swanger raak met net een oorblywende buis.

Die belangrikste is om nie jouself kwalik te neem na ‘n buis- of ektopiese swangerskap nie want daar is eintlik niks wat jy kan doen om dit te verhoed nie. Indien jy daardeur is of indirek deur so iets geraak is, wens ek jou alle sterkte toe – dit neem soms ‘n tydjie maar mens kom wel daardeur. Lewer groot asb kommentaar as jy nog iets kan en wil bylas, dit sal baie waardeer word!

Belangrik: ek het geen mediese agtergrond of kwalifikasie nie en het hierdie skrywe saamgestel uit twee internetbronne en my eie ondervinding.

Bronne http://www.webmd.com/baby/guide/pregnancy-ectopic-pregnancy http://www.babycenter.com/0_ectopic-pregnancy_229.bc

Bietjie mosterd na die maal maar vanaand was die behoefte daar

Ons was een Saterdagaand in Maart by ‘n braai by vriende van ons se huis. Hulle baba was op daardie stadium in twee weke oppad en, nodeloos om te sê, die hele aand se gesprekke het rondom swangerskap en babas en ouerskap gegaan. Ek het so gesukkel om my pose te hou want ons was al n rukkie, eintlik al meer as ‘n jaar, gereed om weer swanger te raak maar kon nie weens n reis na Kenya laat laasjaar en die gepaardgaande geelkoorsinspuiting wat daarmee saamgaan, onder andere.

Ten tyde van die betrokke braai was ons al bykans twee maande besig om weer te probeer. Die onsekerheid van gaan-die-ektopiese-swangerskap-spook-ons-weer-besoek of gaan-my-polisistiese-ovariums-ons-toelaat-om-weer-swanger-te-raak het vir my en Manlief taamlik bloots gery en my emosies was in ‘n taamlike warboel. Boonop is daar ‘n hele swetterjoel amper-mammas en babas om ons, iets wat die verlies en die gesukkel glad nie makliker maak nie. Die braai en die geselskap was dus nie vir my baie maklik nie.

Nadat ons laat aand by die huis gekom het, het ek my in die badkamer met ‘n natgepiepiede swangerskap toets bevind wat voor my oë besig was om nie net een nie, maar twee strepies te ontwikkel! Ek en Manlief was in ekstase! Ek het die Maandagoggend vir ‘n bloedtoets gegaan en ‘n afspraak by die gineakoloog gemaak. Deur die loop van die dag het ek ligte krampies ervaar maar google het gesê dis normaal, ek moenie te veel worry nie. Dinsdag was die krampies steeds daar maar teen die aand se kant het ek ‘n geweldige pyn in my skouer ontwikkel en ek was kortasem. Ek kon ook glad nie plat lê nie, my diafragma en skouer was so seer dat ek nie behoorlik kon asemhaal nie.

Die Woensdagoggend was ek so wit soos ‘n laken en Manlief het met my na die gineakollog toe gejaag, so vinnig soos ‘n mens op ‘n grondpad kan jaag wat vrot is van die gate met ‘n vrou wat sukkel om asem te kry en skrou elke keer as die bakkie net ‘n aks te veel skud. Die gineakoloog het ons vrese bevestig: weer ‘n ektopiese swangerskap, selfde plek as die vorige keer maar die keer het die buis gebars en daarmee saam die gepaardgaande interne bloeding.

Vier weke na die noodoperasie het Manlief saam met my die gineakoloog gaan sien om ons opsies te bespreek. Groot was ons verbasing toe die Dokter aanbied om vir ons die fotos van die operasie te wys. Ek vermoed hy het net so groot geskrik toe ons opgewonde ons koppe knik en ja sê… Die eerste foto het die 2.5 liter bloed wat in my buik was gewys, die tweede ‘n nabyskoot van die gebarste fallopiusbuis. Dit is moeilik om jou in te dink dat weefsel so uitmekaar geruk kan word, die naaste wat ek aan ‘n beskrywing kan kom is die prentjie van ‘n dinamietkers wat in ‘n Tom and Jerry strokiesprent ontplof. Die derde foto het die afgebinde buis getoon en die vierde ‘n foto van die gesonde buis, ovarium en baarmoeder. My mond het oopgehang, dit was so ongelooflik om die fotos te kon gesien het, so bevoorreg! Ek wens ek kon die fotos hier wys maar ek dink die meerderheid mense sal hulle doodgril daarvoor. Die fotos het baie gehelp om ons gemoedere tot ruste te bring.

Al wat nou oorbly is om die natuur sy gang te laat gaan en nie oorhaastig te raak nie, all in due time ja…

Groetnis

Vir 7 dae was alles skielik anders

Ek en Manlief was vir ‘n week swanger gewees. Ons het die maandag vir ‘n toets gegaan en die resultaat was positief. Die Dokter het gevra dat ek hom oor ‘n week weer kom sien sodat ons doodseker kan wees. Ons het besluit om niemand te vertel voordat ons nie die tweede groenlig by die Dokter gekry het nie. Ek het immers maar ‘n maand en ‘n half gelede die Pil gelos en nie vir ‘n oomblik gedink dat ek so vinnig sou vat nie.

 

Die volgende maandagoggend het ek erge krampe gekry en ek is inderhaas weer na die Dokter. Hy  het my vir ‘n sonar gestuur maar die het gewys dat daar niks is nie. Vir ingeval het hy weer ‘n bloedtoets gedoen en die het steeds positief swanger gewys. Die Dokter het ‘n buisswangerskap vermoed, die gineakoloog aan diens by die Kliniek geskakel en ‘n bed is inderhaas vir my geboek. Binne 20 minute nadat ek en Manlief by die deure van die Kliniek ingestap het, is ek in die teater ingestoot. Die Gineakoloog moes ‘n buisswangerskap in die regterbuis verwyder. Hy skat dit was so 5 0f 6 weke oud.

 

Dit voel so half onwerklik. Ons was aanvanklik te bang om opgewonde te raak en skielik, net toe ons begin planne maak oor hoe om die familie in te lig van ons goeie nuus, toe is daar skielik niks.

 

Ek sit saggies my hand op my maag en vir eers is daar weer niks nie.