Die dag toe ‘n boek Google bloedneus geslaan het

Op ‘n Saterdagmiddag in 2010 blaai ek ouder gewoonte die koerant deur terwyl Pa en Manlief sport kyk. In die bylaag vang ‘n gedig my oog en ek staar lank en onbegrypend daarna. Veel later, vuur ‘n sinaps en rangskik die chaos hulself in ‘n patroon wat skielik vir my sin maak. Ek staar sprakeloos daarna.

 

Om een of ander duistere rede dink ek nie daaraan om die gedig uit te knip en te bêre nie. Teen die tyd dat dit my byval is die koerant lank reeds verlore vir die samelewing, selfs die biblioteek se eksemplaar is nie meer beskikbaar nie. Sonder ‘n naam vir die digter of die gedig soek ek op Google daarna maar, maak nie saak hoe ek soek nie, ek kry dit nie. Selfs ‘n epos na die redakteur van die koerant bly onbeantwoord.

 

Intussen het ek laasweek die Afrikaanse Skryfgids begin lees. Van bladsy 1 af, asof dit ‘n storieboek is. Na ek gisteraand ‘n laaste slaaptyd paragraaf voltooi het, blaai ek deur die boek en iets vang my oog. Daar, op bl 194, is die gedig wat ek al so lankal soek: Willem Boshoff se “Pro Patria.”

Willem Boshoff Pro Patria

 

Die gedig lyk tipografies soos die stewelspore van soldate wat marsjeer en in elke ‘stewelspoor’ is ‘n ‘links’ of ‘n ‘regs’ of altwee. Voeg daarby die titel “Pro Patria,” asook die jaar waarin dit gepubliseer is en jy kan jou amper verbeel dat jy op die paviljoen langs die paradegrond sit en kyk na die troepe wat links-regs-links-regs in gelid marsjeer. Ek reken dat ‘n koffie-en-beskuit of rooiwyn-en-southappie gesprek oor die gedig vele dieper betekenisse sal uitlig maar vir nou is die ‘gevoel’ van die gedig genoeg vir my.

 

Groetnis

Om ‘n boek te skryf, al is dit net ‘n kleintjie

So beland daar mos toe nou ‘n nuusbrief-e-pos van NB Uitgewers in my digitale posbus. Tussen voorblaaie van nuwe boeke en kortfilms om die boeke te adverteer, vang iets my oog en ek kliek nuuskierig daarop.

“Het jy vuur in jou are? Maak dit stoom as jy skryf?” Vra die uitnodiging uitlokkend voordat dit my insluk en op ‘n gekke reis neem na die land van woorde, sinne, paragrawe, woordspelings en spelreëls.

Die kompetisie het reeds in November van die vorige jaar ge-open en ek maak my sommetjies. Sou ek daarin kon slaag om 600 woorde per dag te skryf vir die volgende nege weke behoort ek die minimum woorde van 35 000 te haal.

Wat behels dit? Skryf ‘n vuurwarm manuskrip wat onder die vaandel van die Ultrasatyn-projek uitgegee kan word. So eenvoudig soos dit.

Probleem? Geen probleem!

Behalwe dat ek 1) nog nooit ‘n boek geskryf het nie, 2) nie liefdesverhale lees nie en 3) nie eintlik ‘n idee het van waar ek die tyd gaan kry om dit te doen nie! Ek het ook vinnig besef dat 600 woorde nie sommer uit die lug uit val nie – dit verg beplanning en skryf en dink en oorskryf en weer skryf.

Die sperdatum is vandag en ek het sopas my inskrywing versend. Ek is gedaan geskryf maar dit was lekker gewees en ek dink ek sal dit dalk weer eendag doen. As daar niks van kom nie sal dit ook reg wees met my, ten minste weet ek ek kan dit ook doen.

Ek reken ek is dalk ‘n beter leser as ‘n skrywer 😉

Groetnis

20130419-160631.jpg