Goeie vraag

Loer toe mos nou-nou, sommer vir interessantheidsonthalwe, watter soekenjinterme mense na my blog gelei het. Behalwe vir die immergewilde “kombuistee speletjies,” “wildsvleis resepte” en “buis swangerskap simptome” (verskoon die verontagsaming van spelreëls – maar dis hoe dit daar staan), lees ek toe amper hierdie juweeltjie mis: “hoe weet ek of my skelmpie nog lief is vir my.” Goeie vraag meneer of mevrou of mejuffrou…

En hier is ek alweer op die onderwerp van skelmpies en skelmverhoudings.

Maar dit het my laat wonder: moet mens nie ook, of eerder, vra “is my skelmpie nog lus vir my nie?” Siende dat die twee L-woorde, liefde en lus, so maklik verwar word. Lus het baie gedaantes en skelmpies vul mos maar gewoonlik die leemtes in ‘n verhouding – nie dat dit ‘n verskoning is vir ‘n skelmverhouding nie. Spreek eerder die leemtes aan as om dit met spoeg en plak te probeer toemaak. Lus en liefde kan natuurlik in n ‘normale’ (in-die-oopte, nie-skelm) verhouding ook maklik verwar word, maar dis ‘n onderwerp vir ‘n ander dag…

Groetnis

Advertisements

Laatnag

jou vingers tas vlinderfyn

trek ‘n kurwe oor my kuit

jou vingers draai sirkels

al om en om

trek strepies

in die waai van my been

jou vingers skets ‘n lyn

oor my bobeen,

in die lengte op

al op, al op

 

ek sug sag

jou oë vonkel

jou glimlag is heuning

dit nooi my nader

ek voel jou hande

hande wat my liefhet

jou oë

jou mond

jou neus

wat my begeer

 

jy luister fyn

na my asemhaling

na die beweging van my lyf

op die koel laken onder my

luister hoe jou soetsag asem

belustig

‘n siddering deur my lyf stuur

as jy dit soel oor my nek

my skouer

uitblaas

 

Dalenatjie

2014