sneespapiervliegtuigies

die noord-wes het vanoggend
met die verkeerde voet uit die bed uit opgestaan
en my hart se deur sonder seremonie oopgewaai

verwoed moes ek keer vir die omgee wat wou uitwarrel
keer vir die hopeloos wat met alle mag op sneespapiervliegtuigies wou in
maar my hande was vol woorde uit biggeltraan gedigte
en traanstreepwange stories

ek kon nie alles keer nie
ek kon nie alles red nie
ek kon nie alles
ek kon nie

want my skouers was nie so breed soos ek gesê het nie

dalenatjie

Laatnag

jou vingers tas vlinderfyn

trek ‘n kurwe oor my kuit

jou vingers draai sirkels

al om en om

trek strepies

in die waai van my been

jou vingers skets ‘n lyn

oor my bobeen,

in die lengte op

al op, al op

 

ek sug sag

jou oë vonkel

jou glimlag is heuning

dit nooi my nader

ek voel jou hande

hande wat my liefhet

jou oë

jou mond

jou neus

wat my begeer

 

jy luister fyn

na my asemhaling

na die beweging van my lyf

op die koel laken onder my

luister hoe jou soetsag asem

belustig

‘n siddering deur my lyf stuur

as jy dit soel oor my nek

my skouer

uitblaas

 

Dalenatjie

2014

Write me a letter

Write me a letter of undying lust
Of damp cotton sheets
And foggy windows

Describe me your hands
And the places they go
And how they want and need to touch me

Walk me through the contours
Of my body
And of your lips awaiting the journey

Write me a letter of undying lust
Of mind, heart and body
And seal it with your kiss

Die dag toe ‘n boek Google bloedneus geslaan het

Op ‘n Saterdagmiddag in 2010 blaai ek ouder gewoonte die koerant deur terwyl Pa en Manlief sport kyk. In die bylaag vang ‘n gedig my oog en ek staar lank en onbegrypend daarna. Veel later, vuur ‘n sinaps en rangskik die chaos hulself in ‘n patroon wat skielik vir my sin maak. Ek staar sprakeloos daarna.

 

Om een of ander duistere rede dink ek nie daaraan om die gedig uit te knip en te bêre nie. Teen die tyd dat dit my byval is die koerant lank reeds verlore vir die samelewing, selfs die biblioteek se eksemplaar is nie meer beskikbaar nie. Sonder ‘n naam vir die digter of die gedig soek ek op Google daarna maar, maak nie saak hoe ek soek nie, ek kry dit nie. Selfs ‘n epos na die redakteur van die koerant bly onbeantwoord.

 

Intussen het ek laasweek die Afrikaanse Skryfgids begin lees. Van bladsy 1 af, asof dit ‘n storieboek is. Na ek gisteraand ‘n laaste slaaptyd paragraaf voltooi het, blaai ek deur die boek en iets vang my oog. Daar, op bl 194, is die gedig wat ek al so lankal soek: Willem Boshoff se “Pro Patria.”

Willem Boshoff Pro Patria

 

Die gedig lyk tipografies soos die stewelspore van soldate wat marsjeer en in elke ‘stewelspoor’ is ‘n ‘links’ of ‘n ‘regs’ of altwee. Voeg daarby die titel “Pro Patria,” asook die jaar waarin dit gepubliseer is en jy kan jou amper verbeel dat jy op die paviljoen langs die paradegrond sit en kyk na die troepe wat links-regs-links-regs in gelid marsjeer. Ek reken dat ‘n koffie-en-beskuit of rooiwyn-en-southappie gesprek oor die gedig vele dieper betekenisse sal uitlig maar vir nou is die ‘gevoel’ van die gedig genoeg vir my.

 

Groetnis