Koors

Ek was ook skepties. En bang. Want Deon Meyer is sinoniem met misdaad, spanning en Bennie Griessel. ‘n Post-apokaliptiese wêreld? Memoires? Nico Storm? Sê nou maar dit is so ‘n Mad Maxerige besigheid vol weird wetenskapfiksie en voorvader geeste en grafte? Nee, dit wou net nie sitplek kry by my nie…

Maar toe is ons toevallig in die Kaap vir ‘n kursus toe Koors by die Drostdy Teater in Stellenbosch bekend gestel word. My sussie het vir ons kaartjies gekoop en ons het vir ons opgedress in sykouse en high heels. (‘n Pregnant fairy in high heels? Dis ek daai!) ‘n Geleentheid om Deon Meyer in lewende lywe te ontmoet en vlugtig met hom te gesels terwyl hy vir jou sy boek teken was rede genoeg om die koue aan te durf en jou brein (en hart) oop te stel vir Koors.

Hy lees vir ons ‘n stukkie voor uit die boek en gesels dan, sonder om die storie weg te gee, oor die boek en waar die idee vandaan kom en hoe hy dit benader het. Zoë Brown lees nog ‘n paar stukke uit die boek en ek kry so ‘n krieweling en daai hoek slaan vas. Die boek is iets heeltemal anders maar dis Deon Meyer en dit gaan die tyd werd wees. Manlief moet maar ‘n kosmaakbeurt of twee vat.

Ek het my tyd gevat en rustig gelees want ek wou soveel as moontlik details en nuanses raaklees. En dit was ‘n reis en ‘n half saam met Nico Storm en al die ander karakters. ‘n Hele klomp uiteenlopende karakters met min-of-meer dieselfde doel voor oë maar elkeen met ‘n eie idee oor hoe om dit te bereik. Verskuilde agendas, kinkels in kabels…

Ek was skepties maar ek is oortuig. Ek is skaam om te erken dat ek getwyfel het.

Dit was die leestyd werd.

Groetnis

EDIT: Ek gaan ‘n ertjie kraam as iemand weer vir my sê dat hulle nie van ‘Koors’ gehou hete nie omdat Bennie Griessel nie daarin is nie. O my liewe koek! Deon Meyer is soveel meer as net Bennie Griessel! Bennie is fantasties maar Bennie is nie al waartoe Die Meesterlike Mnr Meyer tot staat is nie..

Advertisements

Ikarus

Ek het seker so ‘n uur terug Deon Meyer se nuutste, Ikarus, toegemaak. Ek is tevrede, dit was fantasties. Nee, dit is nie die lojale fan wat praat nie, dis iemand met waardering vir ‘n goeie storie wat meesterlik vertel is. Ek gaan niks verder sê nie, ek is tevrede. Dankie Deon, dankie, jy kan maar weer, jou boeke is die wag werd.





‘N Boek is nie gemaak vir een keer se lees nie

Na ek en my Sussie Kobra van Deon Meyer verslind het, het ons in ‘n gesprek betrokke geraak oor die hoe en wat van die karakters in Deon se boeke. Bennie Griesel is van hoek tot kant bespreek, so ook Zatopek van Heerden, Mat Joubert, Lemmer en ‘n paar van die vroulike hoofkarakters. Sommer met die intrapslag het ons besef hoe verskillend ons die karakters ondervind en interpreteer. Haar Bennie was Paul Eilers maar myne was in my geestesoog so ‘n aks aantrekliker (jammer Paul!) Sy was natuurlik in die kol oor Paul – ‘n tweet van Deon het meer lig op die saak gewerp. Die feit dat sy so in die kol was het my ego ‘n ligte bloukolletjie gegee (nie dat ek dit hardop sal sê nie). Logiese volgende stap: Lees al die boeke weer. Nie verslind nie, léés, met aandag.

Feniks is eerste aan die beurt. Dis waar ons vir Mat en Bennie vir die eerste keer ontmoet. Ek maak notas soos ek lees want ek wil weet: hoe lyk Mat Joubert? en Wie sal hom in ‘n fliek kan speel? Dit voel kompleet asof ek die boek vir die eerste keer lees (al is dit waarskynlik al die derde keer). Ek lees goed raak, feite, gebeure en nuanses, wat ek defnitief vantevore misgelees het in my malle, agiegedrewe jaagtog na die ontknoping van die storie. Ek lees ook dat Bennie ‘n slawiese voorkoms het – natuurlik moet hy dan na Paul Eilers lyk, hoe kon ek dit gemis het! Mat is 34 ten tyde van die storie, reusagtig gebou soos ‘n voorry, met ‘n gesig soos ‘n valk. Hy is ‘n boekwurm en hy swem. Mat word ook uitgespreek soos die afrikaans vir carpet en nie soos in die verkorting van Matthew nie – nog iets waaroor sy reg was en ek verkeerd. Ek sal regtig met meer aandag moet begin lees in die toekoms, ek kry skoon skaam. Nie net oor sy my wen nie maar ook omdat ek die skrywer se harde werk nie ten volle benut nie. Skaam, baie skaam.

Soos ek hierdie jaar tyd het, het ek myself belowe, gaan ek my boekrak van ‘n kant af vat en oorlees. Duidelik het ek baie gemis oor die jare en kan dit my net goed doen wanneer ek en my Sussie weer begin boekepraat. Met die weerlees van Feniks het ek ook besef dat ek baie van die boeke wat ek as tiener gelees het, weer sal moet lees want ek dink nie my ontwikkelende brein van daardie jare het alles besef wat dit gelees het nie. Of alles reg verwerk en geïnterpreteer nie.

Dalenatjie se boekereis gaan binnekort die stasie verlaat.

Groetnisphoto (2)

Tyd het nie brieke nie en die battery raak nie pap nie

So besef ek toe mos nou vanoggend dat ek vier maade laas naby my blog was. Dit was nie ‘n geval van ‘n gebrek aan iets om te sê nie (wel miskien ‘n gebrek aan weet hoe om dit te sê) en ek dink ook nie dit was as gevolg van ‘n tekort aan tyd nie (miskien dalk net ‘n traagheid om tyd daarvoor in te ruim).

Die laaste vier maande was egter nie nie leeg nie. My sussie en haar man se eersteling is gebore – ‘n dogtertjie (die rede waarom ek nou deesdae hekel), ek het my babakat aan die dood afgestaan (ek weet nie wie hom die meeste mis nie – ek, manlief of die skaaphond), ek het leer hekel (kortbene, langbene en popcornsteke maak vir my ook nou sin), ek het al vyf die boeke in die “Song of fire and Ice” reeks van George RR Martin gelees (en moet nou twee jaar wag vir die sesde boek) en ek het ‘n stoel se rug- en sitvlakkussing gestoffeer (Manlief moet nog die res onder hande neem met ‘n paar skroewe, gom en geduld).

Genade, vier maande in ‘n neutedop – dit lyk so min…

Na al die Engelse leesstof het ek nou weer lus vir Afrikaans en Carina Stander se “Wildvreemd” staan gereed in die boekrak. Daarna sluip ek my tande vir Deon Meyer se langverwagte nuweling, “Kobra.”

Ons gesels weer.

Groetnis