Kom Ma, ons moet gaan melk!

My oupa aan vaderskant sou die 27ste Maart 83 jaar oud gewees het. Hy is laasjaar op die 5de Julie (2014)  na ‘n beroerte oorlede. Ek kon tot op hede nie oor hom skryf nie want ek het nie geweet hoe nie. Ek is steeds nie seker nie maar ek dink dit is tyd. Oupa was ‘n baie besonderse mens gewees. Meeste mense onthou om as ‘n terggees en ‘n groot persoonlikheid maar hy was soveel meer as dit. Hy was ‘n wonderlike man vir my Ouma, ‘n staatmaker Pa vir sy kinders en ‘n magiese aantrekkingskrag vir sy kleinkinders en agterkleinkinders.

Oupa het sy hele lewe lank geboer. Ek dink hy het die plaas se hart verstaan. Hy het ook nie skool klaargemaak nie want Oupagrootjie het hom op die plaas nodig gehad. Ek wonder soms watter ander draaie sy lewe sou geloop het as hy die geleentheid gehad het om te gaan studeer, alhoewel ek hom nooit rerig as die klaslooptipe gesien het nie. Ek het Oupa nooit ‘n boek sien lees nie maar hy het elke week sy landbouweekblad gekry en elke dag sy koerant by die winkel gaan haal en hom van hoek tot kant, voor tot agter gelees. Met Oupa kon jy enige iets gesels, hy was altyd op die bôl met alles. Oupa was ook aktief betrokke by die boerevereniging, die grondbewaringskommitee en destyds ook by die plaaslike kommando.

Oupa en Ouma het by ‘n piekniek ontmoet. ‘n Aanvallige ver-afrikaansde Italianer het by Ouma probeer vlerksleep en hoe meer sy probeer wegkom hoe meer vasbeslote raak die perd, totdat sy toe in Oupa se wagtende arms in retireer. En soos hulle sê, die res is geskiedenis… Voor hul ontmoeting en vir jare daarna het Oupa, ten spyte van sy eie plaaswerk, ook elke jaar graan gestroop vir sy bure. Hy het altyd met ‘n vonkel in die oog vertel hoe hy saans na ‘n lang dag op die lande en in die stroper vir Ouma op die buurdorp gaan kuier het. Daar gekom sou hy net vir ‘n oomblik op haar losieshuisbedjie ‘rus’ voordat hulle bioskoop toe sou gaan maar gewoonlik het dit uitgedraai dat Ouma maar gesit en lees het en hom maar laat slaap het tot so net voor middernag want wat sou die mense sê… Een aand na so ‘n kuiertjie het Oupa hom ge-misjudge met die pilare weerskante van die cattle grid en toe die bakkie netjies op sy dak gekeer.

Van my eerste en lekkerste herinneringe van plaaskuiers was om saam met Pa en Oupa in die Isuzu bakkie te ry en alles te bekyk wat Oupa op die plaas aanvang. Die skape, die Herefords, die aartappels, ertjies, mielies, afhangende van die seisoen. Daai lekker styfsit tussen hulle twee en die sagte bewe van die rathefboom teen my knie, ai hoe mis ek dit. Ek kan nie onthou of ek oor die dashboard kon gesien het nie maar hul sagte stemme en om deel te wees van hul geselskap was vir my genoeg.

Oupa kon mense genadeloos terg en ‘n storie so vertel dat jy later self nie meer seker was van feit of fiksie nie. Sy twee seuns, meeste van die kleinkinders en selfs Manlief het hierdie manier van storievertel aangeleer en ons kon vinnig snap en saamspeel as hy besig was met ‘n niksvermoedende prooi.

Oupa het altyd belanggestel in wat ‘n mens te sê gehad het, selfs die kleinkinders, veral die kleinkinders. Hy kon ons ook vir ure besig hou met stories uit sy jongdae, grootwordstories, dinge wat hy meegemaak het met die stropery, die wegsteek van die witblits in die kalkstrooier, spookstories uit die kontrei, bietjie goedige geskinder oor die bure ook. Geen koei was te heilig nie.

Oupa was nie die tipe wat vir jou met elke storie ‘n lewensles wou leer nie en hy het nooit sy idees op enige een afgedwing nie. Hy het ook geglo daarin om altyd behulpsaam te wees maar om nooit ooit vir iemand anders ‘n las of ‘n ongemaklikheid te wees nie, ‘n eienskap wat onbewustelik op meeste van ons afgevryf het.

Ek mis dit om saam met hom te sit en koerant lees, saam met hom ‘n whiskytjie te drink of net na hom te sit en luister as hy met iemand gesels of bietjie gekskeer. Ek mis sy lag en sy glimlag, sy belangstelling in ons doen en late, sy verwondering oor die natuur en die manier waarop hy altyd vir Ouma gesê het “kom Ma, ons moet gaan melk” as hy wou huistoe gaan na ‘n kuier, al het hy jare gelede al opgehou met melk.

Ai, ons mis Oupa, give that man a Bell’s…

Liefde en groetnis

*Die seuntjie agterop die fietsie is my oupa

Advertisements

Briefie uit die honde-hiernamaals

hills 2

Ons kry gister hierdie briefie in die pos en my hart is van voor af stukkend oor my hondekinders. Asof ek myself nie genoeg verwyt en kasty nie, asof ek nie genoeg verlang na die tweetjies nie, nou moet die hondekosmense ook nog hul stuiwer in die armbeurs gooi…

hills 1

Nie nice nie, glad nie nice nie.

Oupa tjaila vir oulaas

My Oupa aan moederskant het Dinsdag skuins na 17:00 aanbeweeg na ‘n beter plek. Hy was vir ampertjies ‘n jaar in die siekeboeg van ‘n aftree-oord, sy laaste aardse tuiste. Demensie en verskeie organe op die randjie van versaking het sy oumens lyf taamlik beetgepak. Hy was 80 jaar oud, het hierdie mylpaal in Mei 2012 gevier.

My Oupa was ‘n moeilike maar besonderse man. Hy was ‘n aspirant joernalis op sy dag en het vir ‘n wyle as korrespondent in sy area opgetree vir ‘n nasionale koerant. Hy was ‘n plaasseun en het met volstruise geboer. My Ouma is jonk aan bloedkanker oorlede, my ma was maar 18 en vanjaar was dit 35 jaar gelede. Oupa het vir nog so 6 of 7 jaar na haar afsterwe geboer maar toe besluit om die plaas te verkoop, dorp toe te trek en vir ‘n salaris te werk. Hy en my Ouma het 4 kinders gehad – twee dogters en twee seuns. My ma is die oudste.

Oupa het nooit weer getrou nie maar hy het vir die laaste tien of meer jaar ‘n inwonende vriendin gehad. Oor haar gaan ek niks sê nie, sy is dit nie werd nie.

Oupa was ‘n liefhebber van mooi woorde en stories. Hy het ook vir ieder en elk ‘n bynaam gehad, meestal uiters gepas by die persoon se geaardheid of manerismes of soms was dit net ‘n lekker rymelary, soos die een vir sy stiefouma – Ouma Tienie Landini… Hy het altyd ‘n interessante brokkie inligting of nuus gehad om met ons te deel. Ai, en kon hy homself nou lekker in die rede val as hy met ‘n storie begin. Jy dink nog hy is besig met een storie dan het hy al afgedwaal na die volgende! Maar moenie bekommer nie, hier teen die einde dan vang hy weer die eerste draad en dan bring hy die spul slim en stil-stil weer mooi bymekaar.

Ek is hartseer oor my Oupa wat vort is, trappe op hemel toe. Ek berus daarby dat dit die beste is en dat hy nou op ‘n baie beter plek is. Hy en my Ouma kan nou hul onderbroke huwelik se bande weer optel en mekaar weer geniet soos toe hulle jonk was, tot in lengte van dae.

Rus in vrede Oupa Johan

Liefde en Groetnis