Gallery

Sy is nogsteeds op vakansie – Swakopmund (2)

      

            

Advertisements

Tannie Pompie se oorlog

In 2006 het ek vir die eerste keer ‘n boek met die grensoorlog as tema of agtergrond gekoop. Die boek was ‘An unpopular war – from afkak tot bosbefok‘ deur JH Thompson. ‘n Resensie oor die boek het my nuuskierigheid geprikkel en die inhoud van die boek het my ryklik beloon. Sedertdien het my versameling grensoorlog boeke (fiksie en nie-fiksie) al so ‘n klein bietjie uitgebrei en met elke byvoeging leer ek iets nuuts oor ‘n deel van ons geskiedenis, asook die baie uiteenlopende emosies wat dit by mense aanwakker.

My pa was as dienspligtige ‘n seiner in die weermag, my ma was by die soldoedies gewees. Nie een van hulle praat ooit eintlik oor hul ervarings gedurende daardie tydperk in hul lewe nie. Aan die ander kant van die munt het ek ook al ‘n paar mense teëgekom wat nie kan ophou praat oor hul tyd in die army nie – gewoonlik verskil hul stories van vertelling tot vertelling en raak die knippie sout wat jy moet saamsluk soms baie brak. Die grensoorlogliteratuur is dus my nie-indringende bron van inligting.

Tannie Pompie se oorlog‘ deur Deon Lamprecht is my nuutste toevoeging en ek was aangenaam verras en vasgevang teen die tyd dat ek verby die eerste 20 bladsye gelees het. Dit vertel die storie van die jaarlikse insypeling van SWAPO oor die grens in die rigting van Tsumeb, Grootfontein en Otavi. Dit vertel van die mense van daardie streek, die dorpenaars, die inheemse bevolking, die boere, hul samewerking met die Suid-Afrikaanse weermag. Dit vertel van Daantjie en Pompie van der Westhuizen van die plaas Koedoesvlei, Daantjie wat saam met sy skoonseun en ‘n spoorsnyer in ‘n hinderlaag gedood is en Tannie Pompie wat getrou in haar kombuis haar deel gedoen het met weermagradios tussen haar kospotte en antennas in haar tuin. Die boek maak ‘n deur op ‘n skrefie oop en wys jou bietjie van die dag-tot-dag van ‘n oorlog, hoe ‘n gemeenskap dit hanteer en hoe mens tot mens daardeur geraak word.

Vir die eerste keer het sekere gebeure vir my ook sin gemaak, kon ek myself beter oriënteer binne die raamwerk van die oorlog. Tannie Pompie se oorlog het gelees soos ‘n roman en nie soos net nog ‘n oorlogsverslag wat paragraaf vir paragraaf tegniese terme uitspoeg en bitter min sin maak vir die leke tussen ons nie. Die interessantste karakters loop kaalvoet deur die boek se bladsye, sny spoor deur ‘n moeilike tydvak in ons geskiedenis.

Deon se vertelstyl was eers vir my vreemd, amper soos ‘n kombinasie van ‘n BBC-dokumentêr-verteller en ‘n skrywer van daai stories in daai Goue Reeks boekies wat vir ons op laerskool uitgedeel is. Hier en daar het dit gevoel of hy homself moet in toom hou om nie te liries te raak oor die geskiedenis, die storie en die mense nie. Maar dit was juis sy manier van aanbied wat gebeure meer as net ‘n geskiedenisles gemaak het, wat dit lewendig gemaak het.

Die eerste hoofstuk van die boek word gewei aan die oergeskiedenis van die streek, spesifiek konflikte tussen verskeie rolspelers (Ovambos, San, Duitsers, Engelse, Suid-Afrikaners…) oor die jare. Aanvanklik wou ek dit net bolangs lees maar dit raak toe so interessant dat ek nie kon ophou nie…

Ek het die boek baie geniet en sal dit aanbeveel vir enige een wat belangstel in die grensoorlog. Dink die storie sou in ‘n goeie fliek kon ontaard…

Groetnis

‘n Kasteel in die woestyn

Sondag, in die boekwinkel, opsoek na Deon Lamprecht se Tannie Pompie se oorlog, kom ek af op ‘n boek van Malene Breytenbach, Eenoogkoning. Ek het al vantevore een van haar boeke gelees, Pluimprinse. Die storie was mooi en die omgewing bekend maar die karakters se praat was nie vir my so lekker op die oor nie. Uit pure nuuskierigheid tel ek toe Eenoogkoning van die rak af op.

Ek bekyk die boek van voor en agter maar die inligting is min, loer toe maar bietjie binne-in. Daar blyk liefde, verlies en bietjie geskiedenis tussen die blaaie te wees.

En die Duwisib-kasteel in die suide van Namibië.

61OR4SB3SAL._SL1000_

Ongelukkig is die kasteel op die voorblad nie die Duwisib-kasteel nie. Ek het nog nie die boek begin lees nie so ek weet nie of daar nog kastele ter sprake is nie, maar indien daar nie is nie, het iemand nie hul huiswerk gedoen nie…

Ek en Manlief het die Duwisib-kasteel ‘n paar jaar terug besoek en verwonderd deur sy gange gedwaal. Die kasteel is in 1909, na afloop van die Duitse-Nama oorlog deur Baron Kaptein Heinrich von Wolf gebou. Die Baron het egter in 1916 tydens die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel en die Barones, wat ten tyde van sy afsterwe in Duitsland was, het net nooit weer teruggekeer na hul kasteel in die woestyn nie. DSC_0192

DSC_0166

DSC_0156

DSC_0182

Die kasteel behoort deesdae, na ‘n handvol eienaars, aan die staat en word goed onderhou. Ai, as daardie mure tog kon praat…

Groetnis

Stuur vir my ‘n poskaart…

Ek en my sussie is ywerige ondersteuners van Yuppiechef.com. Afgesien van afslag hier en daar, buitengewone items, goeie diens en die opwinding om iets deur die pos of koerier te ontvang, word elke pakkie wat afgelewer word vergesel deur ‘n yskasmagneet en ‘n kaartjie met ‘n persoonlike boodskap. Dit is soos om ‘n briefie te kry van ‘n ou bekende, dit laat ‘n mens so ‘n bietjie spesiaal voel. Die ander lekker van die kaartjie is die feit dat jy dit langs die stippelyn kan skeur en dan die voorste helfde as ‘n poskaart kan gebruik – iets wat ek en sussie so af en toe doen. Ek moet bieg dat ons dit lanklaas gedoen het, hopelik sal ons in 2015 meer moeite daarmee doen.

So lyk een van my poskaarte wat ek twee jaar terug vir haar gestuur het:

namibsandmol

Alhoewel daar molle in Namibië is, is die namibsandmol (en die gepaardgaande wetenskaplike naam) suiwer fiktief. Tydens my en Manlief se 2012 Namibiese toer het ons oral stapels klippe opgemerk en dis waar ons verbeelding oorgeneem het en die gespierde namibsandmol sy oorsprong gekry het. Die spatsels wit klip teen die koppies (nee dit was nie dassiemis nie – ken darem die verskil tussen ‘n witklip en ‘n witgekakte klip) is ook toe sommer die mol se toedoen, by gebrek aan meer kennis en ‘n beter verduideliking.

Groetnis