Kenia – Deel 2

Teen die einde van November 2013 het ek myself vir ‘n week en ‘n bietjie in Kenia bevind. My werkgewer het die besoek gereël en ek en twee kollegas (ek, ‘n leliewit dame, ‘n blanke senior navorser en ‘n swartman, selfde pos as myne, wat ‘n mooie, sagte engels praat) het ons tassies gepak en die reis aangedurf. Ons doel was om ‘n paar van hul landbounavorsingstasies rondom Nairobi en Naivasha te besoek en geleenthede te identifiseer vir toekomstige samewerkingsooreenkomste.

Ons vliegtuig het so hop-hop geland maar ons en ons bagasie het in een stuk ge-arriveer. By die hek wil ons die parkeergeld met ‘n $5 noot betaal, die kleinste geld wat ons op daardie stadium op ons het. Die hekwag val amper flou… $5 = KSH400, dus is $1 = KSH80 = R10.

So vaar ons toe Nairobi in, in ‘n emeraldgroen RAV4 wat al beter dae gesien het maar wat stukke beter lyk as meeste van die voertuie wat die pad met ons deel. Ons is opsoek na die Oakwood Hotel en na ‘n draai of twee vind ons hom gelukkig. Die plek lyk maar bietjie jammerlik van die straat af maar binne is dit pure koloniaal, Olde English op sy beste. Die hysbak lyk soos die wat ‘n mens altyd in ou films sien: ‘n konsertina deur, ‘n hefboom vir op en af en ‘n meganiese pieng as hy tot stilstand kom. Dit voel vir my of ‘n hele plantasie ge-offer is toe die hotel destyds versier is. Houtpanele van bo tot onder, houtvloere, houttrappe, duursame houtmeubels. Ek kla nie, dis ouwêrelds en pragtig.

DSC_5081

Na almal hul voete gevind het gaan stap ons ‘n draai deur die stad. Ek sal lieg as ek sê ek was nie huiwerig of benoud nie. Al was dit Saterdagmiddag was die stad se strate bedrywig, net mense en karre waar jy kyk. Orals was sekuriteitswagte wat die magdom winkeltjies teen plunderaars moet beskerm. Ons twee ligvelliges het uitgestaan soos twee modderspatsels teen ‘n glasdeur maar niemand het werklik van ons kennis geneem of selfs ‘n kykweer gevat nie.

Sondagoggend het ons in die rigting van Naivasha (‘plek van woeste water’) gery. Oppad daarheen was dit duidelik: hierdie mense steur hul geensins aan padreëls nie. Elkeen ry waar hy wil, hoe hy wil en wanneer hy wil, verkeersligte en daai links-regs hefboompie is suiwer vir versiering. Die verkeer bestaan meerendeels uit Matatus (klein trokkies of bussies), buda-budas (‘n motorfiets-taxi wat veronderstel is om een passasier te vervoer maar soms tot drie passasiers dra) en voertuie (karre en bakkies) wat al beter dae gesien het. Meeste van die plasies waarby ons verby gery het, bestaan uit groentetuine waar hoofsaaklik voerkool (kale), mielies, napiergras en aartappels verbou word. Die meer kommersiële plase het spilpunte en verbou mielies, lusern en koolagtige gewasse. Hierdie plase het draadheinings wat versterk word deur ‘n laning turksvyagtige plante met lang intimiderende dorings.

DSC_5086

DSC_5172

Klein plantasies van Grevilia robusta bome is ook hier en daar gevestig vir toekomstige brandhout Die paaie het nie ‘n skouer of sypaadjie nie en die boere plant tot teenaan die teer. Selfs op die skuinste stukkie grond word aartappels en napiergras in netjiese rye verbou. Die enkellopende skaap, bees of bok word met ‘n tou aan sy baas se grond geanker maar groot troppe beeste word deur ‘n beeswagter opgepas. Die beeswagter is tradisioneel ‘n man, oud of jonk, bewapen met ‘n kierie en ‘n reënsambreel.

DSC_5192

Die Maandag is ons na KARI (Kenya Agricultural Research Institute) Nairobi. KARI Nairobi is die administratiewe hoofkantoor van al die navorsingsplase in Kenya. Hier het ons ons gids vir die res van die week, Mr John Nguru, ontmoet. Mr Nguru het ons die volgende dag vergesel na ‘n Fleckvieh teler naby Karen (een van die buurte in Nairobi), ‘n kommersiële beesplaas naby Ngong, asook ‘n nabygeleë biogasaanleg. Die biogasaanleg was baie eenvoudig maar absoluut effektief.

DSC_5580

Die dag daarna is ons na Githunguri (‘plek van baie heuwels’) waar ons ‘n kleinskaalse melkboer ontmoet het en ‘n toer gehad het van ‘n plaaslike melkverwerker wat ‘n baie spesifieke nismark bedien. Lucy Mburu, die kleinskaalse melkboer besit twaalf frieskoeie waarvan sy sewe melk. Haar plasie is ongeveer 0.3 hektaar groot. Sy doen bykans alles self en maak ook haar eie verse groot. Die koeie word drie keer ‘n dag gemelk en sy kan vyf koeie per uur melk. Die koeie word kunsmatig geïnsimineer (ge-KI) deur ‘n verteenwoordiger van die maatskappy wat die bulsaad voorsien. Sy kan self kies watter bulle sy op haar koeie wil gebruik. Die diere bly almal in ‘n koeihuis. Hul word daar gevoer, asook gemelk en slaap ook daar. Die mis en vuil beddegoed word daagliks verwyder en word gebruik vir kompos of biogasproduksie. Lucy produseer haar eie napiergras saam met ‘n peulgewas wat sy dan vir die beeste voer. Die beeste kry ook mielies en ‘n mineraallek. ‘n Goeie koei sal so 20kg melk ‘n dag lewer, wat aan die melkkoper verkoop word teen ongeveer R5 per kilogram, ongeag die bottervet en proteïeninhoud. Ons vertel haar van ons probleem met arbeid wat geld wil verdien maar nie wil werk daarvoor nie. “In Kenya, if you sit down, you die,” som sy die situasie vir ons op.

Ons het die volgende dag by KARI Naivasha spandeer. KARI Naivasha is geleë teenaan die Naivashameer en hier word navorsing gedoen op grootvee, kleinvee, pluimvee, asook die verbetering van produksiefasiliteite en -prosesse. Hulle het ook demonstrasieplotte met verskillende weidingsgewasse en sluit enige iets in van napiergras, sorghum, rhodesgras, peulgewasse en ‘n patatkultivar wat meer ranke en blare en minder knolle produseer. Saam met die beeste loop hier rooibokke, waterbokke, kameelperde, springbokke, buffels, sebras en seekoeie rond. Die mense wat hier werksaam is, mag nie na-ure kom werk nie want die seekoeie wei snags tot teenaan die kantoorgeboue.

DSC_5636

Die Vrydagoggend het hulle ons drie op die agterste sitplek van ‘n ou dubbelkajuitbakkie ingeprop en deur die boendoes na nog een van KARI se navorsingsplase geneem. Hier word daar met Sahiwal beeste geteel, ‘n pragtige aangepaste rooi bees met hangore en ‘n stem wat grens aan ‘n brul eerder as ‘n bulk. Die plaas is 4000ha groot en dra 900 beeste, waarvan 300 bulle is. Die plaas verbou ook sy eie lusern vir voer vir die beeste. Die lusernkampe, rooigrond met ‘n effektiewe worteldiepte van tot ses meter, word elke vyftien jaar hervestig. Die lusern word besproei vanuit ‘n selfgeboude dam, “a makeshift dam, not a serious one,” het die navorser ons droogweg meegedeel.

DSC_5882

Wat ons weer en weer opgeval het is die noue samewerking en wisselwerking tussen die navorsers, voorligters en boere. Die navorsers en voorligters hou hul ore op die grond en soek voortdurend na oplossings wat toepaslik kan wees in hul kliënte (die boere) se situasies en aan die ander kant is die boere gretig om meer te leer en die raad en metodes wat die voorligters vir hul bring toe te pas en aan te pas om hul boerderye te verbeter. Soms is die tegnologieë baie primitief maar dit werk vir hulle en dit dra by tot beter produksie en dus ook voortuitgang.

Ek weet nie of ek ooit weer die geleentheid sal kry om daarheen te gaan nie maar ek is, ten spyte van al die vrese en bekommernisse wat ek gehad het (ons besoek was nie te lank na daardie inkopiesentrumbomontploffing nie) is ek dankbaar vir die geleentheid en dit wat ek daar kon beleef.

Groetnis

Advertisements

Daai ding van ‘n fietsryer op ‘n grondpad

Die vakansiegangers se koms hier na ons geweste hierdie jaar het my rerig nog nie begin pla nie – ja die verkeer is bietjietjie meer en die winkels bietjietjie besiger maar mens pas maar aan.

Vanoggend, oppad werk toe, het ek egter met mening besef dis vakansietyd. Ons bly mos so 25km uit die dorp uit, waarvan so 10km grondpad is. Sommige vakansiegangers is uiters pligsgetrou en bring hul fietse saam op vakansie. Ek het nie ‘n probleem met fietsryers nie, ek haal my hoed vir hul af dat hul daai baaiesukkel so lekker kan trap vir ure aaneen – ek kan nie, my boude is te min om my te beskerm teen daai saal se byt en nie ‘n gelsaal of ‘n gelbroek is genoeg om my op ‘n fiets te kry nie.

Soggens betree of betrap die fietsryers dan nou ons grondpad vir hul oggendsessie. Ek neem hul nie kwalik nie, ons boerderygebied is iets vir die oog en ons grondpaaie is darem nie té vrot nie. Probleem is net dat sodra hul op daai grondpad klim gebeur daar iets in hul breins en hul glo dan vas dat die pad spesiaal vir hulle daar is, wie dink jy is jy nou om soggens te wil werk toe ry, of wie dink die bosboulorrie is hy om vragte hout uit die berg uit saagmeule toe te vat, die pillelorrie om voer vir die melkerye aan te ry en die melklorrie om weer die melk fabriek toe te vat?

Hulle staan met hul peperduur fietse en styfpassende oefenpakkies die hele pad vol om vir mekaar te wag en ry dan ook sommer die hele pad vol, van links tot regs, wanneer almal weer by is. En behoede jou tog as daai stofstreep agter jou kar, ja daai een waaroor jy eintlik nie veel beheer het nie, jy kan maar ry so stadig soos wat jy wil, hulle onder ‘n fyn lagie stof bêre. Hoe durf jy! Oo daai kyke wat jy kry… Asof daar nie netsoveel teerpaaie in ons streek is met net so ‘n mooi uitsig nie, plus padskouers en geel strepe…

So nou koes ons maar vir die baaiesukkeltrappers, die tarentale, plaaskinders, werfhonde en die groot lorries as ons iewers heen moet ry…

Groetnis

Hoe plant mens ‘n krokodil?

‘n Krokodil is ‘n taai ding om te plant. Moenie jou plantmateriaal te lank laat lê nie, hulle raak groot en onbeweeglik, gebruik dit eerder terwyl hulle nog klein en sag is. Trek maar handskoene aan, die goed het mos fyn dorings.

 

Nog voor jy die plantmateriaal oor die internet aankoop moet jy ‘n grondontleding laat doen. Die grond kan maar bietjie aan die suurkant wees, so 5.5 sal doen. ‘n Hoë organiese inhoud (>2%) is verkieslik maar nie ‘n vereiste nie. Pasop net vir brakgrond – jy wil krokodille oes, nie biltong nie. Jou bogrond hoef ook nie so diep te wees soos vir lusern nie, die krokodil word plat op sy pens geplant en ons almal weet: ‘n krokodil is maar nie baie hoog op die bene nie. Dupleksgronde is ideaal vir krokodilproduksie omrede die kleilaag die krokodil se voete vashou en jou oes dus nie maklik kan wegloop nie. Leer nou ook sommer uit ander se foute en verseker ‘n minimale verlies: plant jou krokodille met ‘n presisieplanter.

 

As jy nie ‘n presisieplanter het nie, gaan leen die buurman s’n. Kalibreer hom baie fyn met die plastiek krokodille wat jy saam met die planter kry – dis te duur om die regte outjies te mors op kalibrasie. Maak seker die tussenrywydtes is wyd, taamlik wyd. Jy kan nie die krokodille te naby aan mekaar in die ry plant nie, daar moet so ‘n mieliestronk lengte tussen die twee oop wees, anders byt hulle mekaar se sterte.

 

As jy klaar geplant het, sit dadelik die spilpunt aan en gee so ‘n uur en ‘n half se water – net sodat die grond lekker kan klam raak en dat die kontak tussen die grond en die krokodil bêter is. Dit keer ook dat die outjies se oë nie so vol stof raak met die eerste laatmiddag wind nie. Daarna kan jy die aanplanting maar so een keer ‘n week water gee. ‘n Maand na plant sal jy die spul moet bemes, daarna bemes jy op ‘n maandelikse basis. Die maklikste is om oplosbare voedingstowwe te koop by die voersmous en dit sommer met die spilpunt toe te dien. Op die stadium is dit raadsaam om so min as moontlik deur die land te beweeg vir watter rede ookal. As jy iets moet kyk, kyk dit van die hek af. Lê sommer so teen die hek, dan lyk jy minder intimiderend.

 

Na ses maande behoort jou oes gereed te wees. ‘n Aartappelplanter werk ideaal vir krokodiloes. Gebruik verkieslik ‘n nuwerwetse een wat met net een operateur werk, daai soort met die glaskajuit en so aan. Krokodilproduksie is immers om verskeie redes nie baie arbeidsintensief nie.

 

Nou moet jy net verpakkingsmateriaal en ‘n mark gaan soek…

Bloubessie-tyd!

Die uwe is in die bevoorregde posisie om ‘n bloubessieboer baie goed <knipoog> te ken en as dit hierdie tyd van die jaar raak hoef sy net die wimpers bietjie te sak en skaam ‘n kuiltjie-wys-glimlag te gee om ‘n bakkie vol (of twee) te kry. Hy ken ook haar gunsteling cultivar – Jewel, ‘n spekvet bessie met net so ‘n titseltjie soet om die ‘crisp’ te komplimenteer. Die eerste handvol bessies laat altyd, soos sitrus, ‘n mens so kiewe so op ‘n knop trek.

Maar dis lekker, dit moet so wees.

Om bloubessies van die rak af te koop is taamlik duur, ek weet. Die ou bessietjie het egter soveel voordele (anti-oksidante, vitamien C, lieflike smaak…) dat mens tog maar ‘n bietjie daarvan moet in die hande kry so af en toe. Die seisoenale beskikbaarheid daarvan is ook maar beperk – by ons begin oestyd in Oktober en is klaar teen ongeveer Februarie. Hierdie jaar het ons boonop twee keer hael ook gehad – toe die plante begin blom het en toe die vruggies begin vorm het. Hael gebeur gewoonlik net een keer in twee jaar in ons area.

Ek wou vir julle my bloubessiemuffinresep bysit maar nou kan ek dit nie uit my kop uit onthou nie!

Groetnis

Maak los die hon-de!

Met geborgde kaartjies en vervoer in die vorm van ‘n 28 sitplek bus, vertrek ek en Manlief toe Donderdagoggend (‘n halfuur later as beplan – die bus was laat) saam met 14 mede landbouers (produsente en koöperasie-personeel) na die jaarlikse Agri Megaweek in Bredasdorp. Die koöperasie het ‘n aantal geborgde kaartjies beskikbaar gestel en die landbouverenigings in die streek moes dit uitdeel aan hul lede. Die 8-stuk personeellede wat saamkom moet die borg-beursie en kaartjies dra en sorg dat die span se magies en keëltjies tevrede bly. Gelukkig is hulle almal lekker gemaklike mense, anders sou hulle nie die dag oorleef het nie. Ek, Manlief en ‘n klein-neef van my Pa het ons Landbouvereniging verteenwoordig. Meeste van die ander mense het ek darem al vantevore ontmoet of teëgekom deur my werk.

Stuk-stuk word die landbouers van Uniondale, George, Mosselbaai en Albertinia opgepik soos wat ons vorder met die beplande 280km roete. Buffeljagsrivier was ons eerste groot stop. ‘n Koffiekan, gasbottel en twee skinkborde toebroodjies het te voorskyn gekom en die span het lekker ontspanne in die oggendson gestaan en bak. Die ketel is volgegooi en staangemaak, gasbottel vol-oop sodat daai watertjies kan vining-kook vir ‘n vinnige koffietjie. Toe nou nie. Die wind het al om die beskermings (die twee leë skinkborde) geloer en gewaai en die water het koud gebly. Kafeekoffie is aangedra en ons is weer vort.

‘n Uur of wat later stap ons toe deur die hekke by Agri-Megaweek. Ek en Manlief kyk mekaar so en besluit ons moet ‘n stelsel uitwerk, anders gaan ons iets mis. Eerste stop: die vee-uitstallings. Kraampies vol skougehalte skape en beeste, klein varkies, skaaphondjies en twee ganse met die mooiste geel-geel kuikens. ‘n Moerse Angusbul lê sy hok VOL. So vol dat sy stert buite lê aan die een kant en sy neushare wyd verby die versperring staan aan die ander kant. As hy opstaan gaan dit beter maar ‘n bul met so ‘n lyf kan nie heeldag staan nie, die ou moet bietjie lê ook.

Ons loop op en af deur rye en rye uitstallers met interessante patente, idees en goeters. Die mense is opgeruimd en vertel entoesiasties vir elkeen wat wil hoor van hul produkte. Sommiges het selfs hul rusbanke en koffiemasjiene saamgebring. Meeste stalletjies is versier met potte en potte vol van die mooiste fynbos: proteas, speldekussings, heide en tolbosse. My keel trek skoon toe van al die mooi!

Volgende durf ons die trekkers en implemente aan. Alles is ge-‘spit’ en ge-‘polish’ vir die geleentheid. Daar is groen trekkers wat groter as ‘n HOP huis is en rondebalers wat ‘n 700mm x 700mm rondebaaltjie uitskop. Al te skattig, my darling. So ‘n klein rondebalertjie het natuurlik ook ‘n bypassende klein bossiekappertjie en ‘wrappertjie’ sodat jy klein kuilvoerbaaltjies kan maak. Daar was groot rooi trekkers en ‘n ry groot blou trekkers ook. Sonpanele en windturbines is ook tentoongestel. Vir die dames was daar ook tente vol padstalgoeters, ‘n kwekery en selfs ‘n Chelsea blommeskou in die kleine. Boonop loop mens soveel kennisse daar raak dat ‘n dag so vining verbyvlieg dat daar nie eens motte in die radiator kan beland nie!

Om 17:00 het die hekke gesluit maar ons het eers omtrent 18:00 in die pad geval. Voor ons kon ry moes die koöperasieman eers vir elkeen ‘n loopdop gooi vir die pad. Teen die tyd dat die laaste siel ‘n glasie in die hand gehad het, was die eerste ou se dop al klaar en moes hy noodgedwonge ‘n tweede rondte skink. Traag is die bus se trappies bestyg. Pa se neef het, soos hy in die bus ingeklim het, nootvas, met sy diep stem losgetrek met ‘n melodieuse “Maak los die hon-de!” en van daar af was dit een groot party totdat ons veilig terug was waar ons die oggend begin het.

Geniet die naweek!

Groetnis

Werfdinge

My man is een van drie bestuurders op ‘n plaas in die Suid-Kaap. Ons huisie en die huisie van een van die bestuurders staan saam op dieselfde werf, so na aan mekaar dat ons tuine, water en troeteldiere kon deel. Buurman se jongste knaap is tipies plaaslaaitie – goedbedoelend-wysneus-voortvarend. Soveel so dat hy een van die kleinspan inspan om vir hom ‘n hoender te vang – so ‘n goedgemanierde wit kapokkie dingetjie. Die hen is toe sommer ook “Hoender” (uitgespreek sonder die “d” maar met ‘n dubbel “n”) gedoop.

 

Hoender het sonder om te blik of te bloos in ons harte ingekruip. Jy kon haar gereeld iewers in die tuin sien wei, so ‘n bolletjie wit onder ‘n pienk roosboom of agter ‘n graspol. Op die koop toe lê sy die oulikste klein wit eiertjies, ‘n heerlike vars produkkie waarvoor Buurman en die hond, ‘n duitse herdershond met ‘n senuweeprobleem, moes kompeteer om eienaarskap.

 

So besluit die eienaars van die plaas om nog grond by te huur, waarvoor Buurman net te dankbaar is. Hy, sy vrou en hul drie seuns (orrelpypies van 12 to 15 jaar oud), plus die hond en Hoender, pas nie so lekker in ‘n klein beknopte tweeslaapkamer huisie wat met gemak in ‘n Rotatrim printerpapier boks kan pas nie. Die huurgrond het ‘n ruim drie slaapkamer huis met ‘n leef area waarin ‘n mens kan asemhaal en ‘n tuin wat skree om in die “Garden and Home” te verskyn.

 

Hoender bly toe nou agter daar by ons totdat Buurman en sy kroos goed ingeburger is. Ek het ook nie op my laat wag nie en voorsien daagliks mildelik mielies aan Hoender, met die gevolg dat ek gou die heldin in haar kiep-kiep wêreld word. Ek het skaars my voet by die deur uitgesit en met ‘n toe vuis op die stoeptrap gaan staan, dan hoor ek ‘n gevroetel in die tuin. Vyf tellings en dan skiet so ‘n wit gesiggie soos ‘n meerkat tussen die plante uit om te sien waar sy haar kan kom dik-pik.

 

Ek het nooit besef dat ‘n hoender so interessant en intelligent kan wees nie. Ons vriendskap was egter van korte duur en ons moes groet toe Buurman haar kom haal het. Ek het egter nie op my laat wag nie en ‘n soektog op tou gesit vir ‘n plaasvervanger – Hoender II (uitgespreek sonder die “d” maar met ‘n dubbel “n”). So bekom ek toe twee Orpington henne. Pragtig ligbruin, vol in die lyf, ken van skrop.

 

Die een het vinnig haar ware vere gewys, ‘n opperste rebel wat nie gesag aanvaar nie en soos ‘n wafferse Rambo in die bosse in ‘n leë dam gaan bly het. Camoflauge strepe op die wange, klein messie in die skede aan haar regterbeen. Die ander dame was meer bedees en het beter ingepas in die werfhoender rol. Twee eiers op ‘n daaglikse basis gelê en verder die tuin skoongemaak het van wurms en ander goggas wat my plante wou verniel.

 

Maar ons vrolike saamkuier was van korte duur. Ons het ‘n hondjie aan geskaf wat ons kan waarsku van gevaar. Woef het haarself egter ook die werk opgelê van “hoenderjaer.” Met vanselfsprekende gevolge. Beide hoenders woon nou in die leë dam tussen die bosse, gelukkig soos Saul en Kate in die Knysnabosse. Ek sien hul nog so af en toe, twee ligbruin skimme wat van tyd tot tyd oor die pad hardloop wanneer hulle dink dat niemand kyk nie. Drie, twee, een, terug in die langgras, gelukkig en tevrede (as ek hul gekloek reg verstaan…).