Vir ‘n sonskyn-bessiebos man

Haar bors dein sigbaar wanneer sy die soet sitrusstoom behaaglik inasem terwyl sy luister na sy naderende voetval op die plankvloer van hul slaapkamer. Sy hou haar oë geslote terwyl sy wag vir sy vingerpunte om oor haar hare te streel, soos altyd as hy haar groet na ‘n lang dag.

Hy versteur die gety wanneer hy sy moeë lyf tussen haar rug en die bad se rant laat insak. Haar seepbelhalslyn stoot op en af oor haar bors soos n nagrok wat kleef op n warm bergwindnag. Sy lê agtertoe sodat haar kop op sy skouer kan rus. Sodat sy met net n effense draai van haar gesig haar lippe teen sy nek kan druk, hom sag in sy nek kan soen en sy sonskyn-bessiebos reuk diep kan inasem. Sy knieë verrys weerskante van hare uit die soel water en anker hulself wyd teen die wit enamel. ‘n Handvol borrels gly oor sy bobeen, skaam-skaam teen sy binnebeen af, terug water toe. Sy lig haar knieë om hul paralel teen syne aan te lê, haar vel porselein, syne sonbruin.

Die gety eb en vloei teen hul velle en fluisterings van lemmetjie en suurlemoen, selfs ‘n bietjie bergamot, tuimel saam met die stoom deur die vertrek. Sy arms volg die vorm van die bad se rant en sy vingers tas ingedagte oor die sementsoom tussen die enamel en die teëls. Sy vou sy kniekoppe toe met haar handpalms, trek spelerig aan die liggoud hare op sy skene. Sy arms glip deur haar kieliebakke, vou om haar lyf en trek haar nader aan sy bors, stywer teen sy lyf vas. Sy skep ‘n bakhand vol skuim en giet dit in die klofie tussen sy voorarms en haar borste. Dit sypel stadig weg tussen die porselein en sonbruin van hul ineengestrengelde lywe, sypel weg soos die dag se gejaag en frustrasie wegsypel wanneer hul lywe mekaar na ‘n lang dag vind en weer heelmaak.

Iewers langs ‘n stofpad

Hy kan sy oë nie van haar af hou nie. Haar gevryde lippe, die vonkel in haar stormblou oë. Haar bors dein effe op en af, hy herken nog sy ritme daarin. Hy sien die vlekkelose blos oor haar wange, waardeer weer die rondings van haar lyf wat oomblikke tevore nog sy handpalms volgelê het, die vrou wat kortstondig maar blywend besit geneem het van sy rede en hede.  Hy trek sy gulp stadig op terwyl hy haar dophou. Haar oë loer wimperskaam na hom. Hy sien hoe sy ingedagte haar klere regtrek, met haar hand oor haar hare tas en met haar wys- en middelvinger oor haar lippe streel. Daai lippe wat ondeund glimlag, wat smeek vir nog.
“Ek weet nie hoe ek jou ooit gaan kan los nie,” bely hy terwyl hy traag haar rug na hom draai om die kalkstof daarvan af te vee.

‘n Ander man se vuur

“Moenie so naby aan my staan nie…” Waarsku hy toe sy langs hom inskuif voor die braaivleisvuur. Die brandende houtstapel tuimel lomp ineen en ‘n dwarreling vonkies verdwyn in die skoorsteen op. Die vlamme lek aan die stukke ongebrande hout wat nou nader aan die hittebron beland het. Die kole gloei rooiwarm tussen die as daaronder. Binne in die huis doef-doef een of ander popliedjie en iemand vertel iets in ‘n opgewonde stem terwyl die res skater van die lag. Hy staar ingedagte na die vlamme, neem ‘n sluk van die bier in sy hand maar kyk nie in haar rigting nie.

“Hoekom nie?” Sy maak nie aanstaltes om te skuif nie. Die geknetter van die vuur vul die stilte tussen hulle. Die vingers van die hand wat sy bier vashou streel ingedagte oor die kurwes van die bottel terwyl die vlamtonge steeds sy oë gevange hou. Sy wysvinger trek sirkeltjies oor die nek van die bottel, sy duim streel op en af oor die riffels op die etiket. ‘n Ligte bewing trek deur haar lyf. Hy breek die gewag met ‘n gedempte stem:

“Want langs jou is ‘n muur en ek wil jou daarteen vasdruk en deurmekaar vry.” Die musiek raak sagter, word vir ‘n oomblik stil voordat die volgende treffer begin speel.

“Wat keer jou?”

“Jy is nie myne nie.”

Sy knik en bly stip voor haar kyk. Die kole raak al meer, die vlamme al minder.

Anderkant die glas

“Is dit nie wonderlik hoe twee mense so sonder draadwerk, so platonies, vriende kan wees nie?” Vra sy aan hom terwyl hulle voor die venster staan en na buite kyk na waar hul wederhelftes nadergestap kom. Die twee mense aan die anderkant van die venster loop langs mekaar en die vrou beduie na iets op ‘n kamera se skermpie terwyl die man ingedagte knik. Die vrou glimlag vir hom en hul skouers skuur teen mekaar soos hul in die breë voetpad opgestap kom. Die man glimlag terug en die vrou kyk vinnig weer af na die kamera in haar hand. Hul gesigte is naby mekaar en dit lyk of die vrou aandagtig luister hoe die man iets aan haar verduidelik terwyl hy die kamera uit haar hande neem en dit speels op haar rig.

“Dit is ja.” Beaam hy, terwyl hy sy arm om haar lyf sit en haar weer kortstondig teen hom vasdruk.IMG_1567

Die duiwel in die detail

deur Dalenatjie

 

Carla ry huis toe met die duiwel op haar skouer. Heeldag al sit hy en met sy krom vingers en speel met die string bont krale om haar nek terwyl hy saggies aan ‘n onheilspellende deuntjie neurie. Die 20 minute huistoe voel vandag vir haar te lank maar sy durf nie vinniger ry nie, ‘n grondpad is nie jou maat nie. Carla se gedagtes dwaal ver. Hulle volg die roete wat die duiweltjie aandui en word skerp vermaan as hul durf rondkyk of afdwaal. Gert tree vreemd op die laaste paar weke, redeneer Carla met haarself. Hy is buierig en spring van speels en spontaan na knorrig en stug. Sê nou maar daar is iemand anders? Sê nou maar sy betrap hulle in haar huis, hul bed? Sy krimp ineen by die gedagte en dit brand liggies agter haar ooglede.

 

“Nee, nee, nee,” redeneer sy hardop met haarself.

“Gert sal dit nooit aan my doen nie! Of sal hy? Hoekom sal hy? Ek ondersteun hom, gee hom kos, gee hom liefde…” Haar woorde droog op in ‘n snik, Die duiweltjie lag hie-hie-hie op haar skouer terwyl hy sy kop skud. Sy vee haar trane ergerlik aan haar mou af en probeer op die pad konsentreer. Nog net twee draaie, hek oopmaak en dan bult af huis toe.

 

Na die tweede draai kan sy die huis sien. Sy bakkie staan in die oprit. Haar hart mis ‘n slag. Gert kom bykans nooit in die dag af huis toe nie, veral nie so na aan uitvaltyd nie. Impulsief skakel sy die motor af en laat dit vryloop tot op haar parkeerplek onder die boom. Carla klim saggies uit en los die motordeur oop. Sy beduie vir die honde om stil te bly, wat hul, ewe skewekop, gedienstig doen. Sy stap stadig met ‘n kloppende hart na die huis toe. Af met die trappies, verby die rose, deur die stoephekkie. In die koelte van die stoep gaan staan sy stil, maak haar oë toe en luister. Die duiweltjie dans ‘n stadige riel op haar skouer terwyl hy grinnik en handjies klap. Vanuit die huis kom daar sagte gesels, iemand lag. Carla versteen.

 

“Asem in, asem uit” fluister sy vir haarself en dwing haar bene om vorentoe te beweeg. Die sitkamer is leeg behalwe vir Gert se stewels wat voor die bank lê. Die kombuis lewer ook niks op nie. Die duiweltjie het op die stoep agtergebly en hou haar bewegings saam met die honde dop. Weer hoor sy die sagte gelag vanuit die slaapkamer. Carla wonder wie dit kan wees. Sou sy mooi wees? Slank met golwende hare? Interessant en eksoties, of misterieus en donker? Die kamerdeur is toegestoot. Haar heiligdom agter die deur is donker. Sy steek haar hand uit na die deur, maak haar oë toe en bars dan in die kamer in en maak haar mond oop om te praat. Haar stem verdwyn in haar keel toe sy haar oë oopmaak en die toneel aanskou. Dit voel of Carla se bene onder haar ingee. Verward gryp sy na die kosyn, staar na die radio waaruit ‘n gelag en gesels borrel, ‘n sexy stem aanbiedster wat ‘n onderhoud met ‘n bekende komediant voer. Gert lê op die bed voor haar en snork saggies, ‘n pakkie hoofpynpille langs hom op die bedkassie. Verligting spoel deur haar en sy blaas haar asem stadig uit. Carla skop haar skoene uit, laat val haar handsak op die vloer en klim agter sy rug in en druk hom styf teen haar vas.

 

Carla het nie gesien hoe hy sy selfoon suutjies toemaak en wegsteek nie.