Die meisie in die spinnerak

David Lagercrantz is nie Stieg Larsson nie, maar hy is ook nie sleg nie.

Wie is David Lagercrantz en Stieg Larsson? Beide is Sweedse skrywers van misdaadfiksie en beide het bygedra tot die Millenium reeks. Die Millennium reeks het begin as die Millenium-trilogie (“The girl with the dragon tattoo,” “The girl who played with fire,” en “The girl who kicked the hornets’ nest”), geskryf deur Stieg Larsson. Larsson sterf egter aan ‘n hartaanval voor die trilogie gepubliseer kan word. Volgens sy lewensmaat het hy reeds ‘n raamwerk uiteengesit vir die vierde boek maar sy weier om dit met sy uitgewer te deel.

David Lagercrantz word toe genader om die reeks oor te vat en die vierde boek, naamlik “The girl in the spider’s web” word in 2015 gepubliseer. Dieselfde karakters, dieselfde agtergrond en dieselfde storiewêreld. Maar natuurlik met sy eie persoonlike stempel daarop.

In kort fokus die Millennium reeks op die avonture (nie heeltemal die regte woord nie, die Engelse ‘exploits‘ sou beter werk) van twee Swede, Lisbeth Salander en Mikael Blomkwist, asook ‘n verskeidenheid gure en ongure karakters wat hul paaie kruis. Lisbeth het ‘n moeilike kinderlewe gehad en sy werk stadig maar seker aan ‘n vergeldingsplan, gemik op die man wat die wortel van al haar kwaad is. Bygesê, sy verafsku alle mans wat vroue haat en mishandel en sy dink baie kreatiewe maniere uit om hulle te laat boet daarvoor. Mikael Blomkwist is ‘n gerekende joernalis wat nie sukkel om vrouens te verlei nie. Lisbeth en Mikael se paaie kruis wanneer hy haar vaardighede as kuberkraker inspan om ‘n vermiste persoon wat reeds dekades lank vermis word, op te spoor. Wanneer die twee hul uitsonderlike vermoëns om inligting uit te snuffel bymekaarsit, spat die vonke en ontdek hul baie meer as waarop hul gereken het. Deur die loop van die eerste drie boeke beweeg Lisbeth, met die hulp van Mikael en die handjie vol mense wat haar goedgesind is, al nader aan haar einddoel, onortodokse metodes en al.

Vir die grootste deel van die boek het hy hom uiters goed van sy taak gekwyt. Lisbeth was nogsteeds Lisbeth, bedonderd en moeilik, en Mikael was nogsteeds Mikael, ewig opsoek na die storie agter die storie. Maar Lagerkrantz was soms net ‘n bietjie te sag en romanties in vergeleke met die eerste 3 boeke uit Larsson se pen. Die slotparagrawe, waar Lisbeth vir Mikael gaan opsoek was ook heeltemal teen Lisbeth se manier van doen en praat. Ek hou van ‘n happy ending maar daai een val nou nie so lekker op die verbeelding nie. Ook sy gewoonte om hoofstukke af te sluit met ‘n sin of twee wat soos goedkoop ‘click-bait‘ lees het my nie aangestaan nie. (Click-bait is ‘n verskynsel wat deesdae orals op-pop, veral op sosiale media en nuuswebwerwe, waar die opskrif so geskryf word dat dit absoluut niks weggee van die artikel nie en jou dus dwing om op die skakel te kliek as jy meer wil weet. Meeste van die tyd is dit dan ‘n niksseggende artikel wat eintlik nie eens internetspasie werd is nie.)

Die storielyn was ‘n behoorlike wilde rit gewees, vol verrassings en eintlik heel bevredigend. Sommige goedjies was dalk net bietjie te gerieflik ter wille van die storie (byvoorbeeld die outistiese seun se wye verskeidenheid talente) maar ons sal nou nie hare kloof daaroor nie, enige iets is immers moontlik.

Sommige bronne beskryf die boek as “fan-fiction” (fiksie gegrond op die karakters maar geskryf deur ‘n aanhanger) en dalk moet ‘n mens dit in daardie lig sien. Dit kan ook wees dat sekere nuanses verander het met die vertaling van die oorspronklike Sweeds na Engels. Lagercrantz het my oortuig en ek is tevrede maar ek het so ‘n klein bietjie meer verwag wat die konstantheid van die karakters betref. Ja, daar was karakter-groei gewees en ek misken dit nie maar ‘n jakkals verander van haar maar nie van snaar nie.

All-in-all bly die Millennium-reeks misdaadfiksie wat die moeite werd is om te lees en jouself in te verloor. “The girl in the spider’s web” doen nie afbreek aan die reeks nie, kom ons hoop daar is ‘n vyfde boek oppad.

Koors

Ek was ook skepties. En bang. Want Deon Meyer is sinoniem met misdaad, spanning en Bennie Griessel. ‘n Post-apokaliptiese wêreld? Memoires? Nico Storm? Sê nou maar dit is so ‘n Mad Maxerige besigheid vol weird wetenskapfiksie en voorvader geeste en grafte? Nee, dit wou net nie sitplek kry by my nie…

Maar toe is ons toevallig in die Kaap vir ‘n kursus toe Koors by die Drostdy Teater in Stellenbosch bekend gestel word. My sussie het vir ons kaartjies gekoop en ons het vir ons opgedress in sykouse en high heels. (‘n Pregnant fairy in high heels? Dis ek daai!) ‘n Geleentheid om Deon Meyer in lewende lywe te ontmoet en vlugtig met hom te gesels terwyl hy vir jou sy boek teken was rede genoeg om die koue aan te durf en jou brein (en hart) oop te stel vir Koors.

Hy lees vir ons ‘n stukkie voor uit die boek en gesels dan, sonder om die storie weg te gee, oor die boek en waar die idee vandaan kom en hoe hy dit benader het. Zoë Brown lees nog ‘n paar stukke uit die boek en ek kry so ‘n krieweling en daai hoek slaan vas. Die boek is iets heeltemal anders maar dis Deon Meyer en dit gaan die tyd werd wees. Manlief moet maar ‘n kosmaakbeurt of twee vat.

Ek het my tyd gevat en rustig gelees want ek wou soveel as moontlik details en nuanses raaklees. En dit was ‘n reis en ‘n half saam met Nico Storm en al die ander karakters. ‘n Hele klomp uiteenlopende karakters met min-of-meer dieselfde doel voor oë maar elkeen met ‘n eie idee oor hoe om dit te bereik. Verskuilde agendas, kinkels in kabels…

Ek was skepties maar ek is oortuig. Ek is skaam om te erken dat ek getwyfel het.

Dit was die leestyd werd.

Groetnis

EDIT: Ek gaan ‘n ertjie kraam as iemand weer vir my sê dat hulle nie van ‘Koors’ gehou hete nie omdat Bennie Griessel nie daarin is nie. O my liewe koek! Deon Meyer is soveel meer as net Bennie Griessel! Bennie is fantasties maar Bennie is nie al waartoe Die Meesterlike Mnr Meyer tot staat is nie..

Ag koek, onthou jy daai boek?

Rondom dieselfde tyd wat ek vir Griet skryf ‘n sprokie gelees het, het ek ‘n ander Afrikaanse boek gelees wat, soos ek kan onthou, in die tyd van sprokies afgespeel het. Om een of ander rede het ek laasgenoemde altyd met Griet geassosieer maar na die herlees weet ek dat dit nie dieselfde boek is nie en begin wonder ek nou of daar wel so ‘n boek was en of my verbeelding nie op hol met my gegaan het nie. Ek kan ook nie veel onthou van Griet kom weer nie so ek kan nie sê of ek dalk daarna verwys nie. Ek besef ek klink nou effe kêns maar ek kan rerig nie onthou of hond haar-af maak van dit wat ek wel kan onthou nie. Plaas ek daai tyd gedink het daaraan om boek te hou van wat ek gelees het…

In ieder geval, ek kan nie veel van die boek onthou nie maar om een of ander rede het iets daarvan by my vasgesteek en sal ek dit ook graag weer wil lees. Ek verbeel my die boek het twee paralelle storielyne gehad (een in die hede en een in die tyd van sprokies). Die sprokiesdeel het afgespeel in of naby die Swartwoud en daar was Berke- en Beukebome. ‘n Vrou is in die woud aangeval en sy moes deur die trauma daarvan werk. Van die hede se storielyn kan ek nie veel onthou nie, weet net daar was ‘n grot betrokke en ‘n kondoom wat met ‘n speld stukkend gesteek is…

Genade, hierdie klink soos ‘n koorsdroom of ‘n papagaaislaai-geïnduseerde hallusinasie… Ek hoop een van julle kan my help! Of ten minste net vir my sê “Dalenatjie, hou op yl!”

Groetnis

Griet skryf ‘n sprokie

Die geel omslag van Marita van der Vyver se Griet skryf ‘n sprokie bespring my mos toe nou die dag in ‘n tweedehandse boekwinkel. Ek dink ek was Graad 9 toe ek dit die eerste keer gelees het, wou dit nog altyd weer gelees het, so toe gaan dit maar saam huistoe.

As 15 jarige, besef ek nou, kon ek defnitief nie alles begryp wat ek gelees het nie. Tog het die boek, die storie en die manier van storievertel, destyds ‘n groot indruk op my gemaak (alhoewel ek vermoed dat die gevryery tussen die bladsye ook ‘n groot invloed gehad het). En Griet skryf ‘n sprokie se tweede lees as volwassene het my nie telleurgestel nie, nie in die minste nie. Nee, Marita mag maar skryf.

Wat ek wel besef het, nadat ek die boek sag toegemaak het, langs my neergesit het en hande gevou agteroor gaan sit het, was dat die regte (of verkeerde) boek op die regte (of verkeerde) tyd ‘n ongelooflike invloed op ‘n mens se denkwyse kan hê. (Op hierdie punt kan ons nou begin debatteer oor ouderdomsbeperkings, emosionele intelligensie en kennis-is-mag…)

Keer op keer was sinne en paragrawe in die storie vir my soos ‘n spieël waarin ek my eie manier van dink herken het. En dit is nie noodwendig ‘n slegte ding nie. Vandag kan ek Griet en haar sprokies meer waardeer ja, dit is waar, maar as ek die tyd kon terugdraai sou ek weer op ‘n Dinsdagmiddag na skool uit my ma se kar geklim het, die boek saam met 3 ander by die biblioteek gaan uitneem het en dit weer gelees het en my weer verwonder het aan die sprokieswêreld wat tussen die bladsye op my gewag het.

Vandag is ek wie ek is en ek hou van wie ek is. Baie mense en baie boeke het ‘n invloed gehad op my emosionele grootword en sonder hierdie tydige (en soms ontydige) invloede sou ek mos nie ek gewees het nie?

Mense, dis lekker om lief te wees vir lees!

Groetnis

Boer kry ‘n vrou

Belangrik: As jy jonger as 18 is of maklik aanstoot neem teen kras woordgebruik of onder die belt verwysings moet jy dalk liefs nie hier lees nie, my opinie en taalgebruik mag dalk aanstoot gee.

My goeie vy… Kyk né, ek glo dat as jy ‘n opinie oor ‘n boek of ‘n rolprent wil hê moet jy die hele boek gelees het of die hele rolprent gekyk het. Kennis is mag en the proof is in the pudding, of hoe?

Practice what you preach. Ek het die laaste drie dae deur ‘n boek geworstel en my tande is deur gekners. Tot op die senuwee deur. NB uitgewers het my verlei en met ‘n, uhm, stywe riem gevang met ‘n slim voorskou in hul nuusbrief, om Jan van Staden se Boer kry ‘n vrou te lees, want “Nog nooit was Afrikaanse fiksie só warm nie. Nog nooit is daar so lekker op papier gevry nie.” Nou kyk, gevry is daar, en gesteek, gestamp en gespyker is daar ook maar ek kan my nie indink hoe ‘n gerekende, gerespekteerde uitgewer soos Tafelberg Uitgewers ‘n boek van so ‘n swak gehalte kan uitgee nie?!

‘n Gevryery, lakendanse, naaktheid, stywe menere en gewillige lywe in ‘n storieboek kan ek hanteer, ek soek dit, ek hou daarvan. Laat ons eerlik wees, dis hoekom ek die boek gekoop het: vir die beloofde sekskepades daarin. Geskrewe liefdestonele of sekstonele (laat ons tog nie die twee verwar nie) was nog altyd vir my ‘n groter turn on as die visuele weergawes daarvan. Wat ek egter nie kan hanteer nie is die swak letterkundige gehalte van die boek. Die boek voel vir my soos ‘n moerse versameling wetdreams wat aanmekaar ge-, uhm, steek is met stukkies storielyn. Spelfoute, lomp sinskonstruksies… Om nie eens te praat van die dialoog nie! Die karakters klink almal dieselfde, hulle praat sulke lang sinne en hulle praat geensins soos mense van hul ouderdom nie (as jy nie geweet het die jongmense is tussen 20 en 30 nie, sou jy wraggies gedink het dis ‘n spul middeljariges en afgetredenes…)

In kort handel die storie oor ‘n jong boer wat ryk geërf het, geseën is met ‘n formidabele meneer wat bykans nooit níe op aandag staan nie en ‘n reputasie wat ‘n paar keer die lengte is van dit wat in sy broek bult. Die liefde ontwyk hom miskien maar nie die dorp en omgewing se ontroue, getroude en ongetroude vroue nie. Almal wil vir Juan toetsbestuur, almal is dan binne sekondes na die eerste orgasme lief vir hom (nie verlief nie, lief) en al die wat nog nie ‘die daad’ gedoen het nie, wil hê dat hy hul eerste moet wees. Dan besluit die perd hy gaan vir Boer soek ‘n vrou inskryf om sy lewe en liefdeslewe in orde te kry terwyl hy steeds al wat gewillig is met graagte vir ‘n joyride vat op sy pienk, uhm, geelslang. Die boek neem die leser op reis saam met Juan in sy soeke na ware liefde.

Ek weet nie veel van die skrywer nie (behalwe vir die inligting op Tafelberg Uitgewers se webtuiste en dat hy al verhale op Litnet gepubliseer het) maar ek weet wel dat om ‘n blog, of stories vir ‘n webtuiste, te skryf en om ‘n boek te skryf twee heeltemal verskillende koppies tee is. Kon die uitgewers hom nie bietjie meer leiding gegee het en ons ‘n bietjie lyding gespaar het nie? Genade griet. Daar is bietjie potensiaal in die storielyn maar ai, die karakters, die arme karakters. Ek het lanklaas so ‘n groot klomp ongeloofwaardige vrouekarakters in een boek teëgekom. Hulle is so behoeftig vir sy aandag en so tevrede om hom te deel. Ek is jammer maar meeste vrouens waarmee ek al te doene gehad het sou nie net met leepoë deur die gordyne loer, met sy reuk nog aan haar lyf, wetend dat hy alweer besig is met die volgende een en maar net okay wees daarmee nie… Aikôna.

Maak geen fout nie, seks kan en is al op die verleidelikste wyse in Afrikaans geskryf. Die bestes maak egter meer staat op suggestie, amper asof die toneel skaam knipoog maar uitlokkend been wys. As seks op papier begin klink soos die regiseursnotas van n bloumovie dan werk dit nie meer vir my nie.

Boer kry ‘n vrou kon met minder soveel meer gewees het.

Groetnis

Ikarus

Ek het seker so ‘n uur terug Deon Meyer se nuutste, Ikarus, toegemaak. Ek is tevrede, dit was fantasties. Nee, dit is nie die lojale fan wat praat nie, dis iemand met waardering vir ‘n goeie storie wat meesterlik vertel is. Ek gaan niks verder sê nie, ek is tevrede. Dankie Deon, dankie, jy kan maar weer, jou boeke is die wag werd.





Tannie Pompie se oorlog

In 2006 het ek vir die eerste keer ‘n boek met die grensoorlog as tema of agtergrond gekoop. Die boek was ‘An unpopular war – from afkak tot bosbefok‘ deur JH Thompson. ‘n Resensie oor die boek het my nuuskierigheid geprikkel en die inhoud van die boek het my ryklik beloon. Sedertdien het my versameling grensoorlog boeke (fiksie en nie-fiksie) al so ‘n klein bietjie uitgebrei en met elke byvoeging leer ek iets nuuts oor ‘n deel van ons geskiedenis, asook die baie uiteenlopende emosies wat dit by mense aanwakker.

My pa was as dienspligtige ‘n seiner in die weermag, my ma was by die soldoedies gewees. Nie een van hulle praat ooit eintlik oor hul ervarings gedurende daardie tydperk in hul lewe nie. Aan die ander kant van die munt het ek ook al ‘n paar mense teëgekom wat nie kan ophou praat oor hul tyd in die army nie – gewoonlik verskil hul stories van vertelling tot vertelling en raak die knippie sout wat jy moet saamsluk soms baie brak. Die grensoorlogliteratuur is dus my nie-indringende bron van inligting.

Tannie Pompie se oorlog‘ deur Deon Lamprecht is my nuutste toevoeging en ek was aangenaam verras en vasgevang teen die tyd dat ek verby die eerste 20 bladsye gelees het. Dit vertel die storie van die jaarlikse insypeling van SWAPO oor die grens in die rigting van Tsumeb, Grootfontein en Otavi. Dit vertel van die mense van daardie streek, die dorpenaars, die inheemse bevolking, die boere, hul samewerking met die Suid-Afrikaanse weermag. Dit vertel van Daantjie en Pompie van der Westhuizen van die plaas Koedoesvlei, Daantjie wat saam met sy skoonseun en ‘n spoorsnyer in ‘n hinderlaag gedood is en Tannie Pompie wat getrou in haar kombuis haar deel gedoen het met weermagradios tussen haar kospotte en antennas in haar tuin. Die boek maak ‘n deur op ‘n skrefie oop en wys jou bietjie van die dag-tot-dag van ‘n oorlog, hoe ‘n gemeenskap dit hanteer en hoe mens tot mens daardeur geraak word.

Vir die eerste keer het sekere gebeure vir my ook sin gemaak, kon ek myself beter oriënteer binne die raamwerk van die oorlog. Tannie Pompie se oorlog het gelees soos ‘n roman en nie soos net nog ‘n oorlogsverslag wat paragraaf vir paragraaf tegniese terme uitspoeg en bitter min sin maak vir die leke tussen ons nie. Die interessantste karakters loop kaalvoet deur die boek se bladsye, sny spoor deur ‘n moeilike tydvak in ons geskiedenis.

Deon se vertelstyl was eers vir my vreemd, amper soos ‘n kombinasie van ‘n BBC-dokumentêr-verteller en ‘n skrywer van daai stories in daai Goue Reeks boekies wat vir ons op laerskool uitgedeel is. Hier en daar het dit gevoel of hy homself moet in toom hou om nie te liries te raak oor die geskiedenis, die storie en die mense nie. Maar dit was juis sy manier van aanbied wat gebeure meer as net ‘n geskiedenisles gemaak het, wat dit lewendig gemaak het.

Die eerste hoofstuk van die boek word gewei aan die oergeskiedenis van die streek, spesifiek konflikte tussen verskeie rolspelers (Ovambos, San, Duitsers, Engelse, Suid-Afrikaners…) oor die jare. Aanvanklik wou ek dit net bolangs lees maar dit raak toe so interessant dat ek nie kon ophou nie…

Ek het die boek baie geniet en sal dit aanbeveel vir enige een wat belangstel in die grensoorlog. Dink die storie sou in ‘n goeie fliek kon ontaard…

Groetnis

Kamphoer

9780624065517

Vandat ek die eerste keer, tydens die 100 jaar herdenking daarvan, met die Anglo-Boereoorlog kennis gemaak het, het hierdie tydperk in ons geskiedenis my geweldig gefassineer. In daardie tyd (1999 – 2002) was daar bykans elke Saterdag ‘n artikel of twee oor die oorlog in Die Burger se bylaag. Wat ‘n plesier was al hierdie inligting nie! Ek het kennis gemaak met boerehelde en hanskakies, konsentrasiekampe en wegkruipplekke in grotte en rante, blokhuise en verbrande plaashuise, rebelle en uitlanders wat saam met die boere geveg het. Eweneens, met enkele uitsonderings, was al die ingelse ‘skurke’ en die boere ‘helde.’ Die onregte gepleeg in die naam van oorlog het my ‘n knop in die keel gegee en my ontnugterd gelaat oor waartoe mense werklik in staat is.

 

Voordat ek geld begin verdien het om boeke self te kon koop, was ek ‘n ywerige ondersteuner van ons plaaslike biblioteek. Tydens een van my snuffeltogte het ek op Christoffel Coetzee se roman, Opsoek na Generaal Mannetjies Mentz afgekom. Alhoewel dit fiksie is, het die storie en die wreedheid van die betrokke bende boerekrygers my hard getref. Ek het hard teëgestribbel maar ek moes erken: in elke kamp was daar helde en skurke, die geskiedskrywers en -verslaggewers verkies net soms om bo-oor hul eie skurke te kyk en eerder op die vyand s’n te fokus. Dit het my opnuut laat besef hoeveel donkerte daar in mense kan skuil.

 

Kamphoer, Francois Smith se debuutroman, se voorblad het dadelik my aandag getrek toe ek NB-uitgewers se nuusbrief oopmaak. Ek het die uittreksel op hul webtuiste gaan lees en geweet: Hierdie boek wil ek lees, moet ek lees. En ek het hom gelees. Rustig, sonder haas, want ek wou niks mis nie. Die boek is gebasseer op ‘n ware verhaal wat onlangs ook in engels, uit die pen van Nico Moolman, verskyn het as The Boer Whore. Nico Moolman het juis die boek in engels geskryf om die Britse publiek attend te maak op die gruwels wat hul soldate gepleeg het in die naam van die Empaaier. Weereens, die geskiedskrywers en -verslaggewers kan soms baie selektief met feite te werk gaan…

 

Kamphoer vertel die storie van Susan Nell, ‘n bywonersdogter wat saam met haar Ma en boetie in die Winburgse konsentrasiekamp beland. In ‘n poging om haar sterwende vriendin te help word sy deur een van die joiners gevang en na twee van die kakies se tent gesleep waar hul haar verkrag, aanrand en vir dood agterlaat. Agter op die lykswa, oppad na die begrafplaas, val sy af en beland sy in die sorg van twee Basoetoes wat haar, oor ‘n tydperk van weke/ maande, help om die eerste paar tree te gee in die rigting van herstel. Met die hulp van ‘n rondreisende fotograaf help hulle haar om na die Kaap te gaan, waar Marie Koopman-de Wet haar inneem en verder op haar roete wys met ‘n beurs vir studies in Europa. Hier bekwaam sy haar as ‘n verpleegster wat spesialiseer in die psigiatrie, spesifiek om soldate te help om deur die trauma van oorlog te werk. Deur die loop van die storie kruis ons saam met haar die pad van een van haar verkragters en word ons ook later vertel dat sy die ander een ook in haar omswerwinge raakgeloop het.

 

Ten spyte van die erns van die storie en die feit dat dit eintlik al lankal vertel moes word, lê die sukses van die roman in die manier waarop Francois Smith die storie vertel. Met behulp van verskillende vertelstyle neem hy ons op ‘n paralelle reis deur die twee dele van haar lewe: Die tydperk na haar verkragting en die tydperk waartydens sy weer voor haar verkragter te staan kom. Fyn woordkeuses en die skep van atmosfeer het my laat voel asof ek saam met haar haar angs en haar blydskap, selfs haar gevoelloosheid en afstand beleef. Sonder om vulgêr te wees hanteer hy die trauma en wreedheid van verkragting op so ‘n wyse dat die leser vir geen oomblik kan twyfel aan die onherroeplike skade en invloed daarvan op ‘n mens nie. Verkragting is nie iets wat maklik oor gepraat word of maklik is om oor te praat nie, allermins as dit reeds 112 jaar gelede gebeur het. Tog hoop ek dat hierdie boek die weg baan vir ander soortgelyke stories om die lig te kan sien.

 

Groetnis

Plesierige Engel

Ek het Plesierengel van Leon van Nierop gelees. Die nuwe uitgawe. Ek het die oorspronklike Plesierengel van 1998 op hoërskool gelees en was destyds taamlik beïndruk met die gewaagde storie want Leon opgedis het. Gedurende my hoërskoolloopbaan het ek elke twee weke ses na agt boeke uitgeneem. Soms het ek nie almal gelees gekry nie maar ek het ‘n baie intensiewe effort ingesit… Ek dink nie ek kan ‘n kwart van die titels onthou wat ek gelees het nie maar dit was waar ek met Deon Meyer, Marita van der Vyfer, Leon van Nierop, PG du Plessis, Francois Bloemhof en nog ‘n skare ander skrywers kennis gemaak het. (Is daar ‘n versamelnaam vir ‘n klomp skrywers bymekaar?)

Dis maklik 12 jaar gelede wat ek die eerste Plesierengel gelees het maar ek wonder half of die oorspronklike een nie beter was nie. Die nuwe een is goed maar dit leen te veel ideesvan huidige of onlangse populêre literatuur. Die tattoo deel uit Stieg Larsson se Millenium I, talle verwysings na ’50 Shades,’ om maar twee te noem.

Ek sou graag die 1998 edisie weer wil lees, sal dit maar in die biblioteek gaan opsoek want ek kon dit nog nie op die internet opspoor nie. Die storie agter Tristan in die vorige weergawe was baie meer boeiend, die hedendaagse een effe geforseerd. Maar ja, Ou Leon het ons gewaarsku om nie in gelukkige eindes te glo nie, nê?

Ek voel ook so half of die poging effe desperaat is en ek sukkel met die aanvaarding van die geloofwaardigheid daarvan. Die ding vloei nie so lekker nie… Gelukkig was die taalversorging goed en het die dialoog nie tot ‘n gekners van tande gelei nie. Alles in ag genome moet ek erken dat die Plesierengel wel darem plesierig was en net net genoeg was om die 6 ure op die vliegtuig mee te verwyl.

Groetnis47463827_0_Img2

‘N Boek is nie gemaak vir een keer se lees nie

Na ek en my Sussie Kobra van Deon Meyer verslind het, het ons in ‘n gesprek betrokke geraak oor die hoe en wat van die karakters in Deon se boeke. Bennie Griesel is van hoek tot kant bespreek, so ook Zatopek van Heerden, Mat Joubert, Lemmer en ‘n paar van die vroulike hoofkarakters. Sommer met die intrapslag het ons besef hoe verskillend ons die karakters ondervind en interpreteer. Haar Bennie was Paul Eilers maar myne was in my geestesoog so ‘n aks aantrekliker (jammer Paul!) Sy was natuurlik in die kol oor Paul – ‘n tweet van Deon het meer lig op die saak gewerp. Die feit dat sy so in die kol was het my ego ‘n ligte bloukolletjie gegee (nie dat ek dit hardop sal sê nie). Logiese volgende stap: Lees al die boeke weer. Nie verslind nie, léés, met aandag.

Feniks is eerste aan die beurt. Dis waar ons vir Mat en Bennie vir die eerste keer ontmoet. Ek maak notas soos ek lees want ek wil weet: hoe lyk Mat Joubert? en Wie sal hom in ‘n fliek kan speel? Dit voel kompleet asof ek die boek vir die eerste keer lees (al is dit waarskynlik al die derde keer). Ek lees goed raak, feite, gebeure en nuanses, wat ek defnitief vantevore misgelees het in my malle, agiegedrewe jaagtog na die ontknoping van die storie. Ek lees ook dat Bennie ‘n slawiese voorkoms het – natuurlik moet hy dan na Paul Eilers lyk, hoe kon ek dit gemis het! Mat is 34 ten tyde van die storie, reusagtig gebou soos ‘n voorry, met ‘n gesig soos ‘n valk. Hy is ‘n boekwurm en hy swem. Mat word ook uitgespreek soos die afrikaans vir carpet en nie soos in die verkorting van Matthew nie – nog iets waaroor sy reg was en ek verkeerd. Ek sal regtig met meer aandag moet begin lees in die toekoms, ek kry skoon skaam. Nie net oor sy my wen nie maar ook omdat ek die skrywer se harde werk nie ten volle benut nie. Skaam, baie skaam.

Soos ek hierdie jaar tyd het, het ek myself belowe, gaan ek my boekrak van ‘n kant af vat en oorlees. Duidelik het ek baie gemis oor die jare en kan dit my net goed doen wanneer ek en my Sussie weer begin boekepraat. Met die weerlees van Feniks het ek ook besef dat ek baie van die boeke wat ek as tiener gelees het, weer sal moet lees want ek dink nie my ontwikkelende brein van daardie jare het alles besef wat dit gelees het nie. Of alles reg verwerk en geïnterpreteer nie.

Dalenatjie se boekereis gaan binnekort die stasie verlaat.

Groetnisphoto (2)

Blou van onthou of nie onthou?

Marita van der Vyver se “Die blou van onthou” het so ‘n paar weke gelede op my leeslysie beland toe my sussie dit in my hande gestop het en aanbeveel het dat ek dit lees. Nie dat dit moeilik was om my te oortuig nie, Marita het my nog nooit in die steek gelaat nie.

Ek was weereens beïndruk met haar vermoë om moeiteloos in tyd rond te reis, soos sy ook gemaak het in “Griet skryf ‘n sprokie” (sprokieswêreldreis tel ook!) Haar fokus op die fynere details van elke era waarin die storie afspeel het my ook weereens laat besef hoeveel navorsing in die skryfproses ingaan. Dit is nie net ‘n geval van maak die verbeelding los en laat hom/haar hardloop nie, nee-nee, jy kan skryf wat jy wil maar as dit nie ‘n serp van geloofwaardigheid dra nie, help dit niks.

Afgesien van die stories wat saam-saam, soos die blou portugeuse teëls teen die mure, die verhaal vorm, was ek beïndruk met die ontknoping en die einde van die boek. Vir ‘n slag het ek nie so gekul gevoel, so asof die skrywer my nog ‘n paar paragrawe skuld nie. Toe die agterblad en die laaste blad mekaar met ‘n ligte plofgeluid ontmoet het, was ek tevrede.Die-blou-van-onthou-front-

Die dag toe ‘n boek Google bloedneus geslaan het

Op ‘n Saterdagmiddag in 2010 blaai ek ouder gewoonte die koerant deur terwyl Pa en Manlief sport kyk. In die bylaag vang ‘n gedig my oog en ek staar lank en onbegrypend daarna. Veel later, vuur ‘n sinaps en rangskik die chaos hulself in ‘n patroon wat skielik vir my sin maak. Ek staar sprakeloos daarna.

 

Om een of ander duistere rede dink ek nie daaraan om die gedig uit te knip en te bêre nie. Teen die tyd dat dit my byval is die koerant lank reeds verlore vir die samelewing, selfs die biblioteek se eksemplaar is nie meer beskikbaar nie. Sonder ‘n naam vir die digter of die gedig soek ek op Google daarna maar, maak nie saak hoe ek soek nie, ek kry dit nie. Selfs ‘n epos na die redakteur van die koerant bly onbeantwoord.

 

Intussen het ek laasweek die Afrikaanse Skryfgids begin lees. Van bladsy 1 af, asof dit ‘n storieboek is. Na ek gisteraand ‘n laaste slaaptyd paragraaf voltooi het, blaai ek deur die boek en iets vang my oog. Daar, op bl 194, is die gedig wat ek al so lankal soek: Willem Boshoff se “Pro Patria.”

Willem Boshoff Pro Patria

 

Die gedig lyk tipografies soos die stewelspore van soldate wat marsjeer en in elke ‘stewelspoor’ is ‘n ‘links’ of ‘n ‘regs’ of altwee. Voeg daarby die titel “Pro Patria,” asook die jaar waarin dit gepubliseer is en jy kan jou amper verbeel dat jy op die paviljoen langs die paradegrond sit en kyk na die troepe wat links-regs-links-regs in gelid marsjeer. Ek reken dat ‘n koffie-en-beskuit of rooiwyn-en-southappie gesprek oor die gedig vele dieper betekenisse sal uitlig maar vir nou is die ‘gevoel’ van die gedig genoeg vir my.

 

Groetnis

Om ‘n boek te skryf, al is dit net ‘n kleintjie

So beland daar mos toe nou ‘n nuusbrief-e-pos van NB Uitgewers in my digitale posbus. Tussen voorblaaie van nuwe boeke en kortfilms om die boeke te adverteer, vang iets my oog en ek kliek nuuskierig daarop.

“Het jy vuur in jou are? Maak dit stoom as jy skryf?” Vra die uitnodiging uitlokkend voordat dit my insluk en op ‘n gekke reis neem na die land van woorde, sinne, paragrawe, woordspelings en spelreëls.

Die kompetisie het reeds in November van die vorige jaar ge-open en ek maak my sommetjies. Sou ek daarin kon slaag om 600 woorde per dag te skryf vir die volgende nege weke behoort ek die minimum woorde van 35 000 te haal.

Wat behels dit? Skryf ‘n vuurwarm manuskrip wat onder die vaandel van die Ultrasatyn-projek uitgegee kan word. So eenvoudig soos dit.

Probleem? Geen probleem!

Behalwe dat ek 1) nog nooit ‘n boek geskryf het nie, 2) nie liefdesverhale lees nie en 3) nie eintlik ‘n idee het van waar ek die tyd gaan kry om dit te doen nie! Ek het ook vinnig besef dat 600 woorde nie sommer uit die lug uit val nie – dit verg beplanning en skryf en dink en oorskryf en weer skryf.

Die sperdatum is vandag en ek het sopas my inskrywing versend. Ek is gedaan geskryf maar dit was lekker gewees en ek dink ek sal dit dalk weer eendag doen. As daar niks van kom nie sal dit ook reg wees met my, ten minste weet ek ek kan dit ook doen.

Ek reken ek is dalk ‘n beter leser as ‘n skrywer 😉

Groetnis

20130419-160631.jpg

50 skakerings, mmmm…

Ek kyk vir die boek en die boek kyk vir my. Jy was toe nie so erg soos sommiges jou aan my voorgehou het nie, sê ek vir die boek. Die boek knik net. Jy was ook nie so swak geskryf soos die kritici te kenne gegee het nie, brei ek uit. Weer knik die boek net. Ek het 50 Shades of Grey binne die bestek van 24uur klaar gelees.

Hoekom sal ‘n mens so ‘n boek wil lees? Wonder sommiges. Seker maar oor ons nuuskierig is, oor ‘n storie wat jou aandag trek en hou, harder spreek as die aantal kere wat “oh my” in die boek ge-uiter word, seker maar omdat lees lekker is en dit nie rerig soveel moeite is om vreemde engelse woorde op te soek nie. En ook sommer omdat ons kan. Raai wat? Ek kan nie wag vir die 2de boek in die reeks om na my toe aangestuur te word nie. Want ek wil weet wat verder gebeur. Die boek is nie net seks, seks en seks nie. Dis ook ‘n sielkundige spel tussen twee mense, asook die uitpluis van bitter geheime wat, hoop ek, tussen die blaaie van die volgende twee boeke met ons gedeel gaan word.

Wat nogals vir my opvallend was, was hoe baie die karakters in die boek my aan die Twilight karakters laat dink het. Anastasie se ouers teenoor Bella se ouers, Christian se aanneemfamilie teenoor Edward se aanneemfamilie. José teenoor Jacob… ek sê maar net, dis interessant…

Groetnis9781448149452

en toe skryf hy vir Ryno dood

Ek weet nie lekker hoe om te voel nie. Gisteraand, eintlik net na middernag, het ek die laaste bladsy van die heruitgawe van Leon van Nierop se ‘Wolwedans in die skemer’ gelees. Die fliek het ek so twee weke terug gaan kyk, was beïndruk met die storie en die karakters, die hele gevoel van die rolprent.

Die boek het ek ook baie geniet. Leon van Nierop het ‘n baie spesifieke manier van skryf wat soos ‘n kitaarsnaar deur al sy boeke loop. Ek kla nie, dit lees lekker en die stories bied ‘n paar uur se reis op ‘n kronkelpadroete uit die werklikheid uit.

Ek het die Ryno karakter baie geniet, hy ís so maklik om op verlief te raak… Die feit dat ek geweet het hoe hy lyk het my seker ook beïnvloed maar ek dink dat ek steeds van hom sou hou al het ek hom net op papier leer ken. Oor Jan Joubert se eksentrieke waansinnigheid sou ek ook graag meer wou weet. Jan se karakter het nie vir my sterk genoeg deurgekom nie. Ryno se gevoel en persoonlikheid het my herinner aan ‘n vriend wat ek gehad het toe ek geswot het, kom ons noem hom Bok. Oor hom sal ek julle eendag nog vertel…

Hier aan die einde van die rolprent het ek ‘n taamlike sug van verligting geslaak toe hul nie die kombers oor Ryno se kop trek toe die paramedici hom in die ambulans laai nie – ek kan verkeerd gekyk het maar vir my het dit gelyk of daar vir hom ‘n kans vir oorlewing is en daarmee saam, na ‘n lang periode van herstel, fisioterapie en traumabehandeling, sou hy en Sonja hul lewe saam kon aanpak. Ek hou van ‘n ‘happy ever after’ en ek is nie skaam daaroor nie.

Aan die einde van die boek trek hulle toe ‘n moerse haas uit die motorbike helmet uit en trek ewe stemming  die kombers oor Ryno se gesig – wat ‘n skok op my gestel! Ek het eerlikwaar gehoop dat die boek sal eindig waar Sonja langs Ryno se hospitaalbed sit, met haar hand wat Ryno se hare streel en Ryno wat stadig sy oë oopmaak en lui glimlag as hy sien wie langs hom sit. Toe nou nie. Leon het vir Ryno doodgeskryf.

Dalk moet ek die oorspronklike ‘Wolwedans in die skemer’ in ons biblioteek gaan soek, dalk draai die storie daarin anders uit?! Ek kan egter nie onthou dat ek die boek ooit daar gesien het neffens ‘Adrenalien,’’Plesierengel’ en die res nie. Nou dat ek daaraan dink, daar is nogal sterk ooreenkomste tussen ‘Plesierengel’ en ‘Wolwedans…’

Groetnis

1 stad, 3 rooikoppe, 7 dae

So deur die loop van laasnaweek het ek ‘een stad drie rooikoppe sewe dae’ gelees, of sal ek eerder sê, verslind. ‘n Taamlike vars briesie, hierdie Adeline en Lili Radloff. Die boek skop so stil-stil en rustig af maar iewers, na jy nuuskierig deur die eerste helfde gewerk het, skop die storie in rat en daar gaat hy! Ek was taamlik dankbaar vir die manier waarop die dialoog geskryf is – swak dialoog laat my tone krul van frustrasie en laat my tande kners van ongemak. In hierdie geval was die woordewisselings natuurlik en vloeiend. Dankie daarvoor dames.

Beslis ‘n boek om te lees as jy lus is vir ‘n lekker storie wat nie te romanties of te aksiebelaai is nie, eintlik is die boek ‘n goed gebalanseerde mengeldrankie van die twee genres, geskink in ‘n chick-lit glas.

Dan, laastens, moet ek die dames komplimenteer op Luke en Heleen se, oo-la-laa (s)ekskapades. OMW! Dit sit nie in enige een se, uhm, broek, om so sexy te kan skryf met soveel suggestie en so min detail nie. Well done!

Groetnis

Sunflower to the sun…

‘Hey, you!’ says the sunflower to the sun
Just like that,
In tones of mockery,
‘Hey, you!
Where’s your stem?’

 

Met die eerste lees van hierdie woorde het ek by myself gedink: “Sjoe, wat ‘n verwaande sonneblom? Besef hy nie dat hy afhanklik is van die son waarvoor hy so beterweterig grinnik nie? Besef hy nie die grootsheid van die son nie?

 

Ek het laasweek ‘Sunflower to the sun’ deur Valerie Rosenberg gelees – ‘n boek oor die lewe van Herman Charles Bosman.

 

Wat ‘n lewe! Vreemd, eksentriek, aweregs, verwaand… net ‘n paar woorde wat Herman Charles Bosman moontlik kon beskryf. Vir die verligtes van sy era was hy sekerlik ‘n vars briesie gewees. Valerie beskryf, met gevoel en respek, die kronkels en draaie van Bosman se lewenspad. Haar manier van skryf het my dadelik aangegryp. Ek moet erken dat ek ‘n paar keer die woordeboek moes nadertrek om van die hogere engelse woorde op te soek. ‘n Voorbeeld daarvan was ‘lachrymose,’ wat vertaal kan word as tranerig, huilerig en droefgeestig. Die woord laat ‘n mens so half melankolies en mankoliekig voel…

 

‘n Lieflike boekereis was dit beslis.

 

Valerie se beskrywings van die Johannesburg van daardie era, so ook die mense in Bosman se lewe, was vernuftig en kon prentjies in my kop laat vorm aanneem. Dit het soms gevoel asof ek saam met hulle deur die strate wandel, saam sit en luister hoe hulle redeneer oor alles en nog wat.

 

Met al díe voorkennis wil ek nou Herman Charles Bosman se boeke van ‘n kant af deurlees, die bundels wat ek jare terug gelees het ook.

 

‘In the shade of the Withaak’ bly steeds my gunsteling. As ek nou terugdink aan die storie kan ek nogals vir Bosman herken in die luiperd: die ‘gevaarlike’ een, die een wat gejaag en gejag word; maar so ook in die boer, Oom Schalk Lourens: die (gedwonge) flirtasie met gevaar, al die vreemde en misterieuse goed wat sy lewe volgemaak het.

 

Was Bosman die son of die sonneblom? Of was hy dalk beide?

 

Mag die Suid-Afrikaanse skrywer nooit sy of haar Afrika-stem verloor nie en mag ons sonskynland met sy nuuskierig-verwaande sonneblomme nog vir lang jare leesstof van die allerbeste gehalte lewer.

 

Dankie dat jy die boek voorgestel het, Rosigemaryn.

 

Spuddy word gejaag deur ‘n beer!

Ek het Woensdag my kopie van die vierde boek in die Spud reeks (deur John van de Ruit) by Kalahari bestel, kan nie wag dat hulle die epos stuur om te sê dat ek hom die volgende werksdag kan gaan haal nie!! Eeeek! So opgewonde, het die eerste drie boeke vreeslik geniet en male sonder tal met die boek op my skoot gesit en lag soos ‘n kêns-mens. Wat ‘n jammerte dat die vierde boek die laaste boek in die reeks is maar eerder dit as ‘n reeks van 10 boeke waarvan die helfde afgewater is.

In ‘n neutedop handel die storie oor ‘n engelse laitie (Spud) in ‘n Natalse seunskosskool in die vroeë 1990’s. Dis soos Keurboslaan, net bietjie meer histeries, nee, ek lieg, baie meer histeries!! Die boek, geskryf in joernaalformaat (Spud se joernaal), neem ons op reis saam met Spud deur sy hele hoërskoolloopbaan. Wat ‘n storie!

Die fliek was okay maar het na my mening ‘n bietjie te min om die lyf gehad (snaaks hoe ‘n fliek gewoonlik telleurstel as jy alreeds die boek waarop dit gebasseer is gelees het…) Hoop die tweede fliek is beter.

Groetnis en geniet die naweek!

Edit: Die vierde boek was fantasties, wat ‘n storie! Die tweede fliek was stukke beter as die eerste een, het my doodgelag, maar die derde fliek was weer bietjie vaal. Hoop fliek nommer vier is beter…