Wondergomvetkolle

Na ek toe nou Saterdag by die huis kom na my rondvallery in die dorp, gaan lek ek my wonde op die bank voor die TV met ‘n beker koffie en ‘n paasbolletjie. Paasbolletjies is mos deesdae nie meer beperk tot paastyd nie, maar ek kla glad nie. Ek het so half lusteloos deur die kanale geblaai en soos gewoonlik, wanneer ek in beheer is van die afstandbeheer, was daar niks wat kykbaar was nie. Dan moet ek seker maar aan die werk spring, reken ek toe, die tekens is daar.

Een van my inkopielysies het bestaan uit suikerseep, teël-primer, verf, kwaste, rollers en maskeerband. Want siende dat ons die groot badkamer oorgedoen het, moet die enkel toilet seker ook opgedollie word. Tans is dit ‘n klein boksie van ‘n vertrekkie met dieproom mure wat effe afdop, pienk teëls en ‘n gordynstok wat al beter dae gesien het

Nou, die instruksies lees dat ek die teëls met suikerseep moet behandel voordat ek die primer aanwend. Dit gaan toe nogal vinnig en daar staan ek met ‘n bak warm suikerseep en lus vir nog. Ek wik, ek weeg en ek weet: Die spaarkamer met die wondergomvetkolle.

Nou moet ek eers bietjie agtergrond gee: Na my ma my pa gelos (1994) het was hy vir so ‘n wyle enkellopend. Hy ontmoet toe ‘n vrou van die Vrystaat en na ‘n paar maande trek hulle saam in. Sy het drie dogters, waarvan twee by haar bly en die derde by hul pa in Gauteng. Die twee wat by haar bly was onderskeidelik een en vier/vyf jaar ouer as ek. So trek die hele gedruis toe saam by my pa in. Ek en my sussie gaan kuier elke tweede naweek by hom en ook die helfde van vakansies. Dis baie lekker om by Pa te gaan kuier maar o moer dis moeilik want die ander twee is eiegeregtig, bombasties en geheel oordonderend.

So gaan ‘n paar jaar verby en Oupa en Ouma (in wie se huis ek en Manlief nou bly) besluit aan die einde van die jaar 2000 hulle gaan nou aftree en see toe trek. My pa se boetie vat die boerdery oor en my pa trek in hulle huis in want die huis kan nie leeg staan nie. Die oudste dogter is toe al uit die skool uit en die kleiner spaarkamer word aan die jongste een toegeken, terwyl ek en my sussie die groter spaarkamer deel. En wat doen die dekselse kind? Sy beplak die hele donderse kamer vol prente met wondergom. En niemand sê iets nie en so karring dit aan, nog elf jaar lank.

Die vrou los toe my pa en hy besluit hy is moeg vir die groot huis en bou vir hom ‘n nuwe, effe kleiner, een. Ek en Manlief bly toe op daardie stadium op die buurplaas in ‘n eine-kleine huisie en dis hoe ons toe in Ouma en Oupa se huis beland.

Maar Saterdag, toe ek nou so staan en skrop aan daai wondergomvetkolle begin my bloed te kook, sommer behoorlik. Wie het die mense gedink is hulle? Daar is seker goeie en edele redes waarom hulle ons pad moes kruis maar hoe meer ek daaraan dink was dit werklik nie veel tot my voordeel nie maar eerder tot my frustrasie. Wie het hulle die reg gegee om my huis so te bemors en dit net so te los vir my om skoon te maak? Ek weet hulle het al vier jaar terug uit ons lewens uit verdwyn en ek is nie trots daarop dat dit my vier jaar gevat het om daai kolle af te was nie, maar ek het dit darem nou ten einde laaste gedoen. Ek het hulle bestaan nou finaal uit my lewe uit geskrop. Hulle was nie inherent slegte mense nie maar hulle was nie my dam se eende nie, net nie my tipe nie, ons persoonlikhede was net nie versoenbaar nie.

Maar in ieder geval, ek het darem al die krake in die toilet se mure met polyfilla opgevul en maskeerband geplak waar nodig so vanaand kan ek begin verf. Kan nie wag om te begin nie…

Mooi dag verder

Groetnis