‘n Poeding in die pekel

Vir weke lank is ek nou al lus vir sagopoeding. Met die konfyt wat bo-op gestip word en die torings eierwit wat goudbruin gerooster word in die oond.

Bestandele word gekoop en resepte vergelyk en ons start die besigheid op. Die sago word bietjie geweek terwyl die melk en ‘n kaneelstokkie solank in die kastrol warm raak. In die volgende stappe word sout bygevoeg, so ook suiker en eiers en botter. ‘n Kastrol vol wit padda-eiers word stelselmatig omgetoor in ‘n geel massa van verleiding en troos.

Die sagopap word in ‘n mooi oondbak gegiet en pof te mooi in die oond terwyl die konfyt reggesit word en die eierwit geklits word tot sagtepiekwolkies. En dit ruik hemels en ons monde water. Die konfyt word opgestip en mooi versprei en daarna volg die eierwit. ‘n Ligte deps met die lepel maak mooi punte bo-op wat binnekort goudbruin sal raak in die oond.

Na wat voel soos ‘n ewigheid is die poeding gereed om die oond te verlaat. Elke poedingbakkie kry ‘n ruim porsie en die lepels word gelaai en effe koud geblaas vir die eerste proeslag. Maar iets is nie reg nie. Iewers het daar ‘n foutjie ingesluip. ‘n Groot foutjie.

Die poeding proe pure pekel.

Daai poeding is so gesout dat die bak sal vergaan voordat daai poeding eendag sal sleg word.

Daai poeding is so gesout dat die stainless steel lepels wil begin roes.

Daai poeding is so gesout dat dit smeek vir ‘n stukkie gebuigde staaldraad sodat dit tussen die biltonge kan gaan hang.

Daar is geen hoop vir hierdie sagopoeding nie. Geen.

My kosmaak-ego is gekrenk. Manlief en my ma lag so vir my blaps dat hulle oë traan. Klaarblyklik lyk my soutpot en suikerpot te veel na mekaar (om nie eens te praat van ‘mamma, mamma!’ aan die een kant en ‘Dalena, Dalena!’ aan die anderkant, plus die ‘liefie!’ uit die tv-kamer nie… geen mens kan behoorlik konsentreer nie…)

Nodeloos om te sê, ek is nogsteeds lus vir sagopoeding, maar nie nou gou weer nie, sal eers my wonde nog bietjie lek voor ek dit weer benader.

 

Groete

Advertisements