en dis seker hoekom hulle dit ‘n slaggat noem…

Daar slet ek toe mos Saterdagmiddag neer in Pick n Pay se parkeerarea. Pick n Pay was my laaste stop en tot sover, behalwe vir ‘n paar idiote wat nie weet hoe hul flikkerligte en versnellers werk nie, was dit ‘n rustige besoek aan die dorp. Alles op my lysie was mooi doodgetrek en my kattebak was netjies gepak met my aankope.

In ieder geval, ek dink hulle noem ‘n slaggat ‘n slaggat omdat jy met ‘n moerse slag neerslet as jy met jou volgelaaide mandjie-waentjie (daai modelle met die vier wieletjies en die plek vir drie mandjies) deur dit ry en die wieletjies hak vas. Daar lê ek toe, gedrapeer bo-oor die waentjie, die mandjies op die teer en my inkopies wat half-in, half-uit die plastieksakke peul in ‘n een-en-‘n-half meter radius om my. Dankie tog dat ek nie ‘n rok aangehad het nie…

Na ‘n oomblik se geskokte stillê worstel ek toe maar regop en begin my goedjies weer bymekaarskraap. Die enigste mens wat aangebied het om my te help was ‘n man met ‘n baba in die een arm en ‘n handvol vol inkopiesakke in die ander. Ek het hom bedank vir sy aanbod maar het die gebaar baie meer waardeer as wat hy besef het.

Al my inkopies, behalwe die twee liter melk, het wonderbaarlik die ongeluk oorleef. Selfs die meel en custard donuts het ongeskonde gebly. Die melk het in so ‘n dun straaltjie, kompleet soos by ‘n koei wat op skou is en gister laas gemelk is dat die uier mooi rond kan staan, by die sak uitgespuit, al oor my skoene, sover soos ek geloop het na my kar (wat seker nog so sestig meter ver was).

My lyf en my ego stoei nog oor wie die seerste gekry het alhoewel ek dink my lyf gaan wen: 2 potblou knieë, verskeie blou kolletjies op my skene en ‘n lelike bloue hoog teen my bobeen waar ek vermoedelik die handvatsel getref het met die vooroortuimel.

Geniet die Maandag!

Groetnis