Die Katte

Manlief se bakkie kom so ‘n paar weke terug in ons werf ingery. Dis reeds donker buite en dis daardie stadium van die jaar waar die temperatuur sommer drasties val as die son eers agter die berg ingeduik het. Ek sit die ketel aan en wag dat hy moet inkom vir koffie. En ek wag en ek wag en hy kom nie uit nie. Ek trek toe maar ‘n dik baadjie aan, sommer een van syne wat oor ‘n stoel hang, en het net in die rigting van die agterdeur begin beweeg toe ek sy voetstappe op die stoep hoor. In sy arms hou hy ‘n gitswart bol vas en my hart sink. Ek sien nog nie kans vir troeteldiere nie, my hart is nog te broos na ons minder as ‘n jaar terug die rifrug ook aan die dood moes afstaan. Die swart bolletjie roer in sy arms en loer vir my met groen-blou babakatjie oë.

“En die?”

“Daar is nog twee. Hulle was daar by die hek.” Manlief glimlag en streel oor die katjie se koppie.

Ek gryp ‘n beker melk en ‘n bak en ons stap hek toe. Daar sit die ander twee katjies ewe gedienstig onder die custard-appel boom. Hulle laat hulle nie twee keer nooi toe ek die bak met melk neersit nie en ons hou hulle ‘n rukkie dop terwyl hulle gulsig drink. Waar sou die ma-kat wees? Hulle lyk ongeveer 5 weke oud, hoe is dit moontlik dat ons nou eers bewus raak van hulle? Toegegee, daar is 3 store en baie wegkruipplek…

Die volgende oggend is daar geen teken van die katjies nie maar toe ek na werk, by die hek inry sit Manlief plat op die gras met nie 3 nie, nie 4 nie, maar 7 klein katjies bo-op hom. Die 3 swart katjies het 5 geword en daar is 2 grys strepie-katjies ook by.

Oor die volgende paar dae neem die katjies hul intrek op ons stoep en begin bietjie lyf kry van melk en klein-katjie-kos. Die ma-kat maak ook intussen haar verskyning, wildvreemd en grys-gestreep. Ons bespied die pa-kat ook tussen die store, reusagtig swart en wantrouig. Sy bly nie permanent nie, loer net so elke paar dae in, gee bietjie aandag aan haar kroos en verdwyn dan weer. Gelukkig was sy gaaf genoeg om hulle te leer van toiletmaniere so ons hoef nie die sandbakbesigheid te doen nie.

Op ‘n stadium toe loop van die katjies saam met hulle se ma weg en tans het ons gemiddeld 3 katte per dag op die stoep. Hulle tel nou as katte want hulle persoonlikhede het al meer gegroei as hulle lyfies. Ieder geval, Kwaaitjie en Hunter, 2 van die oorspronklike swart katte, het permanent ingetrek maar die res wissel maar so. Daar is elke dag ook ten minste een gryse, hulle wissel mekaar af om een of ander rede.

Hunter het reeds begin jag, waaroor ek baie dankbaar is. Hy kan maar soveel rotte en muise plattrek soos hy wil, sal nie kla nie. Kwaaitjie dink weer sy is ‘n hond: ek het vir hulle ‘n sagte balletjie met ‘n klokkie in gegee en as ek dit vir haar gooi gaan haal sy dit in haar bekkie en bring dit weer vir my. Die gryses, Strepies en Vaalkat, is eintlik maar net daar vir die mooi en die miaau.

Ja, nou het ek ‘n stoep vol ge-erfde katte, wat my baie plesier verskaf, wat aangehuppel kom as ek in die middae voor die waenhuis stop, wat ek in die nabye toekoms wil laat steriliseer, die ma inkluis, as ek haar net kon gevang kry!

Groetnis