Soms mis die hart ‘n slag

Ek was nog op skool toe ek PJ Bosman se kortverhaalbundel, Soms mis die hart ‘n slag gelees het. Een van die stories het die verhaal vertel van ‘n beesboer wat sy osse slagpale toe moes neem en op die ou einde elkeen self na hul onafwendbare einde moet lei. Met die lees daarvan het my hart ‘n slag gemis. Die vertelling was so hartseer, so rou. (Vergewe my asb as ek die verkeerde bundel beet het of die strekking van die storie verkeerd het maar dit is hoe ek dit onthou..)

 

Deur die loop van die naweek wat verby is het my hart twee keer ‘n slag gemis. Vrydag is ons Jack Russel dood. Die skaaphond het Manlief gaan wys waar sy lê, mooi opgekrul tussen die clivias, asof sy slaap. Die Saterdag is ons skaaphond dood, hy het tussen die voertuie waarvoor hy sy lief was om te jaag gelê, rustig, asof hy nou-nou gaan opspring om iemand by die hek te gaan verwelkom. Beide het in die dae voor hul heengaan simptome van bosluiskoors gehad en ons het hul daarvolgens laat behandel. Beide het tekens getoon dat hul oor die eergste is, selfs weer ‘n eetlus begin ontwikkel.

 

Maar nou is ons erf leeg en daar is twee hondegraffies in die tuin. Elke keer wat ek by die agterdeur uitkyk verwag ek om hulle te sien verby hardloop. Hulle was altyd aan die beweeg, besig om voëls te jaag, besig om mekaar te terroriseer. Die kleintjie sou bo-op die grote gaan sit en hom speels aan sy nekvel gryp en dit rondruk terwyl hy gedweë vir haar wag om haar uit te woed. Hy sou haar weer ongeduldig aan die voorpoot gryp as sy nie vinnig genoeg agter hom aankom nie en keer op keer omdraai om te kyk of sy al oppad is.

IMG_2172

Terwyl ek saans kosgemaak het, het die skaaphond altyd saggies teen die kombuis se onderdeur opgespring en vir my geloer. Ek sou dan by hom gaan staan en hy sou sy kop teen my lyf druk, opkyk na my met daardie alswetende bruin oë en saggies kreun-sug terwyl ek sy kop vryf en sy ore frommel. Hy het elke voertuig wat in en uit beweeg het uitbundig vergesel. Maar sy grootste werk was om die Jack Russel op te pas – iets wat hy met die liefde en ywer, soos net ‘n skaaphond kan, gedoen het.

DSC_0516

Die Jack Russel was eintlik meer soos ‘n kat – sy het haar eie ding gedoen en aandag kom haal as en wanneer sy dit wou hê. Sy het altyd hiper-opgewonde geraak, verwoed in die rondte getol en kort opgewonde blaffies gegee as Manlief die .22 se slot oop en toegemaak het, want dit het beteken hulle gaan tarentale of kolganse soek. As ek nie lekker gevoel het nie, was sy altyd gewillig dat ek haar insmokkel om langs my te kom lê, sy kon so mooi saggies snork.

 

Ek dink nie my hart was al ooit so stukkend nie. Hulle was nie net honde nie, hulle was ons maats, ons kamerade, ons kleingoed. My en Manlief se harte is seer vir ons hondekinders wat nie meer met ons is nie. Dit voel net nie regverdig dat hulle moes gaan nie. Dis net nie reg nie.

8fb8ecb6d3d1da2eee7d1f7c5174d7ac