Daai ding van ‘n fietsryer op ‘n grondpad

Die vakansiegangers se koms hier na ons geweste hierdie jaar het my rerig nog nie begin pla nie – ja die verkeer is bietjietjie meer en die winkels bietjietjie besiger maar mens pas maar aan.

Vanoggend, oppad werk toe, het ek egter met mening besef dis vakansietyd. Ons bly mos so 25km uit die dorp uit, waarvan so 10km grondpad is. Sommige vakansiegangers is uiters pligsgetrou en bring hul fietse saam op vakansie. Ek het nie ‘n probleem met fietsryers nie, ek haal my hoed vir hul af dat hul daai baaiesukkel so lekker kan trap vir ure aaneen – ek kan nie, my boude is te min om my te beskerm teen daai saal se byt en nie ‘n gelsaal of ‘n gelbroek is genoeg om my op ‘n fiets te kry nie.

Soggens betree of betrap die fietsryers dan nou ons grondpad vir hul oggendsessie. Ek neem hul nie kwalik nie, ons boerderygebied is iets vir die oog en ons grondpaaie is darem nie té vrot nie. Probleem is net dat sodra hul op daai grondpad klim gebeur daar iets in hul breins en hul glo dan vas dat die pad spesiaal vir hulle daar is, wie dink jy is jy nou om soggens te wil werk toe ry, of wie dink die bosboulorrie is hy om vragte hout uit die berg uit saagmeule toe te vat, die pillelorrie om voer vir die melkerye aan te ry en die melklorrie om weer die melk fabriek toe te vat?

Hulle staan met hul peperduur fietse en styfpassende oefenpakkies die hele pad vol om vir mekaar te wag en ry dan ook sommer die hele pad vol, van links tot regs, wanneer almal weer by is. En behoede jou tog as daai stofstreep agter jou kar, ja daai een waaroor jy eintlik nie veel beheer het nie, jy kan maar ry so stadig soos wat jy wil, hulle onder ‘n fyn lagie stof bêre. Hoe durf jy! Oo daai kyke wat jy kry… Asof daar nie netsoveel teerpaaie in ons streek is met net so ‘n mooi uitsig nie, plus padskouers en geel strepe…

So nou koes ons maar vir die baaiesukkeltrappers, die tarentale, plaaskinders, werfhonde en die groot lorries as ons iewers heen moet ry…

Groetnis