Liewe 2015

Ek wou eers sê “Geagte 2015” maar dis hopeloos te laat in die jaar en vroeg in die dag om so formeel te wees.

Genade ou dierasie, kan jy glo jy het jou agterent gesien? Al was jy soms maar ‘n regte dônnerse bliksem was jy meestal darem heel gaaf gewees.

Mmmm, daar was ‘n lekker laaaang vakansie net voor die middel van die jaar, ‘n paar 1500km langnaweke, lekker tye saam met Manlief, familie en vriende. O ja, dankie ook vir Gina, die aangename aangenome hondekind wat so met ‘n draai oor ons pad gekom het!

IMG_1007

Ons het ‘n hele paar struwelinge saam beleef ook maar kom ons los daai koeie maar in die sloot, help nie om tyd en emosie daarop te mors nie…

Saam het ons ‘n hele paar nuwe dinge ook ondersoek, probeer en beleef. Ons eie koedoewors gemaak (van scratch af!), craft en anderste biere, die Color run, ‘n oorgedoende badkamer, om maar ‘n paar te noem. Hoop ons kan volgende jaar weer so maak, anders stagneer ‘n mens tog so in jou ou gewoontes.

IMG_1553

bier

Nou ja toe, geniet jou laaste twee dae saam met ons en hou die blinkkant bo, ons wil niks skandes van jou in die koerante lees nie…

Groetnis

Advertisements

Wondergomvetkolle

Na ek toe nou Saterdag by die huis kom na my rondvallery in die dorp, gaan lek ek my wonde op die bank voor die TV met ‘n beker koffie en ‘n paasbolletjie. Paasbolletjies is mos deesdae nie meer beperk tot paastyd nie, maar ek kla glad nie. Ek het so half lusteloos deur die kanale geblaai en soos gewoonlik, wanneer ek in beheer is van die afstandbeheer, was daar niks wat kykbaar was nie. Dan moet ek seker maar aan die werk spring, reken ek toe, die tekens is daar.

Een van my inkopielysies het bestaan uit suikerseep, teël-primer, verf, kwaste, rollers en maskeerband. Want siende dat ons die groot badkamer oorgedoen het, moet die enkel toilet seker ook opgedollie word. Tans is dit ‘n klein boksie van ‘n vertrekkie met dieproom mure wat effe afdop, pienk teëls en ‘n gordynstok wat al beter dae gesien het

Nou, die instruksies lees dat ek die teëls met suikerseep moet behandel voordat ek die primer aanwend. Dit gaan toe nogal vinnig en daar staan ek met ‘n bak warm suikerseep en lus vir nog. Ek wik, ek weeg en ek weet: Die spaarkamer met die wondergomvetkolle.

Nou moet ek eers bietjie agtergrond gee: Na my ma my pa gelos (1994) het was hy vir so ‘n wyle enkellopend. Hy ontmoet toe ‘n vrou van die Vrystaat en na ‘n paar maande trek hulle saam in. Sy het drie dogters, waarvan twee by haar bly en die derde by hul pa in Gauteng. Die twee wat by haar bly was onderskeidelik een en vier/vyf jaar ouer as ek. So trek die hele gedruis toe saam by my pa in. Ek en my sussie gaan kuier elke tweede naweek by hom en ook die helfde van vakansies. Dis baie lekker om by Pa te gaan kuier maar o moer dis moeilik want die ander twee is eiegeregtig, bombasties en geheel oordonderend.

So gaan ‘n paar jaar verby en Oupa en Ouma (in wie se huis ek en Manlief nou bly) besluit aan die einde van die jaar 2000 hulle gaan nou aftree en see toe trek. My pa se boetie vat die boerdery oor en my pa trek in hulle huis in want die huis kan nie leeg staan nie. Die oudste dogter is toe al uit die skool uit en die kleiner spaarkamer word aan die jongste een toegeken, terwyl ek en my sussie die groter spaarkamer deel. En wat doen die dekselse kind? Sy beplak die hele donderse kamer vol prente met wondergom. En niemand sê iets nie en so karring dit aan, nog elf jaar lank.

Die vrou los toe my pa en hy besluit hy is moeg vir die groot huis en bou vir hom ‘n nuwe, effe kleiner, een. Ek en Manlief bly toe op daardie stadium op die buurplaas in ‘n eine-kleine huisie en dis hoe ons toe in Ouma en Oupa se huis beland.

Maar Saterdag, toe ek nou so staan en skrop aan daai wondergomvetkolle begin my bloed te kook, sommer behoorlik. Wie het die mense gedink is hulle? Daar is seker goeie en edele redes waarom hulle ons pad moes kruis maar hoe meer ek daaraan dink was dit werklik nie veel tot my voordeel nie maar eerder tot my frustrasie. Wie het hulle die reg gegee om my huis so te bemors en dit net so te los vir my om skoon te maak? Ek weet hulle het al vier jaar terug uit ons lewens uit verdwyn en ek is nie trots daarop dat dit my vier jaar gevat het om daai kolle af te was nie, maar ek het dit darem nou ten einde laaste gedoen. Ek het hulle bestaan nou finaal uit my lewe uit geskrop. Hulle was nie inherent slegte mense nie maar hulle was nie my dam se eende nie, net nie my tipe nie, ons persoonlikhede was net nie versoenbaar nie.

Maar in ieder geval, ek het darem al die krake in die toilet se mure met polyfilla opgevul en maskeerband geplak waar nodig so vanaand kan ek begin verf. Kan nie wag om te begin nie…

Mooi dag verder

Groetnis

en dis seker hoekom hulle dit ‘n slaggat noem…

Daar slet ek toe mos Saterdagmiddag neer in Pick n Pay se parkeerarea. Pick n Pay was my laaste stop en tot sover, behalwe vir ‘n paar idiote wat nie weet hoe hul flikkerligte en versnellers werk nie, was dit ‘n rustige besoek aan die dorp. Alles op my lysie was mooi doodgetrek en my kattebak was netjies gepak met my aankope.

In ieder geval, ek dink hulle noem ‘n slaggat ‘n slaggat omdat jy met ‘n moerse slag neerslet as jy met jou volgelaaide mandjie-waentjie (daai modelle met die vier wieletjies en die plek vir drie mandjies) deur dit ry en die wieletjies hak vas. Daar lê ek toe, gedrapeer bo-oor die waentjie, die mandjies op die teer en my inkopies wat half-in, half-uit die plastieksakke peul in ‘n een-en-‘n-half meter radius om my. Dankie tog dat ek nie ‘n rok aangehad het nie…

Na ‘n oomblik se geskokte stillê worstel ek toe maar regop en begin my goedjies weer bymekaarskraap. Die enigste mens wat aangebied het om my te help was ‘n man met ‘n baba in die een arm en ‘n handvol vol inkopiesakke in die ander. Ek het hom bedank vir sy aanbod maar het die gebaar baie meer waardeer as wat hy besef het.

Al my inkopies, behalwe die twee liter melk, het wonderbaarlik die ongeluk oorleef. Selfs die meel en custard donuts het ongeskonde gebly. Die melk het in so ‘n dun straaltjie, kompleet soos by ‘n koei wat op skou is en gister laas gemelk is dat die uier mooi rond kan staan, by die sak uitgespuit, al oor my skoene, sover soos ek geloop het na my kar (wat seker nog so sestig meter ver was).

My lyf en my ego stoei nog oor wie die seerste gekry het alhoewel ek dink my lyf gaan wen: 2 potblou knieë, verskeie blou kolletjies op my skene en ‘n lelike bloue hoog teen my bobeen waar ek vermoedelik die handvatsel getref het met die vooroortuimel.

Geniet die Maandag!

Groetnis

Nee, ek gaan nie my hare kleur nie

Jy is nege en twintig jaar oud. Gelukkig getroud, genade, oor ses maande vier julle jul sewende huweliksherdenking. Julle bly in ‘n mooi huis, op ‘n plaas, lekker op die platteland. Jy het ‘n goeie werk, nie te stresvol nie, nie te vaal nie.  Alles mooi gemiddeld. Behalwe vir die twee en ‘n half kinders, daar is julle nou nog nie. Dan, op ‘n lui Saterdagmiddag wil jou sussie jou hare vleg en sy tel nie een nie, ook nie twee nie, maar vier grys hare op jou kop. Jy het nie ‘n probleem met die grys nie, jy is gek daaroor. Maar jy besef dat jy in vlees beslis nie meer negentien is nie. Nou hoop jy maar jy raak ten minste mooi grys. Miskien ‘n silwer vixen of miskien so spierwitgrys soos jou Ouma. Ag en as jy nou uitdraai soos een van daai potjies gemengde peperkorrels dan is dit ook maar oraait so. Ten minste is jou humorsin nog gesond (alhoewel soms vreemd en verdag) en ten minste hang die boobs nog nie…

Wanneer sensasie en navorsing nie bedmaats is nie – Deel 1

“Afrikanervroue is van toentertyd getrou aan hul mans”

RSG se luisteraarskommentare het vanoggend behoorlik, maar nie rerig bekoorlik, gegons oor die getrouheid van die Afrikanervrou deur die jare. RSG het mos elke weeksoggend ‘n luisteraarsvraag en Prof. Jaco Greeff en Christoff Erasmus se navorsing was vanoggend die onderwerp van bespreking. (Elsabé Brits se onderstaande artikel oor die navorsing het Vrydag hier by Netwerk24.com verskyn.)

Afrikanervroue ‘getrou aan mans’

Deur Elsabé Brits

Vrydag 23 Oktober 2015

KAAPSTAD. – Afrikanervroue is van toentertyd getrou aan hul mans.

Dít kan gesien word in ’n genetiese studie waarin daar gekyk is na 23 algemene familiename van Afrikaners wat al die afgelope 330 jaar in die land bly.

Prof. Jaco Greeff, genetikus aan die Universiteit van Pretoria, en ’n doktorale student, Christoff Erasmus, het dié navorsing gedoen wat onlangs in die vaktydskrif Heredity gepubliseer is.

’n Man se Y-chromosoom word onveranderd na sy seun oorgedra (nie na die dogters nie), net soos ’n familienaam. Indien ’n seun dus sy pa se biologiese kind is, sal die genetiese merkers van herkoms op dié chromosoom dieselfde wees. Dit kan ook terug in tyd nagespoor word.

“Deur die variasie op die Y-chromosoom te vergelyk met die vanne kan ons vasstel hoe kuis van ons voorouers was – in dié geval die moeders,” het Greeff gesê.

Hulle het 1 273 geboortes nagegaan, en dus die vaderskap getoets deur na die Y-chromosoom te kyk, die afgelope 330 jaar. Dit is met 23 bekende Afrikaanse vanne gedoen.

Dié mense se oorspronklike herkoms was van Duitsland (agt vanne is getoets), Frankryk (vyf vanne), Holland (nege vanne) en een uit Skandinawië.

Die resultate was onverwags. Daar was net 11 gevalle uit die 1 273 waar die pa nie die biologiese ouer van die seun was nie. “Natuurlik was daar hier en daar klein verskille weens mutasies, maar dit beteken daar was minder as 1% (0,9%) gevalle waar die ma die pa moes verkul het deur ’n kind by iemand anders te verwek.

“Dit is baie laag vir ’n era waar daar nie voorbehoedmiddels was nie,” het hy bygevoeg.

Die families wat getoets is, het vrywillig DNS-monsters verskaf. Die kriteria was dat die families wortels het wat ver terugstrek en dat daar lewende, manlike nasate moes wees.

Greeff het gesê dit is moontlik dat die mans wel meer seksmaats gehad met, maar dit was nie die geval met die getroude vroue nie.

Bron: http://www.netwerk24.com/nuus/2015-10-23-afrikanervroue-getrou-aan-mans

Baie interessante navorsing inderdaad maar ek het so ‘n vae gevoel gekry dat die beriggewing daaroor die resultate so ‘n bietjie in die steek gelaat het. Ek het half die idee gekry dat die luisteraars die navorsing as twak en vergesog afmaak. Een luisteraar het selfs gesê dat hy of sy nie kan verstaan waarom tyd en geld gemors word op sulke niksseggende navorsing nie. Ek dink nie die navorsing is niksseggend nie en dit sal interessant wees om te weet wat die volle implikasie van die resultate sal wees. Dalk was die beriggewing net ‘n bietjie te sensasioneel? Navorsing is immers ‘n moeilike besigheid en die interpretasie en weergee van resultate is nog moeiliker.

Ek trek nie die inbors en die goeie deugde van die die Afrikanervrou in twyfel nie. Heel moontlik was hulle baie getrou aan hul mans, maar ons sal mos nou nie weet wat deur die loop van drie eeue als onder die lakens gebeur het nie. My laken, jou laken, die donker is geduldig en buite brul die bos… Die artikel sê wel “daar was minder as 1% (0,9%) gevalle waar die ma die pa moes verkul het deur ’n kind by iemand anders te verwek.” As ek die sin reg interpreteer kon die ma tog wel die pa verkul het, die verwekking van ‘n kind is nie ‘n voorvereiste om die kat-in-die-donker-knyp offisieël te maak nie.

My eerste reaksie op die navorsing was dat die vroue, weliswaar die mans ook (it takes two to tango…) maar net baie versigtig was om nie swanger te maak of swanger te raak voor en na afloop van hul buitemuurse en buitehuwelikse aktiwiteit nie. Vir die grootste deel van die 300 jaar was voorbehoedmiddels nie-bestaande maar dit het beslis nie paartjies gekeer om kreatief te wees met die verhoed en bestuur van ongewenste ouerskap nie.

Maar wat sê die navorsingsresultate nog alles? Wat was die hipotese en kon hul dit bevestig of is dit weerlê? Ek het die oorspronlike publikasie gaan soek en aangevra. So nou wag ons om te sien watse gevolgtrekkings nog hieruit spruit.

Groetnis

Wysiging: ‘n Goeie vriend het vir my die skakel gestuur na die berig op News24.com.

Afrikaner women ‘more faithful’ over 300 years – study

New research into 23 common Afrikaans surnames has found that the incidence of “false fatherhoods” was lower than 1% over the last 300 years, according to a report by Radio Sonder Grendse (sic).

This means that Afrikaner women very rarely committed adultery, or passed off the children born out of those affairs as their husbands’.

Professor Jaco Greeff and Christoff Erasmus from the University of Pretoria published their findings in May.

They were assisted by a team of genealogists to find living descendants of these 23 families and 199 volunteers participated in the study.

The study looked at the Y chromosomes, which only men have, as a large part of the Y chromosome is not mixed with a mother’s DNA, and are transferred from father to son like surnames.

They looked at 1 273 conceptions over the 300 years.

Of all the tests conducted, they found only 11 cases where a Y chromosome did not fit the specific gene.

Greeff says that nowadays the “fruit” of illegitimate relationships can be easily concealed thanks to contraceptives.

He says their findings were surprisingly low, compared to other data, especially from Europe.

“Why are women so faithful? People wonder whether the explicit prohibition of adultery in the 10 commandments may be the main driving force behind Afrikaner women’s faithfulness,” they write in their report on the findings.

“It is also possible that people are not as horny as our sensation-driven society would suggest.

“Although this data confirms married women’s chastity, it does not say a lot about men’s. At least the research shows that Afrikaners can trust their genealogical heritage.”

Previous research by Greeff however does highlight one incident of adultery that fundamentally changed how the lineage of the country’s Bothas is seen.

In 1683, Maria Kickers and Jan Cornelitz got married in Cape Town. She claimed her husband was impotent and had had a long term relationship with Frederik Botha, who fathered some of her children. She also had an affair with Ferdinandus Appel.

All her children went under the name Botha, however, the research showed that at least 38 000 of the more than 76 000 living Bothas actually descended from Appel.

These “Bothas”  that descended from Appel included the first prime minister of the Union of South Africa Louis Botha and apartheid era prime minister and later president PW Botha.

Die News24.com berig het aansienlik meer om die lyf en is bietjie meer oop vir ander moontlikhede en verduidelikings. Die feit dat hulle ‘n voorbeeld ingesluit het was ook nogal gaaf, net ter wille van diegene wat nie die toepaslikheidskloutjie by die oor kan kry nie…

Vergeet om my te vergeet

 

Dit is ons manier van onthou. Daar is nie fotos om te herinner nie, net patologiese verslae iewers in ‘n laai of ‘n leêr. Selfs die letsels op my buik is al bykans onsigbaar.

Ja die seer in ons harte herinner ons ook maar ons glo dat die seer eendag sal weggaan en dan sal hierdie ons onthou wees. Al was die lewetjie elke keer van korte duur was dit genoeg tyd om drome te droom, om iets te begin voel. Genoeg tyd om jou hart te laat breek as hulle eers na die sonarskerm staar en dan jou hand ‘n simpatieke drukkie gee.

Groetnis

O Moedertaal, soetste taal, kaalvoettaal, lekkerste taal

Herriemerrie het so ‘n tydjie terug geskryf oor die gebruik van ons mooie taal. Toe ek gister rondblaai op Netwerk24.com loop ek hierdie skrywe van Riaan Grobler raak en reken toe dat dit mooi by die gesprek inpas.

Die top-10 taalfoute wat Afrikaanssprekendes (onbewustelik) maak

Deur Riaan Grobler

Woensdag 30 September 2015

“Afrikaans is ’n kaalvoettaal,” het ek Koos Kombuis al hoor sê, en hy is reg – dit is ’n jong taal wat in sy verskillende dialekte en uitsprake ’n besondere bekoring het. Vir my, as ‘n teksredakteur en taalpraktisyn, is dit ’n aardigheid om veral op sosiale media te sien hoe mense die taal besig. Daar is verskeie taalgroepe op Facebook, byvoorbeeld, waar interessanthede soos argaïese uitdrukkings en idiome bespreek word.

Maar die ander ding wat ek ook gereeld opmerk is die ooglopende taalfoute wat Afrikaanssprekendes gereeld en konsekwent maak, amper asof almal iewers saam die verkeerde dinge geleer is en nog nooit afgeleer het nie.

Hier is ’n lys van 10 algemene taalfoute wat mense nie weet hulle maak nie. Toets jouself!

  1. Wie / Wat

Die neiging om te wil skryf: “Die man/vrou/persoon wie daar sit…” is verkeerd. Die woord wat word ten opsigte van mense, diere en dinge gebruik.

  1. Nogals

Nogals is nogals ’n oulike woord! Maar dit is verkeerd. Daar bestaan nie ’n woord soos nogals nie. Die AWS erken wel nogal, sonder die -s.

  1. Huistoe

Om huis toe, winkel toe, kerk toe of biblioteek toe te gaan, is altyd twee woorde. Die fout sluip veral om die een of ander rede in by “huistoe”, maar dit is verkeerd!

  1. Oppad

Dieselfde geld vir op pad, wat altyd twee woorde is.

  1. Vir seker / Verseker

Die neiging is om verseker te gebruik wanneer jy wil sê “Beslis!”, maar dit is nie reg nie. Jy verseker jou motor teen diefstal, of jou huis teen brand. Jy kan ook iemandverseker dat jy die waarheid praat (“Ek verseker jou dis wat gebeur het”). Maar vir iets wat beslis so is, is dit vir seker. Jy sal hierdie reël nou onthou – vir seker!

  1. Waardeur / Waardeer

Die gat in die grot waardeur hulle moes kruip, was baie nou. Ek waardeer jou vriendskap!

  1. Minlik / Nimlik

Hierdie twee word gereeld met mekaar verwar, maar dis eintlik maklik. Minlikbeteken “geliefd” terwyl nimlik “die einste een” beteken.

  1. Sin / s’n

’n Sin is die ding wat jy skryf, wat uit woorde bestaan, of betekenis (dit maak nousin, nè?), terwyl s’n gebruik word om aan te dui dat iets aan iemand behoort: “Daai duur kar is my baas s’n.”

  1. Saam met

Om die een of ander rede het “met” heeltemal verlore geraak en skryf mense goed soos “Ek het saam my liefie gaan swem” of “Kom gou saam my”. Saam gaan altyd saam met “met”, soos koffie saam MET beskuit.

  1. Huidiglik

Huidiglik is vir seker een van die gruwelikste woorde wat nie bestaan nie. Want ja, daar is nie ’n erkende woord of verbuiging soos huidiglik in enige gesaghebbende bron oor die Afrikaanse taal nie. So, wat gebruik ’n mens dan eerder? Die korter en gebruiksvriendelike “tans” sal jou vernedering spaar.

Bronne: Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, Skryf Afrikaans van A tot Z, Pharos- aanlyn woordeboek. 

http://www.netwerk24.com/stemme/menings/2015-09-30-die-top-10-taalfoute-wat-afrikaanssprekendes-onbewustelik-maak

Voeg nou hierby die verwarring tussen verveeld en vervelig, asook die konsternasie oor ‘warm,’ nie ‘warem’ nie, maar wel ‘darem’ en nie ‘darm’ nie… Om maar net twee voorbeelde te noem.

Sosiale media is eintlik ‘n ideale platform om ons taal en die korrekte gebruik daarvan te bevorder, maar dit voel soms of die omgekeerde waar is. Mense leer immers makliker slegte gewoontes as goeie gewoontes bymekaar aan. Ja, dit is ‘n mynveld van reëls, regulasies en gewoontes, riglyne wat werklik noodsaaklik is en waarmee ek saamstem, maar sommige van die puriste ruk soms die dam onder die eend uit. Ons taal ontwikkel konstant en ons moet waak daarteen om nie net blindelings vas te skop teen verandering en verbuiging van reëls nie want dan gaan ons groei en vernuwing verhinder en die risiko loop om ander liefhebbers van die Afrikaanse taal te vervreem. As almal net die basiese beginsels, soos Riaan se voorbeelde hierbo, kan toepas, sal dinge al baie beter lyk en klink.

Maar terwyl ons nou besig met die onderwerp van moets en moenies is: Ek gee nie om of vreeslik en verskriklik nou negatiewe woorde is nie. As iets vir my vreeslik of verskriklik lekker was, dan was dit vir my dônners lekker. En nee, ek weier ook om ‘lekker’ net te gebruik om kos te beskryf. “My stewels sit gemaklik” kan mos net so wel “my stewels sit lekker” wees. Of “hy vry aangenaam” kan mos veel eerder “hy vry lekker” wees. ‘n ‘Lekker’ vryer klink mos baie meer opwindend as ‘n ‘aangename’ vryer. Lekker is net ‘n vinger lank, ja, maar nie almal se hande is ewe groot nie…

Groetnis

NS: as ek enige spel- en taalfoute gemaak het, sê ek by voorbaat ekskuus! Mens lees mos later jou eie foute mis…

Wysiging: Vandag (8 Oktober 2015) het daar nog ‘n aflewering by Netwerk24.com verskyn deur Riaan Grobler oor taalfoute. Lees dit hier.

Nog ‘n wysiging: Lees Riaan se Netwerk24.com (15 Oktober 2015) artikel oor anglisismes hier.

En nog ‘n wysiging: Hier is nog ‘n paar foute wat ons onbewustelik maak volgens Riaan (22 Oktober 2015)

En nog enetjie: Riaan oor homofone (30 Oktober 2015)

Jippee, nog enetjie: Riaan se alternatiewe vir ‘n paar engelse woorde (6 November 2015)

En die #taalgeneraal slaan weer toe: Bevange sosiolekke (12 November 2015)

Lees hier wat die #taalgeneraal te sê het oor transliterasies: Poetin vs Putin… (20 November 2015)

Die #taalgeneraal en nog anglisismes (14 Januarie 2016)

Die #taalgeneraal en vas of los skryf (29 Januarie 2016)