Rooifluweelkoek – ‘n Oulap se rooi maak mooi

Rooifluweelkoek

(Die resep het in ‘n Landbouweekblad verskyn – dankie Arina du Plessis)

625 ml (2½ k) koekmeel

375 ml (1½ k) suiker

5 ml (1 t) koeksoda

5 ml (1 t) kakao

5 ml (1 t) sout

250 ml (1 k) karringmelk

2 eiers, by kamertemperatuur

375 ml (1½ k) olie

5 ml (1 t) witasyn

25 ml (5 t) rooi voedselkleursel (as jy Robertson se rooi gebruik kan jy maar die hele botteljie ingooi)

5 ml (1 t) vanieljegeursel
Roomkaasversiersel

1 houer (250 g) ferm roomkaas

250 g sagte botter

500 ml (2 k) versiersuiker

5 ml (1 t) vanieljegeursel

Koek

1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Berei 3 koekpanne van 18 cm voor. Sif meel, suiker, koeksoda, kakao en sout saam in ’n groot mengbak.
2. Plaas karringmelk, eiers, olie, asyn, kleursel en geursel in ’n aparte mengbak.
3. Meng die meelmengsel by die karringmelkmengsel. Verdeel die beslag tussen die voorbereide panne en bak vir 35-40 minute. Versier met die roomkaasversiersel en organiese roosblare.

Versiersel

1. Plaas roomkaas en botter in die mengbak van ’n elektriese menger en klits tot lig en donsig.
2. Voeg die versiersuiker by en klits tot gemeng. Voeg die vanieljegeursel by en klits tot net gemeng. Verkoel vir 20 minute voor dit gebruik word.

 

Ek kry toe ‘n bevlieging vir modderkoekies ook. Kan egter nie onthou waar ek die resep afgeskryf het nie…

Modderkoekies

125g margarien

500ml suiker

125ml kakao

125ml melk

750ml oats

250ml klapper

2,5ml vaniielje

 

Metode

Meng die 1ste vier bestanddele en kook vir 5 minute.

Meng die res van die bestanddele goed in.

Skep lepelsvol op bakplaat (of in trufflepapiertjies) en laat afkoel.

Kombuistee vir my Sussie

My sussie trou volgende jaar Maartmaand, ‘n dag voor haar 24ste verjaardag. Hulle bly baie baie ver van ons af (Centurion) en het so vir week kom kuier. Hierdie week is die laaste keer wat ons haar sien voordat hulle Maart afkom vir hul troue hier in ons kontrei. Ons reel toe vir haar ‘n kombuistee vir gister, haar verloofde se verjaardag (‘n uitstekende dekmantel om die koek-en-tee te verdoesel).

Ons het familie en vriende genooi en lekker saam teepartyjie gehou – geen snaakse speletjies en goeters nie, net lekker gesels en opvang en ooo en aaa.

  

Vir elk van die gaste is gevra om eerder ‘n geldjie of ‘n koopbewys te gee as geskenk (hul reis per vliegtuig, spasie is min) en daarmee saam ‘n resep vir haar te bring, asook ‘n notatjie wat ons in ‘n boksie gaan verseël en wat sy die oggend van haar troudag moet oopmaak en lees. Ons het vir haar ‘n pragtige-prettige joernaal gekoop en elkeen van die gaste het daarin ook ‘n boodskappie of ‘n wenk geskryf en dan kan sy sommer ook die reseppies daarin plak.

Ek het spesiaal vir haar ‘n rooifluweelkoek gebak, sal hom nou nou post. Die resep kom uit die landbouweekblad uit en is ‘n plesier om te bak.

Groetnis

Die rondomtaliehasie-wildspastei se aanwysings (kan dit nie eintlik ‘n resep noem nie…)

Eish, ek maak nie eintlik kos volgens ‘n resep nie, gooi maar so in op gevoel…

 

Leiding kan ek jou wel gee:

Kook fynvleis van die snitte wat oorgebly het nadat die biltonge en fillets uitgehaal is. Gebruik sout en peper, naeltjies, pimento, knippie sterk kerrie, koljander, heelkorrel mosterd, rooiwyn en asyn om die fynvleis te geur. Die fynvleis vries baie goed, so jy kan baie maak, wegsit en stuk-stuk gebruik.

 

Wanneer jy die fynvleis wil gebruik vir ‘n pastei, kerf ‘n groot ui of ‘n paar preie fyn en soteer tot sag in bietjie olyfolie en botter. Voeg ‘n blikkie tamatiepuree by en braai tot die geur lekker losgekom het. Plaas nou die gaar fynvleis in die kastrol, voeg ‘n blikkie gekapte tamaties in, roer goed en laat toe om deurwarm te raak. As die spulletjie lekker begin prut, kan jy sampioene byvoeg as jy daarvan hou. Maak ‘n bietjie bisto en maizena aan met water, voeg by en laat deurkook. Pasop nou vir vasbrand.

 

Al wat nou oorbly is om die vulsel op die pasteideeg te kry (groot of klein pasteie, ewe lekker) en ‘n degie bo-oor te sit. Skilferkors en broskors werk ewe goed. Verf die deeg mildelik met geklitste eier en bak dan by 180*C vir 30-40 minute (vir ‘n groot pastei) of tot goudbruin.

 

Ek maak gewoonlik sommer ‘n lekker sampioensous-gravy saam met die pastei, die tweetjies komplimenteer mekaar goed.

 

Groetnis

Rondomtalie-hasie wildspastei

Goeiedag almal!

Ek wil eintlik net gou ‘brag’ oor my rondomtalie-hasie wildspastei, ook bekend as ‘n koedoe en rooibok pastei, wat ek Vrydagaand vir my mense opgedis het. Die skilferkors het ek nie self gemaak nie, daarvoor is Today daar! Saam met die pastei was daar patat, botterskorsie, kapokaartappels en ‘n krakerige groenslaai op die spyskaart, mmm….

 

Indien jy bekommerd was oor die hasie se rol in die pastei:

 

 

Biefstuk, avokado en sampioenslaai

Manlief bel gisteroggend met die nuus dat die besigheidsbraai waarheen ons genooi is, uitgedraai het as ‘n braai vir die manne. Ai, smag ek nou nie al lankal vir ‘n stil aandjie by die huis nie:

“Is okay Lovey, geniet dit! Wat moet jy saamvat?”

So deur die loop van die dag begin ek aandete beplan (soos ek maar elke dag maak, behalwe dat ek gister toe nou net my eie smake hoef te bevredig!) Die volgende dis maak toe sy debuut in my kombuis:

Biefstuk, avokado en sampioenslaai

[Een of twee porsies, afhangende van of jy brood ook gaan bedien]

Vir die biefstuk:

250g biefstuk

Sout en peper na smaak

‘n Skeutjie olyfolie

‘n Skeutjie suurlemoensap

Vir die sampioene:

‘n halwe bakkie (‘punnet’) sampioene van jou keuse, opgekerf

Een prei, in dun ringe gesny

Klontjie botter of margerien

Titseltjie sout en ‘n paar draaie growwe swartpeper

Vir die avokado:

een ryp avokado

sout en peper na smaak

‘n Skeutjie suurlemoensap

Blaarslaai of slaaiblare

‘n opgehoopte lepel creme fraiche

Opsioneel:

Komkommer, in blokkies gesny

Kersietamaties, gehalveer

Fetakaas

Hoe maak mens? So maak mens!

Rangskik die blare en die opsionele bestandele op ‘n bord.

Vryf die biefstuk met die sout, peper, suurlemoensap en olyfolie in en laat staan totdat jy die sampioene, preie en botter in ‘n ander pan aan die gang het.

Braai die biefstuk in ‘n swaarboompan of ‘n riffelpan soos jy van hom (ek het die 2.5cm dik biefstuk wat ek gehad het, vir 7 minute aan ‘n kant gebraai en hy was nog sappig en ligpienk). Roer tussendeur die sampioene en preie en voeg hul sout en peper by. Die sampioene en preie moet sag word maar nie brand nie – die preie sal bitter word. Wanneer jou biefstuk reg is, verwyder dit van die pan en laat rus eenkant.

Nou trek jy daai lieflike avokado nader, verwyder die pit, verwyder die skil en sny in skuifies. Bedruip mildelik met suurlemoensap en bestrooi dan met sout en peper.

Die spulletjie moet nou bymekaarkom: skep die sampioenmengsel bo-op die blare. Sny die biefstuk in dun skywe en plaas dit dan bo-oor die sampioene en preie. Die avokado skywe word dan bo-op die biefstuk geplaas en die hompie creme fraiche bo-op dit. Viola!

Bedien met ‘n lekker morsige brood (‘n brood wat lekker mors) of sommer netso. ‘n Lekker bottel rooiwyn daarmeesaam sal ook goed afgaan. Haai, lus ek nou vir nog!

Groetnis

Kom ons hou nabetragting: Valentynsdag 2012

“Dankie tog, dis verby..” het deur baie mense se gedagtes gegaan toe hulle vanoggend wakker skrik met ‘n ongeskikte wekker se geraas in die ore. Dis die 15de Februarie en oor ‘n dag of twee sal al die oortollige valentyns-geïnspireerde verbruikersartikels van die rakke begin verdwyn of op ‘n tafel erêns in die winkel gestapel word met ‘n groot helder bord wat sê “Priced to go” of “Sale!” of iets in der voege. Ek is dankbaar dis verby, maar ek moet bieg, ek het ‘n lekker Valentynsdag gehad. Oor die details gaan ek nou nie aangaan en aangaan nie maar ek wil julle eintlik vertel van die ete wat ons gehad het – ek dink ek het myself so ‘n bietjie oortref…

Gister was die 5de Valentynsdag wat ek en Manlief saam gehad het, ons 3de as getroudes. Hierdie jaar, het ek vir myself gesê, gaan ons nie gekoopte kos eet of in ‘n fênsie restaurant met beursie-breek pryse gaan eet nie, ek gaan self ‘n spyskaart opstel en alles met liefde voorberei. Ek skraap toe bietjie koskennis, ‘n koskennis en ‘n paar boekerasies bymekaar, krap bietjie kop, kry hongerpyne en kom toe met die volgende vorendag:

Voorgereg

Guitige Geroosterde Pampoensop

Hoofgereg

Smeulende Springbokfillet met salieroomsous

Op

Koketterige kapokaartappels met preie

Nagereg

Gulhartige Gebakte sjokoladepoeding

Koffie

Mense, as lekker eet ‘n kwaal was dan moes ek en Manlief liefs vanoggend in die bed gebly het…

Na aanleiding van die onlangse debat oor resepte bedank ek leners en delers van die resepte:

  • Antie Ina Paarman vir die pampoensop (ek het hom effentjies aangepas)
  • Landbouweekblad vir die -fillet met salieroomsous (die resep is eintlik vir volstruisfillet bedoel maar dis te duur – R150 ‘n kilo, aikôna!)
  • My niggie, Riana, vir die kapokaartappels met preie (kan nie wag vir nog tips nie Nig…)
  • Onse ou staatmaker, die “Kook en Geniet” vir die sjokoladepoeding (het gisteraand uitgevind dat die beslag genoeg is vir 4 groot ramekins, bak net vir so 15-20min, anders raak die sous weg!)

Groetnis