Die meisie in die spinnerak

David Lagercrantz is nie Stieg Larsson nie, maar hy is ook nie sleg nie.

Wie is David Lagercrantz en Stieg Larsson? Beide is Sweedse skrywers van misdaadfiksie en beide het bygedra tot die Millenium reeks. Die Millennium reeks het begin as die Millenium-trilogie (“The girl with the dragon tattoo,” “The girl who played with fire,” en “The girl who kicked the hornets’ nest”), geskryf deur Stieg Larsson. Larsson sterf egter aan ‘n hartaanval voor die trilogie gepubliseer kan word. Volgens sy lewensmaat het hy reeds ‘n raamwerk uiteengesit vir die vierde boek maar sy weier om dit met sy uitgewer te deel.

David Lagercrantz word toe genader om die reeks oor te vat en die vierde boek, naamlik “The girl in the spider’s web” word in 2015 gepubliseer. Dieselfde karakters, dieselfde agtergrond en dieselfde storiewêreld. Maar natuurlik met sy eie persoonlike stempel daarop.

In kort fokus die Millennium reeks op die avonture (nie heeltemal die regte woord nie, die Engelse ‘exploits‘ sou beter werk) van twee Swede, Lisbeth Salander en Mikael Blomkwist, asook ‘n verskeidenheid gure en ongure karakters wat hul paaie kruis. Lisbeth het ‘n moeilike kinderlewe gehad en sy werk stadig maar seker aan ‘n vergeldingsplan, gemik op die man wat die wortel van al haar kwaad is. Bygesê, sy verafsku alle mans wat vroue haat en mishandel en sy dink baie kreatiewe maniere uit om hulle te laat boet daarvoor. Mikael Blomkwist is ‘n gerekende joernalis wat nie sukkel om vrouens te verlei nie. Lisbeth en Mikael se paaie kruis wanneer hy haar vaardighede as kuberkraker inspan om ‘n vermiste persoon wat reeds dekades lank vermis word, op te spoor. Wanneer die twee hul uitsonderlike vermoëns om inligting uit te snuffel bymekaarsit, spat die vonke en ontdek hul baie meer as waarop hul gereken het. Deur die loop van die eerste drie boeke beweeg Lisbeth, met die hulp van Mikael en die handjie vol mense wat haar goedgesind is, al nader aan haar einddoel, onortodokse metodes en al.

Vir die grootste deel van die boek het hy hom uiters goed van sy taak gekwyt. Lisbeth was nogsteeds Lisbeth, bedonderd en moeilik, en Mikael was nogsteeds Mikael, ewig opsoek na die storie agter die storie. Maar Lagerkrantz was soms net ‘n bietjie te sag en romanties in vergeleke met die eerste 3 boeke uit Larsson se pen. Die slotparagrawe, waar Lisbeth vir Mikael gaan opsoek was ook heeltemal teen Lisbeth se manier van doen en praat. Ek hou van ‘n happy ending maar daai een val nou nie so lekker op die verbeelding nie. Ook sy gewoonte om hoofstukke af te sluit met ‘n sin of twee wat soos goedkoop ‘click-bait‘ lees het my nie aangestaan nie. (Click-bait is ‘n verskynsel wat deesdae orals op-pop, veral op sosiale media en nuuswebwerwe, waar die opskrif so geskryf word dat dit absoluut niks weggee van die artikel nie en jou dus dwing om op die skakel te kliek as jy meer wil weet. Meeste van die tyd is dit dan ‘n niksseggende artikel wat eintlik nie eens internetspasie werd is nie.)

Die storielyn was ‘n behoorlike wilde rit gewees, vol verrassings en eintlik heel bevredigend. Sommige goedjies was dalk net bietjie te gerieflik ter wille van die storie (byvoorbeeld die outistiese seun se wye verskeidenheid talente) maar ons sal nou nie hare kloof daaroor nie, enige iets is immers moontlik.

Sommige bronne beskryf die boek as “fan-fiction” (fiksie gegrond op die karakters maar geskryf deur ‘n aanhanger) en dalk moet ‘n mens dit in daardie lig sien. Dit kan ook wees dat sekere nuanses verander het met die vertaling van die oorspronklike Sweeds na Engels. Lagercrantz het my oortuig en ek is tevrede maar ek het so ‘n klein bietjie meer verwag wat die konstantheid van die karakters betref. Ja, daar was karakter-groei gewees en ek misken dit nie maar ‘n jakkals verander van haar maar nie van snaar nie.

All-in-all bly die Millennium-reeks misdaadfiksie wat die moeite werd is om te lees en jouself in te verloor. “The girl in the spider’s web” doen nie afbreek aan die reeks nie, kom ons hoop daar is ‘n vyfde boek oppad.

Advertisements

16 thoughts on “Die meisie in die spinnerak

  1. Dankie hiervoor.Ek het die trilogie gelees en dit hoort interessant te wees om te sien wat die volgende skrywer gemaak het.Dis seker maar moeilik om in iemand anders se spore te volg en dieselfde te dink.

  2. Lisbeth het ‘n moeilike kinderlewe gehad – dit is n understatement, die arme kind/vrou!!! Sy het beslis in haar karakter gegroei en so ook Mikael Blomkwist.
    Ek het dit vreeslik geniet!
    Behalwe, dat ek bietjie verneuk het en nie die boeke gelees het nie maar die oorspronklike flieks in Sweeds gekyk het – dit was n lekker nat, renerige Sondag.
    Ek lig my hoe vir Lisbeth, in my oe kon sy hulle selfs nog meer “gasgegee” het en snog slegter en erger gemartel het.

    • Ek het ook een of twee van die flieks in Sweeds gekyk, was baie goed gewees. Ek het die Amerikaanse weergawe ook gekyk en was baie jammer om te hoor dat hulle nie gaan voortgaan met die reeks nie, alhoewel daar nou sprake is dat hul die vierde boek gaan verfilm, maar ongelukkig nie met Daniel Craig en Rooney Mara nie.

  3. Ek het ongelukkig net die eerste fliek in die reeks gesien en glad nie die boeke gelees nie. Sal graag wil eendag. Dankie vir jou sinopsis van die boeke. Baie goed geskkryf

  4. So dis ‘n erkende verskynsel, daardie lusmaker-opskrifte! Ek weet voor my siel dis nonsens en tydmors, en tog kan ek dikwels net nie die nuuskierigheid bedwing nie en klik links en regs…

Lewer kommentaar op perdebytjie Kanselleer die reaksie

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s