Skelmverhoudings, skelmpies en wegsteekgoeters

Belangrik: Ek is baie gelukkig getroud, maak geen fout nie. Ek het ook nog nooit vir Manlief verneuk nie, het ook nie sulke planne nie. Van Manlief kan ek dieselfde sê. Ek soek ook nie verskonings of skuiwergate om iets te regverdig nie. Die gedagte vir hierdie skryfsel lê al lankal in my broeksak en dit was nou tyd om dit te waag. Hierdie is slegs my opinie – iets waarop ons almal geregtig is.

My ouers is na ‘n huwelik van dertien jaar geskei, as gevolg van my ma wat ‘n buite-egtelike verhouding aangeknoop het met ‘n ander man. Haar verweer was dat my pa te min aandag gegee het. Ek was nege jaar oud. My ouers se egskeidings was nie ‘n uitermate morsige affêre gewees nie maar dit het nogtans sigbare letsels op ons gesin se harte en verstande gemaak.

Dit sou dus nie vreemd wees dat ek ‘n beleid van geen-genade ontwikkel het rakende mense wat hul maats/gades verneuk nie. Wat my betref het was dit onverskoonbaar en onvergeeflik. Dit het my verstand te bowe gegaan – hoe kan jy iemand wat jou vertrou en lief het so verraai?

Maar so gaan die jare verby en ek word ouer en die lewe timmer hier en daar weg aan my vooropgestelde idees.

My gevoel jeens ander mans, sedert ek en Manlief mekaar gevind het, was nog altyd dat ek van hulle aantreklik vind en dat ‘n hele paar van hulle vir my die ‘look’ het, maar dat ek nie kans sien om ‘n ander man se geite en reuke en gewoontes van voor af the leer ken nie. En gewoond te moet raak aan hoe hulle proe en voel. En om bloot net ‘n ander man in my baie persoonlike spasie toe te laat. Dit klink na moeite en ek hou van wat ek het.

Die laaste ruk het ek baie getob oor mense wat skelmpies aanhou en skelmverhoudings aanknoop. Maar waar ek gewoonlik teen my neus af na sulke mense sou kyk het ek, tot my stomme verbasing, eerder ‘n gevoel van empatie met hul ontwikkel. Hoe meer ek oor die saak gedink het en met myself daaroor geredeneer het, ten spyte van die morele kwessies daaraan verbonde en die Bybelse opinie daaroor, hoe meer het ek besef dat alles nie altyd net swart en wit is nie. Ek keur dit steeds nie goed nie maar ek voel intens jammer vir mense wat hulle in sulke situasies bevind (weens sy of haar eie toedoen, ek weet). Die ding wat my egter die meeste bekommer het en laat wonder het, is die gebrek aan ondersteuningstelsel wat so ‘n persoon het (weens sy of haar eie toedoen, ek weet, ek weet) – dis moeilik genoeg om ‘n normale verhouding se oppe en affe te onderhou, wat nog te sê van ‘n skelmverhouding s’n..

  1. Hoe kry ‘n mens dit reg om so iets weg te steek vir hul lewensmaat/hul families/hul kollegas/hul bure? Of is dit ‘n geval van daar is geen een so blind soos die wat nie wil sien nie? Sou ‘n mens nie elke oulike dingetjie wat jou skelmpie vir jou doen met iemand wou deel nie? Die ander sy van die munt is ook waar: elke keer as hy of sy jou sou omkrap, kwaad maak, of ongelukkig maak, met wie praat jy daaroor? Hoe hanteer ‘n mens hierdie emosies as jy alleen daardeur moet worstel?
  2. Hoe kry ‘n mens die logistiek van so ‘n verhouding onder die knie? Hoe verduidelik jy dit om skielik meer gereeld uitstedig te wees as jy nie normaalweg is nie? Of reise na plekke wat niks met jou werk/persoonlike lewe te make het nie. Hoe knyp jy tyd af daarvoor en hoe hanteer jy dit as planne keer op keer deur die mat val en die moedeloosheid swaar op jou skoot lê?
  3. Hoe hanteer jy die verbrokkeling van ‘n skelmverhouding as jy dit alleen moet doen? Al gaan die verhouding meestal oor die fisiese, kan ‘n mens tog seker nie anders om gevoelens te ontwikkel nie, al sit dit net omgee en vriendskap.

Ek is doodernstig en doodeerlik as ek sê dat ek nie weet hoe mense dit regkry om ‘n skelmpie of ‘n skelmverhouding aan te knoop en te onderhou op hul eie, sonder ‘n ondersteuningstelsel nie. Of is daar iewers iets soos ‘n cheaters anonymous? Ek wil ook nie eens ingaan op die redes waarom mense ‘n skelmpie sou aanhou nie, daar is ‘n magdom daarvan. En of die kool die sous werd is, die sal ek ook nie kan sê nie…

Belangrik: Ek is baie gelukkig getroud, maak geen fout nie. Ek het ook nog nooit vir Manlief verneuk nie, het ook nie sulke planne nie. Van Manlief kan ek dieselfde sê. Ek soek ook nie verskonings of skuiwergate om iets te regverdig nie. Die gedagte vir hierdie skryfsel lê al lankal in my broeksak en dit was nou tyd om dit te waag. Hierdie is slegs my opinie – iets waarop ons almal geregtig is.

Advertisements

9 thoughts on “Skelmverhoudings, skelmpies en wegsteekgoeters

  1. ‘n Mens kies ‘n skelm vehouding( of nie) en dus ook die gepaardgaande geheimhouding(of nie). Soos met die meeste goed in die lewe, moet ‘n mens die gevolge van jou keuses dra.

  2. Die uiteinde van so verhouding sny weerskante toe- almal sal pyn en selfverwyt een of ander stadium ervaar. of haat of eforie .
    Goeie skrywe Dalenatjie

  3. Orange Blue sê:

    My senuwees sal nie hou om twee verhoudings gelyk te balanseer nie. Een is klaar veeleisend genoeg.

  4. Ek hoop dit wat ek hier gaan tik beteken eendag vir iemand iets: Ek het laasjaar my vrou verneuk deur op skype met ‘n ander vrou te gesels. Ja, dit was net gesels maar nogsteeds verkeerd… dit het ek eers later besef. My vrou het uitgevind en ek het “confess”… Ook die geselsies stop gesit. Ongelukkig was die kwaad gedoen. My vrou het April uitgetrek en ek wag op die skeidatum. Ek is lief vir my vrou en het alles gedoen om myself weer te bewys, maar helaas.. sy is leeg. So verloor ek ‘n pragtige en kosbare geskenk. Ek het op die harde manier geleer…. Laat die tog ‘n les wees vir iemand anders… eendag…

    • Mans en vrouens se interpretasie van verneuk verskil bietjie het ek al agtergekom.Ek het eendag die volgende op die radio gehoor en dit het vir my nogals sin gemaak: ‘n Man sal sy vrou makliker vergewe vir ‘n nie fisiese/seksuele skelmverhouding (dus waar daar meer gesels word) en ‘n vrou sal haar man makliker vergewe vir n oorwegend fisiese/seksuele verhouding. Die rede hiervoor is dat mans “bedreig” (ek weet dis ni di regte woord nie) voel deur die seksuele-konneksie wat sy vrou met ‘n ander man kan vorm, terwyl vrouens bedreig voel deur die emosionele-konneksie wat haar man met ‘n ander vrou kan vorm. Ek dink die geheim lê daarin om nie die ander party se interpretasie te misken nie, veral as hul jou konfronteer oor jou gedrag/aandag teenoor iemand van die ander geslag.

  5. Hierts, so loop my Pa draaie met my eie balletjuffrou en my Ma word valer by die dag. Hulle gil en gril vir mekaar, en een oggend pak my Pa sy tassie en waai. Ek was 13 jaar oud. Hectic. Als word my skuld want ek weier om op te hou met ballet. Skielik is ek die ster, juffrou se gunsteling, hoekom dan nie, volgenns my Ma is ek die volgende groot Delillah. En eina, diep letsels, niemand word ontgin nie, my Ma blom in ‘n modebewuste Unisa Student en sy soek Man. Nie sommer enige Man nie, ‘n fensie ene, ‘n beter model as die flop eerste ene. En toe gebeur dit! My Ma, kuier op ons bank met ‘n werkskollega, ‘n diep getroude ene wat vir my Skei Nat gee op skool….ai. My slotsom, niemand is heiliger as die ander ene nie. Almal het ietsie om weg te steek. Geheime kom wel uit. Gee net genoeg tyd. Die kool is nie die sous werd nie…

    • Jy beskryf die situasie so mooi, ten spyte van die erns daarvan kon ek nie help om te glimlag nie!

      Hoe sing Aking nou weer:

      I know your bones are begging to step out of your wardrobe
      couldn’t leave well enough alone
      teach them to dance and let them go…

      Ons het almal ons wegsteekgoedjies so daar is werklik min klipgooiers wat met ‘n vry gemoed kan oordeel..

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s